Skrywer: Dan Roodt
Zuma sal Zimverslag aan SAOG voorlê
Zuma is tans in Windhoek, Namibië om Maandag die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se konferensie vir staatshoofde en regerings by te woon.
“Die inklusiewe regering in Zimbabwe is besig om vordering te maak met die implementering van die globale politieke ooreenkoms deur die bemiddeling van Suid-Afrika,” het departementele woordvoerder Saul Molobi gesê.
“Nietemin gaan die besprekings voort en hopelik sal daar nog positiewe resultate teen die einde van hierdie jaar wees.”
DA-OD geen bedreiging vir ANC
Politieke ontleders sê die samesmelting van die Demokratiese Alliansie en die Onafhanklike Demokrate, sal nie ‘n werklike bedreiging vir die ANC in die 2014 nasionale verkiesing inhou nie.
Die DA en die OD het gister dié samesmelting aangekondig en sê hulle hoop dat die nuwe alliansie sal baat vind by die toenemende ontevredenheid met die ANC se hantering van kwessies soos misdaad, onderwys, gesondheidsorg en elektrisiteitsverskaffing.
‘n Onafhanklike ontleder, Nic Borain sê die ooreenkoms sal nie noodwendig swart steun in die DA versterk nie. Nog ‘n ontleder, Ibrahim Fakir van die Suider-Afrikaanse Verkiesingsinstituut, het sy bedenkinge oor die volhoubaarheid van die ooreenkoms uitgespreek.
Treine in Kaapstad ontwrig
Treindienste in die Kaapse Skiereiland sal vanoggend tydens spitstyd ontwrig word, weens strukturele skade aan treinspore en oorhoofse elektrisiteitskabels by die Koeberg-wisselaar naby Kaapstad.
‘n Woordvoerder vir Metrorail, Riana Scott, sê die skade is gistermiddag aangerig toe ‘n 75-meter staalstruktuur van sowat 75 ton oor drie treinspore geval het. Niemand is in die voorval beseer nie.
Scott sê pendelaars wat gewoonlik afklim by Ysterplaat en die Esplanade-stasies moet tot in Kaapstad ry. Hulle sal dan per bus na die groter Paarden-eiland nywerheidsgebied en Century City vervoer word. ‘n Treindiens sal ook tussen Bellville en Century City beskikbaar wees tot die probleem herstel is.
Die Monte Vista-lyn en die Khayelitsha-lyn sal die ergste geraak word. Die treine behoort weer teen laatmiddag normaal te loop.
Die vakbond Satawu het ‘n dringende vergadering met die minister van Vervoer, S’bu Ndebele, versoek oor die geskil tussen Transnet en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA).
Dit volg nadat die Shosholoza Meyl se langafstanddiens vir ‘n onbepaalde tyd opgeskort is. Volgens Prasa is dit weens bedryfsprobleme met Transnet, wat die diensverskaffer is. Satawu het ‘n vergadering op hoë vlak binne die volgende 48-uur versoek.
Afghanistan: Meer as 2000 dood
‘n Totaal van 2 002 lede van internasionale magte is dood sedert die inval van die land, wat deur Amerika gelei is in 2001.
Vanjaar staan die dodetal al op 434 buitelandse troepe. Die meeste in een jaar was 521, in 2009.
Godsdienstige fundamentalisme sal ons einde beteken
Dit is teleurstellend dat Christo Landman nog nie op Thys Human se navrae gereageer het rakende of Landman en die teokratiese beweging die Kenmekaarkonferensie gekelder het nie. Immers het Human hom (Landman) die kans gegee om te bevestig of Landman, en die teokratiese beweging, van die Kenmekaarkonferensie ontrek het omdat ‘n hulle nie aan gesprekke sal deelneem tensy dit nie vooraf aanvaar word dat ‘n volkstaat ‘n teokrasie sal wees nie. Wat is die doel van gesprekke dan vra ek? Die teokratici en hul mede-fundamentaliste sal ons ondergang beteken. Laat ek verduidelik.
Vele Afrikaner-emigrante wat na die Anglo-Boereoorlog nie onder Britse bewind wou leef nie, het Argentinië toe getrek. Hulle is deur die Argentynse owerhede in Patagonie gevestig. Die Argentyne se idee was dat die Afrikaners hierdie ylbevolkte deel van Argentinië sou bevolk. Ons kan alleen vermoed dat as dit ‘n suksesvolle kultuuroorplanting was, Afrikaans vandag in Patagonië sou gedy. Wie weet, miskien sou selfs meer Afrikaners dan soontoe trek, ook diegene wat in latere jare van die ANC-regime sou vlug. Patagonië sou dalk selfs ‘n soort Afrikaner-Quebec, binne Argentinië, kon word. Dalk sou dit die volkstaat kon word, maar helaas nie.
Die rede is eenvoudig en bekend aan Afrikaners. Kort ná die vestiging van die Afrikaners in Patagonië het kerklike tweespalt uitgebreek. Die gevolg van hierdie godsdienstige onmin was dat daar nooit eenheid in die Argentynse Afrikanergemeenskap ontwikkel het nie. Die onenigheid het daartoe gelei dat hulle as kultuurgemeenskap verbrokkel het. Ironies vir die puriteinse hardkoppiges van ouds is hul verspaansde afstammelinge vandag uitgelewer aan die druk van verkatolisering. Hierdie is ‘n klassieke voorbeeld van hoe Afrikaners se godsdienstige fundamentalisme en gepaardgaande hardkoppigheid tot hul eie ondergang gelei het.
Die probleem met godsdienstige fundamentalisme is dat dit in ‘n stel absolute idees glo. Daar is geen ruimte vir kompromie of buigsaamheid nie, want afwyking van hierdie absolute “waarhede” sal lei daartoe dat die siel in die ewige foltering beland. Dis dus beter om die prys van onwrikbaarheid te betaal as om van die absolute godsdienstige “waarhede” af te sien. Nodeloos om te verklaar bestaan hierdie “waarhede” slegs in die gelowige se gedagtegang, want volgens die rasionele vereistes van enige wetenskap, is geloof geen vorm van kennis nie, in elk geval nie in die empiriese sin van die woord nie. Geloof is en bly net dít, nl geloof, onwetenskaplike kennis of idees waarvoor daar geen bewyse bestaan nie, gepaardgaande met die vaste oortuiging dat dit die waarheid is. As die gelowige dus sê dat “Ek weet God bestaan, want ek sien Sy hand in my lewe” dan moet die aanhoorder dit maar met ‘n knippie sout neem, want eintlik pas die word “weet” glad nie in daardie sin nie. Die gelowige se woorde sou meer akkuraat wees as hy sou sê “Ek glo dat God bestaan, want sekere dinge in my lewe lyk vir my na Sy werk.”
Eintlik is die gelowige en die ateïs ewe irrasioneel en dikwels ook ewe hardkoppig. Immers is dit net so onwetenskaplik en onbuigsaam om te sê “Ek weet daar is geen god nie.” Hoe kan enigiemand so iets sê as jy dit nie kan bewys nie, dis immers nie Kersvader of die Paashaas waarvan ons praat nie, maar ‘n baie meer abstrakte konsep? Wanneer die agnostikus dus sê “Ek weet nie of daar ‘n god is nie, dalk is daar, dalk is daar nie” dan is dit die mees rasionele verklaring. Tog, die vrees wat reeds tydens die kinderjare ingeprent word, maak dit ontmoontlik vir die meeste gelowiges om ooit die rasionele standpunt in te neem. Deels om daardie rede, asook die hoop dat daar iets beter as hierdie lewe moet wees, is baie, ook die uwe, gelowig. Geloof het dikwels bittermin met liefde vir God te make en baie meer met vrees.
Sulke eksistensiële vrese is meer waarskynlik by mense wat reeds in ‘n omgewing leef waar ‘n eksistensiële krisis beleef word, soos tans met die Afrikaner die geval is. Wanneer ons voorgeslagte ook sulke krisisse beleef het, soos die Bosoorlog, die 1976-onluste, die twee Vryheidsoorloë, Bloukrans, Bloedrivier, Dingaanskraal, die Oos-Grensoorloë en nog vele ander konflikte, kan godsdiens die kulturele verstekpunt raak om krississe op die geestelike vlak te hanteer. Binne ‘n groter gebalanseerde benadering is dit nie verkeerd nie. Die vrees vir die goddelikheid, vrees vir eie mortaliteit ens. kom by meeste gelowiges voor, en dis normaal, maar by sommiges raak dit oorheersend. By diegene waar die gesonde dosis vrees deur ‘n oormaat daarvan vervang word, word hul geloof, opsigself, daardeur omvorm. Hulle raak obsessief oor die letter van die Woord en wil alles om hulle daarby maak inpas. Soos met enige obsessie verloor hulle kontak met die werklikheid. In ekstreme gevalle word ‘n hele land deur so ‘n bestel oorgeneem, dus ‘n teokrasie. Iran is ‘n voorbeeld van so ‘n rampspoedige implementering van godsdienstige obsessie.
Geloof opsigself is nie die probleem nie. Dít, tesame met gesonde verstand, kan selfs die oplossing wees. Bloedrivier is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe gesonde verstand en geloof ons tot redding gebring het. Die probleem is wanneer gelowiges se absolutisme oorheersend raak, waanneer daar geen buigsaamheid rondom enige konsepte meer bestaan nie. Laasgenoemde is die obsessie waarna in die vorige paragraaf verwys is. Die godsdienstige absolutisme begin dan elke aspek van hul gedagtewêreld oorneem, tot die punt dat selfs die politiek daarvolgens in die vorm van ‘n teokrasie bestuur moet word. Dikwels hou dit ook verband met persoonlikheidstipes. Hierdie persoonlikheidstipe gedy veral in regse politiek, en soos reeds met die Argentynse ervaring bewys is, kan dit tot ‘n volk se ondergang lei as hulle die oorhand verkry. Afrikaners het deur hul geskiedenis ‘n oormaat aan hierdie tipes. Immers stam ons tot groot maat uit sulke mense, die Hollanders wat vir dekades lank teen die Spanjaarde geveg het, die Hugenote, ens. Die voordeel van hierdie persoonlikheidstipes is dat hulle meer geredelik teen ‘n onderdrukkende regime sal rebelleer. Die nadeel is dat hulle onder ekstreme druk moet verkeer voordat hulle as ‘n eenheid saamwerk, dikwels te laat. Hulle onenigheid met hul volksgenote kan handeling in die wiele ry met ‘n gevolglike oorwinning vir die vyand.
Hul harkoppigheid, soos met die Argentynse Afrikanersetlaars, en dus hulle onvermoë om aanpassings terwille van eenheid te maak, ruïneer die kanse op oorlewing as ‘n kultuur. Hulle is soos die Amerikaanse spreekwoordelike floo floo bird, wat gepas deur WA de Klerk as die “vlie-vlie-voël” vertaal is. Die vlie-vlie-voël wat alewig agteruit vlieg is ‘n metafoor vir die een wat so ingekeer op sy eie idees is, dat hy geensins kan uitreik na diesulkes wat anders as hy dink nie. Aan die einde het die vlie-vlie-voël se agteruitvlieëry so erg geraak dat hy met sy kop deur sy agterent gevlieg het. Dit is ‘n gedagtegang wat tot selfvernietiging lei. Is dit waarmee die Afrikaner- teokratiese beweging besig is? Is mense soos Christo Landman se fundamentalisme en hardkoppigheid besig om Afrikanereenheid en dus kultuuroorlewing in die wiele te ry? Dink die teokratiese beweging werklik dat Afrikaners bereid sal wees om in ‘n godsdienstige diktatuur te leef? Sê daarvan wat jy wil, maar niemand kan ontken dat Afrikaners sekere menseregtelike vryhede in die NSA gesmaak het wat hulle nie onder die NP-bewind gehad het nie. Of, is Christo Landman en die res van die teokratiese beweging deel van die ekstremistiese Israelvisietipes wat glo dat mense nie regte het nie, maar net verantwoordelikhede teenoor God? Glo my, Afrikaners sal eerder in die haglike NSA bly, of na Australië emigreer, voordat hulle by sulke sektariese malligheid sal inkoop.
Die teokratiese beweging moet nou aan Afrikaners verklaar of hulle te onbuigsaam is om met Afrikaners van verskillende geloofs- en filosofiese sieninge saam te werk. Wil hulle ons volk in ‘n Calvinistiese weegawe van Iran indwing? Indien dit die geval is, is hulle deel van die probleem en nie deel van die oplossing nie. Sulke verkramptheid sal ons volk se ondergang kos. In ons krisis is onbuigsaamheid ‘n vorm van selfmoord. Uiteindelik sal ons nes die Afrikaners in Argentinië in die volksvreemde massa verdwyn, maar ek glo dat dit vir die teokratiese fundamentaliste ‘n beter opsie is, as om buigsaam teenoor volksgenote te wees.
Reitz-4 gaan appèl aanteken
Hulle prokureur het gesê hulle vonnis van R20 000 boete of 12 maande tronkstraf plus ‘n verdere ses maande opgeskorte tronkstraf, is buite verhouding tot die misdryf.
Die boete wat hooflanddros Mziwonke Hinxa aan hulle opgelê het, oorskry ook die jurisdiksie van die Bloemfonteinse landdroshof waar hulle op 30 Julie gevonnis is.
Hulle regverteenwoordiger sê voorts ’n vonnis van opgeskorte gevangenisstraf was nie gepas nie en die opskortingsvoorwaarde, gekoppel aan Artikel 21 van Wet 4 van 2000, in die besonder, was nie ’n toelaatbare of gepaste voorwaarde nie
Die vier studente is R.C. Malherbe van Hertzogville, Johnny Roberts van Hoopstad, Schalk van der Merwe van Christiana en Danie Grobler van Windhoek.
Vyf swart werkers, wat intussen die gelykheidshof genader het en eise van miljoene rande teen die studente en die universiteit ingestel het, neem laggend aan die ontgroeningspret deel in die opname. Dié video het in 2007 in die koshuis op ‘n kultuuraand die eerste prys verower.
SA-sending na Viëtnam
‘n Hooggeplaasde afvaardiging van Suid-Afrika besoek tans Viëtnam. Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ebrahim Ebrahim is deel van die Suid-Afrikaanse sending.
Dié afvaardiging is in Viëtnam vir die tweede Afrika/Viëtnam-forum.
Die forum begin Maandag in Hanoi en duur tot Donderdag. Die tema is “Samewerking tussen Afrika en Viëtnam vir Volhoubare Ontwikkeling”.
‘n Woordvoerder van die departement sê die regering is verbind tot suid-tot-suid handel. Viëtnam is Suid-Afrika se vyfde grootste handelsvennoot in die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Lande.
Politieke huwelik
Die nuus dat die DA en die ID volgende jaar onder die DA-vaandel saam aan die landswye munisipale verkiesing gaan deelneem kom vir niemand as verrassing nie.
Onlangse meningspeilings het effektief die doodsklok vir die ID gelui, en daarmee saam het die persoonlike euforie wat Patricia de Lille sedert haar bedanking uit die PAC gevolg het, verdamp. Dit het na ‘n ewigheid gelede geklink sedert iemand soos Rhoda Kadalie verklaar het dat sy graag De Lille as die land se eerste vrouepresident wou sien.
Ten spyte van hewige verliese tydens elke oorloopperiode, het die party met elke verkiesing weer danksy haar charisma veld teruggewen. Nou het die boom uit die meningspeilings getuimel.
Ook nou verklaar die twee partye dat hulle beleid en beginsels deel, en daarom een behoort te wees. Die ID was egter wat beleidloosheid betref, Cope ‘n paar jare voor, voordat die ID homself uiteindelik tot ‘n sosiaal-demokratiese partye verklaar het.
Verder word verklaar dat die twee partye nou al in verskeie munisipaliteite goed saamgewerk het, dat eenwording dus nie ‘n probleem is nie. Ook hier klink dit opportunisties aangesien die ID-raadslede onlangs nog met die ANC-raadslede saamgespan het om ‘n DA-munisipale bewind in die stof te laat byt. Veral in die Suid-Kaap en die Overberggebied is dit nie ongewoon dat die ID en die DA in rade haaks is nie.
In die politiek is een plus een nie altyd twee nie, soos verskeie koalisiepogings ook al geblyk het. Die DA self is egter op hierdie gebied ‘n uitsondering, en dié party sal stellig voel dat dit die resep gevind het en steeds sal kan gebruik.
Tog is sake vir die DA nie heeltemal eenvoudig nie. Die krimp van die ID beteken dat daar baie huidige en aspirerende ID-verteenwoordigers is wat sal hoop om via die DA op sagte kussings te beland. Baie dikwels gaan die nominasiestryde nou sterk rasselyne volg en sake baie kompleks maak.
Hoewel die DA op nasionale vlak nie baie verbaal oor plaasaanvalle was nie, is wel in sommige provinsies voor in die koor gesing om dit te veroordeel. Nou begeef die DA hom in die politieke speelveld waar hierdie soort kwessies binne ‘n ander persepsie geanker is. Zille se onlangse voorstelle oor 50 % aandeelhouding tussen boere en hul werkers het juis ‘n groot onrustigheid in die DA losgemaak en ‘n spesiale memorandum moes omgestuur word om gemoedere te probeer kalmeer.
Aan die ander kant het die Afrikanerbond in sy jongste elektroniese nuusbrief verskeie bladsye afgestaan aan ‘n nuwe erns om die minderheidsregte van die Afrikaner aan te spreek. Die AB het ook ‘n gesprek met die VF Plus oor die kwessie gevoer.
Dit is dus ‘n billike vraag dat nou vrae gevra word oor die DA se vermoë om sy wye spektrum steun onder dieselfde kombers te kan toemaak. Die vraag is veral relevant teen die agtergrond van, soos Rapport dit al uitgedruk het, die probleem van regse Afrikaners in die party. Dié vraag sal moontlik nog meer relevant word wanneer die pogings verskerp word om beduidende swart steun te ontgin.
Soos sake nou staan, reik die DA reeds bykans nooit meer mediaverklarings in iets anders as Engels uit nie.
Die potensiaal is dus daar dat die DA deur ‘n kortbroekskuif verras kan word, waar die NNP by die ANC aangesluit het maar gevind het die oorgrote meerderheid lede het in die DA agtergebly. Dit is juis hierdie groep wat deur Rapport as probleem geïdentifiseer is.
Zuma verdedig mediawet op ANC Today
Pres. Jacob Zuma skryf in ANC Today, hy is “verstom” oor die “histerie” dat die voorgestelde media tribunaal ‘n poging is om inligting te beheer en plat te vee.
Hy het gesê vergelykings wat tans tussen die ANC en die vorige apartheidsregering getref word oor mediavryheid, is belaglik en agterbaks en ook ‘n ondraaglike belediging.
Die ANC sal in September in Durban tydens ‘n hoofraadsvergadering die mediawetgewing bespreek.
Zuma het kritici se besware as “misleidend” beskryf en gesê hulle kritiek “besoedel” die debat.
Zuma het die hoop uitgespreek dat die media sal “demokratiseer”. Hy het gesê: “Die tribunaal is veronderstel om alle Suid-Afrikaners – ryk en arm, swart en wit, in landelike sowel as stedelike gebiede – te beskerm.”
Zuma het benadruk at spraakvryheid nie bo die reg op privaatheid en menswaardigheid verhewe is nie. Die president het die gedrukte media se negatiewe houding teenoor die huidige bedeling betreur.
“Verstaan hierdie instellings werklik Suid-Afrikaners? Waarom was die media verras deur die ontploffing van nasionale trots tydens die toernooi?” Hy het gesê die koerante voer lesers ‘n daaglikse dieet van negatiwiteit en moedeloosheid en is nie op dieselfde “golflengte” as die ANC nie.
Zuma voel dat diegene wat “hulself tot bewakers van die samelewing verhef het, se tyd vir selfondersoek aangebreek het”.
Die president voel dat die gedrukte media beheer behoort te word soos die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Icasa) die uitsaaimedia reguleer in openbare belang.

