Leon Lemmer: Die selfdood van Europa en Suid-Afrika

As iemand homself om die lewe bring, word dit as ‘n tragiese gebeurtenis beskou. Hy het homself immers ontneem van al die moontlikhede wat verdere lewe kon bied. Voorheen is die woord selfmoord hiervoor gebruik, maar deesdae word voorkeur aan die term selfdood gegee. Hoeveel groter is die tragedie nie as ‘n hele land, soos ons vaderland in 1990/94, op ‘n vernietigingspad geplaas word en daar skynbaar geen realistiese kans op herstel is nie?

Maar ‘n hele kontinent, naamlik Europa, is tans besig om uit eie wil, of weens gebrek aan wilskrag, onder te gaan; selfdood te pleeg. In die geval van Suid-Afrika sowel as dié van die tradisioneel etniese volkstate in Europa is die rede vir die selfdood basies dieselfde: onderploeging van die tradisioneel leidende, begaafde bevolkingsgroep deur volksvreemde elemente. Suid-Afrika verskil van Europa deurdat die (kulturele) vreemdelinge lank in ons midde was en daar ook al hoe meer van hulle die land ingesypel het, wat uiteindelik weens onbeholpe grondwetlike onderhandelings die verswelgende, gewelddadige magsoorname moontlik gemaak het.

In die geval van Europa is die vreemdelinge na die Tweede Wêreldoorlog aanvanklik as trekarbeiders toegelaat, wat toe aangebly en hulle grootliks op hulle eie voorwaardes in die gasheerlande tuisgemaak het. Weens dekolonialisering het talle volksvreemde mense hulle veral sedert 1960 in Europa gevestig, wat bevestig dat kolonies wat van die koloniale “juk” bevry word nie eensklaps paradyse word nie. Die Europese humanitêre benadering tot kulturele vreemdelinge het mense uit die Midde-Ooste, Asië en Afrika om allerhande redes (avontuurlus, vervolging, maar veral ellende) aangemoedig om hulle as (dikwels armlastige) inwoners ongenooid en onwettig aan Europese lande op te dring. Die inkommers voel geregtig op welsynsvoordele sonder enige (of ‘n sterk) drang om finansieel onafhanklik te wees en by te dra tot die voorspoed van Europa.

Ek het onlangs Edward Luce se boek, The retreat of Western liberalism (London: Little, Brown, 2017, 240p; Amazon Kindle $8,76), gelees, toe dit teen $2,16 beskikbaar was, terwyl die gedrukte uitgawe R295 in die plaaslike boekwinkel kos. Luce is ‘n joernalis wat dit teen die verswakking van demokratiese liberalisme het. Sy bevinding is dat eenheid en demokrasie in die Weste bedreig word en Donald Trump word as die groot populistiese sondebok uitgewys. Resensie beveel die boek sterk aan maar vir my was dit ‘n leeservaring wat nie die moeite werd was nie.

Daarenteen was dit verhelderend om Douglas Murray se boek, The strange death of Europe: Immigration, identity, Islam (London: Bloomsbury, 2017, 352p, R380; Amazon Kindle $11,39), te lees. Hy is die mede-redakteur van ‘n invloedryke, konserwatiewe, weeklikse tydskrif, The Spectator. Al wat my gehinder het, is dat Murray te dikwels vir homoseksualiteit in die bres tree. Hy het in 2000 ‘n boek oor Oscar Wilde (1854-1900) se maatjie, Alfred (Bosie) Douglas (1870-1945), gepubliseer, maar daarna ook een oor Neoconservatism: Why we need it (2012, 248p; Amazon Kindle $5,37). Laasgenoemde wil ek nog lees.

Ek onthou die sportspanne (bv rugby, krieket en tennis) wat in die eerste dekades ná die Tweede Wêreldoorlog Suid-Afrika besoek het. Die Britse en Wes-Europese spanne was almal onmiskenbaar blank. Hulle het daardie lande se bevolking weerspieël. Deesdae val dit op dat die spanne van eertydse koloniale moondhede ‘n bonte mengelmoes is. Daarenteen is die sportspanne van Asiatiese en Afrika-lande, afgesien daarvan of hulle kolonies was of nie, herkenbaar inheems. Byvoorbeeld, China en veral Japan koester hulle kulturele identiteit en waak teen die vermurwing wat massa-immigrasie veroorsaak. Die hoogheilige Indië laat net etniese Indiërs ongekwalifiseerd toe as immigrante.

Waarom het die sportspanne van Westerse lande multikultureel geword terwyl dié van nie-Westerse lande nie-wit en skynbaar mono-etnies of monokultureel is? Dit is omdat Westerse lande tans ‘n vlaag van neo-kolonisering ervaar nadat dekolonisering in nie-Westerse lande plaasgevind het. Toe laasgenoemde lande polities onafhanklik geword het, het die meeste blankes uit daardie lande onttrek. Wat die blankes daar opgebou het, is agtergelaat. Die nuwe, inheemse politieke bewinde kon egter nie op die koloniale ekonomiese voorspoed voortbou nie. Die ellende wat politieke onafhanklikheid meegebring het, het veroorsaak dat sommige van hierdie inheemses (veral Asiate en Afrikane) hulle op groot skaal in Brittanje en Wes-Europa gevestig het.

Plaaslik en elders word polities byderwets allerhande besware teen kolonisering geopper, bv die opsigte waarin die inheemse bevolking na bewering benadeel is. Oor die weerslag van kolonisering, te wete die massa Asiate en Afrikane wat hulle in Brittanje en Wes-Europa gevestig het en die destruktiewe gevolge daarvan (kultureel en andersins), word selde berig. Murray werp lig hierop. Daar is “a wider sentiment that in the multicultural era Europe was being expected to give too much of itself – including its history – while those who had arrived were being expected to give up next to nothing of their traditions” (Kindle 1872). Dit is egter nie net immigrante uit Asia en Afrika wat hulle in die afgelope dekades in groot getalle in Brittanje en Wes-Europa tuismaak het nie. Die immigrante kom ook uit die Midde-Ooste en die Karibiese eilande en in die geval van Nederland ook uit bv Suriname in Suid-Amerika.

Murray noem dat Stefan Zweig (1881-1942) reeds die selfdood van Europa voorsien het. Zweig het gehoop dat oorblyfsels van die Europese kultuur in ander lande, bv in Suid-Amerika, behoue sou bly. Hy het hom in Brasilië gevestig maar daar as ‘n teleurgestelde mens selfdood gepleeg. Die agteruitgang van Europa het ná die Tweede Wêreldoorlog begin toe trekarbeiders ingevoer is om die plek van dooie Europeërs in te neem en te help met die heropbou van daardie verwoeste lande. Hierdie trekarbeiders het meesal nie na hulle lande van herkoms teruggekeer nie. Hulle uitgebreide families het hulle ook in Europa gevestig.* Die koloniale era het ten einde geloop en ‘n nuwe soort kolonisering, naamlik van kulturele aard, het ‘n houvas op Europa begin kry.

[* Die strategie wat gevolg word, is dat meesal jong mans as (onwettige) immigrante Europa binnedring. Daarna word geëis dat die uitgebreide familie – dikwels insluitende nie-nabye familie – om menslikheidsredes ook in Europa toegelaat moet word. Dit is een manier om ‘n familie te herenig. Die ander makliker en goedkoper manier is as die man as enkeling uit Europa na sy familie terugkeer.]

‘n Ander faktor wat die ná-oorlogse Europa destruktief beïnvloed, is dat die kontinent vertroue in homself verloor het. Europese lande het hulle oorsese ryke verloor en was voortaan in groter mate op hulleself aangewese. Ingevolge kulturele marxisme word Europeërs veroordeel as mense met ‘n slegte verlede, bv dat twee wêreldoorloë in Europa ontstaan het en dat hulle glo skuldig aan koloniale misdrywe soos uitbuiting en die skending van menseregte is. Die tradisionele, Europese, monokulturele nasiestaat word gebrandmerk as ‘n onding wat oorlog en gierigheid in die hand werk. Die Europese Unie is as ‘n teenvoeter gestig. Die afbreek van landsgrense asook multikulturaliteit is as aantreklike alternatiewe voorgestaan. Wat in die slag gebly het, is tradisionele Europese waardes, insluitende dié van die christelike godsdiens. Die daarstel en aanvaarding van nuwe waardes, wat eerder rasioneel as religieus gegrondves is, blyk problematies te wees; waardes soos gelykheid, respek, verdraagsaamheid en diversiteit (382).

Identiteitloosheid het ‘n dreigende moontlikheid geword. “The world is coming into Europe at precisely the moment that Europe has lost sight of what it is” (370). Daarteenoor klou baie van die inkommers, veral die Moslems, vas aan hulle identiteit soos vergestalt in hulle kultuur, bv taal en veral godsdiens. Hulle wil en sal nie integreer in die tradisionele Europese lewenswyse nie. “The migrant does not adapt to the host society but rather a two-way process of adaptation by migrant and host society” (1107). Op die lange duur sal/wil die inkommers die Europeërs verswelg. Hulle wil Europa volgens hulle wense fundamenteel verander, oftewel transformeer, ooreenkomstig hulle waardes. Sommige van hierdie waardes word deur Europeërs as moreel agterlik beskou, bv die manier waarop Moslems vroue behandel (1135).

Maar leidende politici steun die inkommers. ‘n Sweedse eerste minister, Fredrik Reinfeldt, het gesê “only ‘barbarism comes from countries like his whereas only good things come from outside” (282; ook 4404). Volgens Reinfeldt “Sweden belongs to the people who have come to make a better life there rather than to the people who have lived there for generations” (4434). Dit is tiperend van die eksistensiële moegheid waaraan Europa ly (305). Op grond waarvan sou die inkommers in Swede hoort en nie die tradisionele Swede nie? Vooraanstaande Sweedse politici ontken deesdae dat Swede ‘n eie kultuur het. Wat hulle gerus kan besef, is “that Europeans are unlikely to simply find or come up with another culture or a better culture” (5342). Veel beter sou wees: “Re-inject [y]our own culture with some sense of a deeper purpose” (5354).

Wat hier bo van Europa gesê is, sluit Brittanje in. In die hoofstad, Londen, is die blankes reeds in die minderheid. Londen is ‘n internasionale stad soos talle (hoof)stede in Europa. Internasionale stede is die voorloper van internasionale lande; des te meer omdat die meeste inwoners neig om eerder stedelinge as plattelanders te wees. In die 2011-sensus, in vergelyking met dié in 2001, het die getal wat hulleself christene noem van 72% tot 59% gedaal (426), terwyl die getal Moslems in Engeland en Wallis van 1,5 miljoen tot 2,7 miljoen toegeneem het. Maar daar is na raming meer as ‘n miljoen onwettige immigrante wat nie getel is nie (432). Wat is tans die gewildste seunsnaam in Engeland en Wallis? Mohammed/Muhammad (5439). Die Moslem-immigrante is onpatrioties. “By 2015 more British Muslims were fighting for Isis than for the British armed forces” (5451).

In 1948 is ‘n wet aanvaar waarvolgens immigrante uit Britse oorsese gebiede as werkers in Brittanje toegelaat word. Veral Wes-Indiërs en Asiate uit die Indiese subkontinent het gekom (457). Misdaad het spoedig groter afmetings aangeneem (463). Byvoorbeeld, ‘n nuwe verskynsel was “sex trafficking of children,” wat “a form of modern-day slavery” is (700). Aansluitend hierby is daar “gang rape” (706), ens.

Teen 1958 was daar rasse-onrus. Oswald Mosley (1896-1980) het tevergeefs op grond hiervan stemme probeer werf (474). Die verskynsel “marriage of convenience” het sy kop uitgesteek (517); huwelike wat nie saamwoon tot gevolg het nie maar bloot daarop ingestel is om Britse burgerskap te bekom. In 1962 is ‘n wet op immigrasie aanvaar met die doel om immigrasie te beperk en repatriasie aan te moedig. Die teenoorgestelde is bereik. Al hoe meer immigrante wou inkom voordat die vergunning dalk teruggetrek word. Daarby is nie langer vereis dat inkommers werk moet hê nie (469). In 1965, 1968 en 1976 is al hoe strenger wette teen rassediskriminasie aanvaar (479). Wat duidelik geword het, is dat sowat driekwart of in elke geval die oorgrote meerderheid van die Britse bevolking teen immigrasie gekant is (485, 497, 669).

Die gaping tussen wat die tradisionele inwoners begeer en wat die politici doen, het al hoe groter geword (643). In hierdie situasie het Enoch Powell (1912-1998) in 1968 sy beroemde “Rivers of Blood”-toespraak gehou (492 – Praag 30 April 2016). Enersyds was Powell kultureel besorg oor Britse identiteitsbehoud en andersyds prakties beswaard oor die druk wat deur immigrante op bv mediese en opvoedkundige fasiliteite uitgeoefen word (497). Immigrasie het eintlik alle openbare dienste, insluitende behuising, negatief beïnvloed en Britse identiteit afgetakel (669). Powell het verwys na ‘n straat in Engeland waarin werklik nog net ‘n enkele blanke gewoon het. Dit is egter deur sy kritici valslik as ‘n fiktiewe geval afgemaak (511). Deesdae is die inwoners van die Britse hoofstad oorwegend nie-wit.

‘n Skoolhoof, Ray Honeyford, het die aandag op die groot kulturele verskille tussen Britte en Moslems gevestig; dat Moslems die oorsaak van “parallel lives within society” is (530). Hy is van “cultural chauvinism” beskuldig en het sy werk verloor. Brittanje is nie meer monokultureel nie. Die land het multikultureel geword (536). Nadat die Britse Arbeidersparty die 1997-verkiesing gewen het, het Tony Blair se regering (1997-2007) die landsgrense in groter mate as ooit tevore vir immigrante oopgegooi, bv in 2004 vir die inwoners van die Europese Unie in Oos-Europa (548). In 2004 het 170 000 gekom. Teen 2013 het 1,24 miljoen Oos-Europeërs hulle in Brittanje gevestig. Die Arbeidersparty steun immigrasie omdat hy, soos die Demokratiese Party in Amerika, hoop dat die inkommers wanneer hulle burgerskap kry vir hom sal stem (554).

Barbara Roche, die minister van immigrasie en amnestie (1999-2001), ‘n jodin, het doelbewus soveel moontlik inkommers, onder meer “economic migrants” (567), toegelaat met die uitdruklike bedoeling om Brittanje op hierdie manier te transformeer (560). Dit is ‘n kulturele oorlog wat gevoer is. Roche het gesê: “I love the diversity of London. I just feel comfortable” (573). Die onvermoë om die immigrasiestroom te stuit en die onherroeplike verandering wat dit in die Britse samelewing veroorsaak het, kon nie meer ontken word nie. Die klem het toe eerder op pogings tot integrasie begin val, maar kulturele diversiteit het geblyk onvermydelik te wees (655). Met Robert Winder as mede-outeur het Roche die volgende pamflet gepubliseer: Immigration: Opportunity knocks (2015, 30p; Amazon Kindle $3,41).

In Duitsland het die gas- of trekarbeiders aanvanklik van Turkye gekom. Hierdie ooreenkoms tussen Duitsland en Turkye het in 1973 ten einde geloop, maar nie die toestroming van Turke nie. In 2010 was daar minstens 4 miljoen van hulle in Duitsland (631). In Nederland het die instroming uit bv Marokko en Indonesië gekom. In Frankryk was die intog van Moslems uit Algerië prominent. “If you believe – as most people do – that some immigration is a good thing and makes a country a more interesting place, it does not follow that the more immigration the better. Nor does it mean – however many upsides there are – that there are not downsides which should be equally easy to state without accusations of malice. For mass immigration does not continue bringing the same level of benefits to a society the more people who come in. If it is possible to praise mass immigration for making us richer as a whole, it should also be possible to explain that the process has made us poorer in some ways, not least in introducing or re-introducing cultural problems that we might have hoped never to see” (694).

Kwessies wat met immigrasie te make het, word polities byderwets verdoesel deur eufemismes te gebruik, bv deur nie te noem as ‘n misdadiger ‘n Moslem is of van watter land hy kom nie. Dit is nie net politici wat valshede verkondig nie. “Police, prosecutors and journalists behaved as though their job was to mediate between the public and the facts” (719). Soos in Amerika word daar bv beweer: “Britain has always been a melting pot of different races and backgrounds. Indeed we are a nation of immigrants” (725). Robert Winder beweer “Britain has always been ‘a mongrel nation'” (731). Dit herinner aan Breyten Breytenbach se oordrewe karakterisering van die Afrikanerdom as ‘n basternasie. Die Blair-regering het Robert Winder se boek, Bloody foreigners: The story of immigration to Britain (2004, 557p; Amazon Kindle $10,88), gebruik om sy rojale immigrasiebeleid te probeer regverdig.

Barbara Roche het beweer, maar Murray ontken dit, dat Brittanje soos America “a country of migrants” is (738). Murray skryf: “Although there was often a trickle of people moving in, the mass movement of people was almost unknown” (738). Hy noem dan voorbeelde, soos die 50 000 Franse Hugenote wat vanaf 1681 na Brittanje gevlug het (744) en die 30 000 Asiate wat in die 1970’s deur Idi Amin uit Uganda geskop is (750). Sedert 1997 was dit egter 30 000 inkommers elke ses weke. Terselfdetyd is die groot verskil nie net in kwantiteit nie, maar ook in die kwaliteit van die inkommers (755).

Die laksheid van die Konserwatiewe Party en veral die Arbeidersparty om die Britse landsgrense teen inkommers te beveilig, kan beskou word as “a cool and deliberate act of national sabotage” (786). Daar is ‘n gaping tussen die amptelike immigrasiesyfers (300 000 per jaar) en die werklike getal inkommers. Dit blyk uit die styging in die getal staatstoelaes wat betaal word. “The rising population of the United Kingdom is now almost entirely due to immigration and to higher birth rates among immigrants” (798). Dit beteken dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat die blanke Britte in die minderheid in hulle eie land gaan wees, bv moontlik in die 2060’s of selfs vroeër. “It would be a time when … Britain would become ‘unrecognisable’ to its present inhabitants” (810); soos die nuwe Suid-Afrika kwalik herkenbaar vir Afrikaners geword het.

Europese regerings was en is in ‘n mate steeds geneig om om menslikheidsredes onwettige immigrante in hulle lande te verwelkom. Die inheemses kla dat daar selfs voorkeur aan diesulkes gegee word, bv by behuising. Wat onregverdig is, is dat inkommers welsynstoelaes ontvang sonder dat hulle, anders as die inheemses, ‘n bydrae tot die staatskas gelewer het (854); dikwels sonder dat hulle ‘n poging aanwend om eerbare werk te doen. Een van die redes hiervoor is dat die gaping tussen die staatstoelae en die werkloon te klein is (1058). Dit verg minder inspanning om op die staatstoelae te teer as om te werk en hierdie toelae is hoër as wat die inkommer in sy land van herkoms vir werk sou ontvang het.

Inkommers toon meesal geen begrip vir wat hulle Europese lande aandoen nie, bv die ekstra onkoste wat hulle vir onderwys- en mediese dienste veroorsaak. Baie geld moet bv aan vertaaldienste bestee word ten einde sinvol met die inkommers te kommunikeer (872). Die huidige massa immigrasie maak Europese lande glad nie voorspoediger nie. Van Brittanje word gesê: “Mass migration … had made the country very significantly poorer” (921). Een van die redes hiervoor is dat as inkommers geld verdien, hulle ‘n deel daarvan nie plaaslik bestee nie maar na hulle lande van herkoms stuur (951).

Ouerpare moet elk 2,1 kinders hê om ‘n land se bevolking op dieselfde vlak te hou. Dit kan nie van ‘n enkele Europese land gesê word nie (969). Die inkommers het baie meer kinders as die inheemses, wat uiteindelik daartoe moet lei dat die inheemses (blankes) ‘n minderheid in Europa gaan word. Van owerheidsweë word daar polities korrek nie graag geboortebeperking by inkommers bepleit nie (976). In die nuwe Suid-Afrika word daar ook nie van owerheidsweë op minder swart kinders aangedring nie.

Immigrasie word voorgestel as die kuur vir die ouer wordende Europese bevolking; dat die inkommers die werk gaan doen weens die tekort aan blankes. Maar hulle werk nie noodwendig nie en hulle sorg direk en indirek eerder vir hulle uitgebreide familie as vir die nuwe land waarin hulle woon. Wat eerder gedoen moet word, is om die inheemses aan te moedig om meer kinders te hê; om groter gesinne sowel prakties moontlik as lonend te maak (1006). Byvoorbeeld, Poland het in hierdie opsig sinvolle maatreëls ingestel (1023). ‘n Ander moontlikheid is om werk in Noord-Europa vir die talle werkloses in Suid-Europa (Spanje, Italië en Griekeland) aan te bied.

Nog ‘n moontlikheid is dat die langer lewensverwagting van Europeërs gepaard moet gaan met die verhoging van die aftree-ouderdom (1028). Dit is bv in Griekeland (1034) en Frankryk (1040) gedoen. “Perhaps some people will see working longer in a society they know as being preferable to dying in one in which they feel a stranger” (1040). ‘n Ander manier om inkommers te keer, is om toestande in hulle lande van herkoms te probeer verbeter (1199), maar sodanige finansiële hulp is aan erge korrupsie onderhewig. Nog ‘n manier is om drasties op te tree teen diegene wat by die goed georganiseerde smokkelhandel in mense betrokke is, maar hiermee is tot dusver weinig sukses behaal. Humaniste redeneer graag dat niks gedoen kan word om die vlaag inkommers te keer nie, maar “Japan has avoided a policy of mass immigration by implementing policies that stop it, dissuade people from staying there, and make it hard to become a citizen if you are not Japanese … In the same way, although China is the world’s second largest economy, it is not a destination for asylum seekers or economic migrants on the scale of Europe” (1211).

Daar is die gewilde aanspraak dat immigrasie ‘n land, indien nie finansieel nie, kultureel ryker maak. “It is as though it is agreed that there is a hole at the heart of Europe which needs filling and without which we would otherwise be poorer” (1076). Maar hierdie behoefte aan diversiteit word nie by nie-Europese lande gediagnoseer nie (1076). “If it is the case that ‘diversity’ is a good in itself, it does not explain why in each country immigrants overwhelmingly come from a small number of countries. If you actively sought to bring ‘diversity’ to Europe after the first decades of mass migration, it would have been sensible to search for people not just from former colonies but from countries that had never been colonies and countries about which there was a genuine lack of knowledge” (1094).

Hiermee het ek nog net na aanleiding van die inleiding en die eerste drie van die negentien hoofstukke van Murray se uitstekende boek geskryf. Wat duidelik behoort te wees, is enersyds dat ‘n land weens ongebreidelde massa immigrasie “nasionale sabotasie,” oftewel selfdood, kan pleeg en andersyds dat sodanige resultaat voorkom kan word as daar nie op ‘n noodlottige manier buitensporige klem op menseregte geplaas word nie. Die blankes onder wie se leiding Suid-Afrika tot die ontwikkeldste en voorspoedigste land in Afrika opgebou is, se bedoeling was sekerlik nie dat dese en gene uit Afrika en die res van die wêreld hulle hier moet kan kom tuismaak en afbreek wat opgebou is nie.

Weens die agteruitgang wat inkommers in Europa veroorsaak het, het feitlik alle lande grensbeheer verskerp. Dit bring noodwendig mee dat lande wat ondoeltreffend bestuur word al hoe meer deur onwettige immigrante binnegedring sal word. Byvoorbeeld, talle Somaliërs het dit makliker gevind om hulle eerder in Suid-Afrika te vestig as om die nader geleë Europa binne te probeer kom. In die nuwe Suid-Afrika is daar nie net die duidelike onvermoë om ongewenste elemente uit te hou nie; daar is geen begrip vir die erns van die situasie nie. Gevolglik is daar geen daadwerklike wil om mense buite te hou wat deur geen ander land vrywillig en rasioneel as immigrante aanvaar sal word nie.

Die ANC-regering het hom al ten gunste van die afskaffing van grensbeheer in Afrika in sy geheel uitgespreek. Wat in die vorige eeue hier opgebou is, sal dan selfs in groter mate as ‘n trekpleister vir inkommers dien. Sedert 1994 het Suid-Afrika binne twee dekades in baie opsigte onherkenbaar verander en daardie veranderings was nie verbeterings nie. Hierdie agteruitgang kan onder meer aan inkommers toegeskryf word. Die selfvernietigingspad waarop Suid-Afrika geplaas is, kan teruggevoer word na die “suksesvolle” grondwetlike onderhandelings van 1990/94. Waar sal ons hulp vandaan kom?

Weens ‘n tekort aan ruimte skryf ek baie oorsigtelik oor die res van Murray se boek. Hoofstuk 4 handel oor die Italiaanse eiland Lampedusa in die Middellandse See, wat net 20 vierkante kilometer groot is en ‘n inheemse bevolking van 6 000 het. Dit is 113 kilometer van die Tunisiese kus. Onwettige immigrante kom veral van Libië af na Lampedusa, vanwaar hulle toegang tot Italië en Europa verkry. Die vaartuie is dikwels nie seewaardig nie, maar Italiaanse kuspatrolies doen moeite om drenkelinge van verdrinking te red. Myns insiens sou dit beter wees as Italië die wettige inwoners hervestig en sy eienaarskap van Lampedusa opsê. Spanje het ook ‘n groot inkommerprobleem, onder meer weens sy twee enklaves, Melilla en Ceuta, aan die Marokkaanse kus.

Griekeland het ‘n groter probleem weens sy talle eilande naby die Turkse kus. Byvoorbeeld, Lebos is net 8 kilometer ver en hierdie eiland dien gevolglik as die indringplek vir talle inkommers. In 2016 is ‘n ooreenkoms met die Turkse regering aangegaan waarvolgens inkommers verhoed sal word om hierdie roete te gebruik. Hierdie voorkomende maatreël het die Europese Unie €6 biljoen gekos (1635).

Die grootste dwaas in hierdie inkommertragedie is Angela Merkel, die Duitse staatshoof. Oordrewe skuldgevoelens het haar genoop om inkommers na Duitsland te nooi, veral diegene wat uit oorloggeteisterde Sirië gevlug het. Maar Golfstate soos Koeweit, Bahrein, Katar, die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi Arabië en Oman het nie asiel aan ‘n enkele Siriese vlugteling verleen nie (2859). Turkye, Libanon en Jordanië het wel vlugtelinge aanvaar” (5204). Veralgemenend kan gesê word: “Guilt remains a one-way street” (3174). Weens kultureel marxistiese propaganda ly Europa en veral Duitsland onregverdigbaar erg aan skuldgevoelens. “A layer of guilt and blame lies over the whole culture like a fog” (4821).

Toe Merkel die situasie nie kon hanteer nie, het sy van lidlande van die Europese Unie verwag om op ‘n kwota-grondslag inkommers te aanvaar. Swede het aanvanklik hartlik saamgewerk. Poland, Hongarye, Tsjeggië en Slowakye, dus die Visegrad-groep, het dadelik hulle teenkanting uitgespreek (4042). Spoedig het al hoe meer lande hulle teen die kwotas verset; des te meer toe besef is dat van die inkommers terroriste is. Ongedurigheid het toegeneem toe besef is dat van die terroriste “home grown” is, dus mense, bv Moslems, wat in Europa in immigrante-huishoudings gebore is. Die Europese Unie was veronderstel om vir lidlande sonder landsgrense te wees. Lande het egter al hoe strenger grensbeheer ingestel en selfs heinings, wat honderde kilometer lank is, opgerig om inkommers buite te hou. Maar heinings en mure (soos in Calais, Frankryk – 5102) mag glo nie ter beveiliging van Israel of Amerika opgerig word nie; in groot mate ook nie in Suid-Afrika om bv woongebiede te beskerm nie.

Weens groot kulturele, veral religieuse, verskille is dit onmoontlik om baie van die inkommers te assimileer en te integreer. Soos Trevor Phillips dit gestel het, Brittanje “was sleepwalking to segregation” (1920). En Recep Erdogan, die Turkse staatshoof, het gesê: “Assimilation is a crime against humanity” (2827). Die tradisoneel monokulturele Europese lande het sedert 2010 weens ‘n stortvloed immigrante binne enkele jare onregstelbaar multikultureel geword. Samuel Huntington (Praag 5 November 2016) skryf: “Multiculturalism is in its essence anti-European civilisation. It is basically an anti-Western ideology” (1907). Murray skryf: “In order to become multicultural, countries found that they had to do themselves down, particularly focusing on their negatives. Thus the states that had been so open and liberal that they had allowed and encouraged large-scale migration were portrayed as countries which were uniquely racist. And while any and all other cultures in the world could be celebrated within Europe, to celebrate even the good things about Europe within Europe became suspect” (1902).

Op ‘n soortgelyke manier mag niks goeds van blankes en veral Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika gesê word nie. Polities korrek mag daar natuurlik ook niks negatiefs van swartes gesê word nie, gevolglik kan blankes nie wenke ter verbetering aan swartes gee nie. “It is infintely easier to criticise … white-skinned people” (4265). Daar is die foutiewe maar “generalised depiction of [non-white] indigenous culture as possessing some especial purity” (3003) met blankes as die “Eden-destroying species” (3034). “The victimhood [of non-whites] can be traced back to the Europeans” (3070). Behoort verdraagsaamheid nie grense te hê nie? “Had our societies been too liberal and in the process allowed illiberalism or anti-liberalism to thrive?” (1931).

Iedere etniese groep het ‘n kernkultuur (1949) in gevolge waarvan hy is wat hy is. Dit is lede van daardie kultuur se dure plig om hulle kernkultuur te beskerm. Daarom is daar iets soos selfsegregasie “through a perfectly understandable wish to retain their culture and customs in a society that had no connection to them” (1966). “All persons and all nations have the sacred right to preserve their differences and identities, in the name of their own future and their own past” (2207). Die inkommers kan dus nie verwag dat Europeërs van hulle tradisionele kultuur moet afsien nie. Ingelyks het die inkommers die reg op die behoud van hulle kultuur, maar die vraag is of dit billik is dat hulle eis om dit buite hulle vaderland in Europa te bedryf tot ontsteltenis en benadeling van die inheemse blankes.

In Suid-Afrika het die swartes, wat op ‘n moreel bedenklike manier die politieke mag bekom het, uiteraard geen reg om die blankes en veral die Afrikaners se kultuur te probeer vernietig nie. In Europa eis die inkommers allerhande regte (bv owerheidstoelaes, onderwys en mediese dienste) sonder dat daar noodwendig enige teenprestasie gelewer word. In Suid-Afrika neem hierdie gesindheid veral onder die swartes finansieel onvolhoubare afmetings aan.

In politieke geledere is die populêre mening dat immigrante daarop geregtig is om hulle in Europa tuis te maak omdat hulle politieke vlugtelinge is, terwyl die meeste van hulle in werklikheid ekonomiese vlugtelinge is, dus (gewetenlose) kansvatters wat ten koste van Europeërs hulle lewensomstandighede wil verbeter. Wat in Europa gebeur, moet nie “unjust to the peoples of Europe” wees nie (5174). Die vraag is: “Who Europe is for. Those who believe it is for the world have never explained why this process should be one way: why Europeans going anywhere else in the world is colonialism whereas the rest of the world coming to Europe is just and fair. Nor have they ever suggested that the migration movement has any end other than the turning of Europe into a place belonging to the world, with other countries remaining the home of the people of those countries” (5174).

“Even if everyone coming to Europe was coming in the face of imminent death back home, there is no practical way that Europe could take in those untold millions” (5186). Verder: “A continent which imports the world’s people will also import the world’s problems” (5267). Insgelyks sal dit selfvernietigend wees as die nuwe Suid-Afrika voortgaan om die ongebreidelde invloei van onwettige immigrante toe te laat. As die landsgrense afgeskaf word, word al Afrika se probleme selfs in groter mate as tans Suid-Afrika se probleme.

Multikulturaliteit en selfsegregasie het te laat in Europa wortel geskied om in hulle hoofstroom politieke geledere begrip en ondersteuning vir die eens blanke bewind in Suid-Afrika te verseker. Maar by die tradisionele Europeërs, insluitende die Swede, behoort daar deesdae veel beter insig in diversiteitsprobleme as twee of drie dekades gelede te wees. Intussen het ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes egter mandaatloos die ondergang van die blanke bewind bewerkstellig.

Edmund Burke (1729-1797) “made the central conservative insight that a culture and a society are not things run for the convenience of the people who happen to be here right now, but a deep pact between the dead, the living and those yet to be born. In such a view of society … you still would not have the right to wholly transform your society. Because that which you inherited that is good should also be passed on. Even were you to decide that some of the views or lifestyles of your ancestors could be improved upon, it does not follow that you should hand over to the next generation a society that is chaotic, fractured and unrecognisable” (5163).

Maar dit is presies wat FW de Klerk en sy kornuite gedoen het. Hulle het radikaal met die tradisies in ons geskiedenis gebreek, die huidige geslag blankes in die hoogs onbenydenswaardige posisie van polities ontmagtigde tweedeklas-burgers gedompel en bowenal die vooruitsigte vir toekomstige geslagte blankes beduiwel; bes moontlik hulle plaaslike voortbestaan onmoontlik gemaak. In Suid-Afrika is die situasie van die blankes oneindig slegter as in Europa. Eintlik is die selfdood van ons vaderland sedert 1994 ‘n voldonge feit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.