Leon Lemmer: Elsa Joubert as Afrikaanspratende nie-Afrikaner

Elsa Joubert

Elsa Joubert (gebore in 1922) het in haar 95ste jaar die derde deel van haar outobiografie voltooi: Spertyd (Kaapstad: Tafelberg, 2017, 208p, R275; Amazon Kindle $22,91). Die boek het net 200 bladsye teks met min woorde per bladsy. Let op die buitensporige pryse waarteen hierdie boek te koop is. Die titels van die vorige dele van Joubert se outobiografie is ‘n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Ek het die Engelse vertaling van laasgenoemde werk op Praag (10 Junie) bespreek omdat die Afrikaanse teks selfs as e-boek $35 kos.

By daardie vorige geleentheid het ek die aandag op Joubert se gebrekkige vaderlandsliefde/patriotisme gevestig. Tydens apartheid het sy ontuis in Suid-Afrika gevoel. In die nuwe Suid-Afrika is sy steeds ongedurig. Tevredenheid/berusting wil nie oor haar toesak nie. Binne perke is dit seker aanvaarbaar, want selfvergenoegdheid kan dwaas en selfs afstootlik wees. In die vorige politieke bedeling was sy egter soms selfs gekant teen pogings om Afrikaans te bewaar. In die huidige opset het sy spoedig tot die besef gekom dat Afrikaans eintlik die enigste band is wat sy met die Afrikanerskap van haar kinderjare behou het. Sy het voorheen gepoog om verskille in ras, etnisiteit en kultuur te ontken; dat blankes in Afrika Afrikane moet word, dus moet verafrika. Later het sy blykbaar besef dat blankes nie maklik ontwesters word nie. Sy het haarself toe begin afvra of daar vir blankes plek in Afrika is, maar dit gedoen sonder om die houding van Afrikane te kritiseer. Dit het geblyk dat marxisme darem vir haar onaanvaarbaar is. Uiteindelik het sy besef dat ‘n mens sy identiteit eerder moet koester as opoffer.

In haar jongste boek word daar weifelende politieke en ander standpunte ingeneem. Lesers moet dus nie verwag dat hierdie rubriek klaarheid oor Elsa Joubert gaan bring nie. Waarop sy vasstaan, is dat sy steeds nie op Afrikanerskap kan of wil aanspraak maak nie. “Afrikaners is dit wat die meeste denkende Afrikaners reeds vir ‘n lang tyd nié meer wou wees nie. Sommige het hulleself [voorheen] Boere genoem” (p 123). In ‘n sin wil sy eerder ‘n Afrikaan wees: “Daar is ‘n diep, stil band tussen ons, tussen dié wat vir Afrika, sy woestyne en sy ooptes, lief is” (151).

Opsigte waarin Joubert aan insig gewen het, is die ouderdom en die broosheid van die lewe. “Al pad wat met minimum angs aangepak kan word, is die pad na die verlede” (9). “Om baie dinge te leer akkommodeer, is die vereiste van oudword. Ek hou nie van die woord ‘aanpas’ nie, ‘versoen met’ is miskien beter, maar dit dui aanhoudendheid, sonder einde, aan. In die woord ‘akkommodeer’ is daar hoop, dis tydelik, dit gaan verby” (43). Die ouderdom bring al hoe groter bewustheid van die onderskeid tussen liggaam en gees. Dit is moeilik “om te aanvaar dat die liggaam op ‘n ander pad as ek loop” (186-187). Aanvanklik skryf sy: “Die woonstel word nie my tuiste nie” (48). Later: “My woonstel is vir my ‘n redding, ‘n heenkome, ‘n skuiling … Ek is eindelik tuis” (54) en “na ‘n week gaan ek huis toe” (186), die Berghof-aftree-oord in Kaapstad.

Die inwoners van ‘n ouetehuis lei ‘n skynlewe (26); ‘n pseudo-lewe (153). Hulle is “skynmense” (153). Hulle is “skimmense” (156) wat “skimlewens” lei (155). Meedoënloos word almal ouer. “Skimtyd is aan die kom; elkeen het ‘n plekkie in die sagte pensvel waar die pyltjie sal binnedring, elkeen na sy aard” (158). “Eintlik kan Verlies die naam van al sulke oumensgeboue wees” (154). Wanneer jy jou intrek in die ouetehuis neem, is dit “‘n lewenswyse wat jy aflê en ‘n nuwe lewenswyse wat jy moet aanleer” (36). “Die mantel van sorgsaamheid wat deel van ouerskap was, het nou stadig en sag oor die kinders se skouers gaan lê” (135). “Ons is hier so uit die lewe, dit lyk my ons leef deur ander se emosies” (30). “Die droefgeestigheid wat agterbly sodra die deure agter die kinders toegaan, hoe kan ons dit bestry?” (158). In ‘n ouetehuis is jy in die voorportaal van die dood. “Dis al sekerte wat ons het, dat ons sal doodgaan” (94). “Dis ‘n gevaarlike paadjie wat jy nou loop, ‘n smal bruggie bokant ‘n afgrond” (42). “My lewe is nou ‘n doodloopstraat” (45). Geen wonder dat die inwoners “kamerkoors” ontwikkel nie (61). Die ouderdom met sy gebreke, operasies en siektes het sy leer ken. “Van die dood weet ek nog nie” (189).

Soos voorheen gaan Joubert polities oorverlig voort om na gelykheid en eendersheid te streef waar daar nie gelykheid en eendersheid is nie. “Ons het osmose behandel in plante en dit was altyd vir my wonderlik hoe die buisies die vog opsuig van mekaar totdat hulle gelyk is. Kan ons nie in ons wêreld van politiek en minderbevoorregtes ‘n bietjie die beginsel van osmose invoer nie?” (176-177). Wat Joubert nie in ag neem nie, is die sinsnede “vog opsuig van mekaar,” wat wedersydse onderskraging impliseer; dus nie eenrigtingverkeer van die gewer na die ontvanger, of van die gasheer na die parasiet, nie.

Joubert se verligte politiek kom veral tot uiting in haar omgang met bruin mense. Lenie, haar ma se huishulp, se woonplek is glo in die jare vyftig in die Paarl weens apartheid (die wet op groepsgebiede) verskuif. Lenie het “witgewerkte hande” gehad (10); “die wit binnekante van bruin mense se hande” (11). Maar dan gaan Joubert oorboord deur na die “fyn gelaatstrekke” van bruines te verwys en dit as “French faces” te karakteriseer. Hoekom? Omdat hulle glo “afstammelinge van die Franse Hugenote” is (11). Dalk is dit in uitsonderlike gevalle waar, maar meesal nie.

Sy onthou tydens vakansies in die Strand, toe sy ‘n kind was, hoe “bruin kinders wat op die rante van die stuk strand waar ons teken, kom loer, mekaar begin aanpor om nader te kom, maar hulle word weggeja” (76). Oor bruin werkers destyds in die Strand skryf Joubert op haar oordrewe manier: “Dis omdat die seewater daar langs die jetty vuil is en die branders gevaarlik kan word dat die werksmense na die middagetes daar kon kom swem” (78).

By geleentheid op reis deur die Karoo het Joubert se ouers haar opdrag gegee om ‘n gaar hoender, wat hulle as padkos gehad het maar waarvan die varsheid nie meer heeltemal vertrou is nie, aan bruin mense op ‘n karretjie te gee. Sy reageer daarop soos volg: “Ek wil om vergifnis vra oor die vir-ons-bedorwe hoender wat ek vir die karretjiemense gegee het” (80).

By Joubert was daar lank ‘n brandende begeerte om “swart skrywers van Afrika … aan die Afrikaanse leserspubliek bekend te stel” (84), insluitende boeke wat destyds verbode was (85). Sedertdien het die bruin huishulp in haar kombuis ‘n swarte geword; werklik swart, nie generies swart nie. Huishulpwees in ‘n blanke huishouding is ‘n voorbeeld van wat elders ‘n “ongemaklike naasbestaan” genoem word (137). In ‘n storie, “Agterplaas”, wat Joubert vóór Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) geskryf het, staan: “Daar is die swart vrou wat werk in my huis. Sy is nader aan my as ‘n suster … Sonder dié lewe is ek soos ‘n liggaam wat nie skaduwee maak nie” (122). Daardie “nader aan” dui egter veral op fisieke teenwoordigheid; glad nie op etnies-kulturele nabyheid/eendersheid nie. Carel Boshoff (1927-2011), die stigter van Orania, het heldere insig in hierdie saak gehad: As blankes, soos Joubert, nie bereid is om hande-arbeid te doen nie, is dit uiteindelik nie net haar liggaam wat ‘n swart skaduwee werp nie; die hele land word, soos tans, in ‘n swart skaduwee gehul.

Sy het noodgedwonge haar ideale aangepas. “Eers was my groot passie om Afrikaners te oorreed om swart skrywers van ons land en van die kontinent in vertaling te lees. Toe was my passie om nie-Afrikaanssprekendes Afrikaanse skrywers in vertaling te laat lees. Alles te laat. Nou wil ek deurgaans net smeek: Lees ‘n boek, enige boek, oor iets wat tot jou spreek, gee die boek ‘n kans. Hou hom in jou hande en lees hom” (150). Dit is betreurensaardig dat Joubert so ‘n pleidooi moet lewer. Vir my is ‘n boek soos ‘n gesonde dwelm. Ek moet altyd minstens een boek beskikbaar hê sodat ek kan lees wanneer so ‘n geleentheid hom ook al voordoen.

Een van die bruin mense wat gunstiger as blankes voorgestel word, is die taximan, David Klein. Byvoorbeeld, “Miskien was die engel maar David Klein gewees wat so versigtig en beskermend met ons werk, die oues van dae wat hy dokter toe ry” (115). Klein is die enigste persoon in die boek wat “meneer” genoem word (15, 16), waarskynlik as vergoeding vir beweerde “miskende menswaardigheid” (139). Klein se lonende roeping is om wanneer nodig die bejaardes van en terug na die Berghof-aftree-oord te vervoer. “Wat draai meneer Klein so? Dan betaal ek hom nog ‘n plaas se geld ook” (131). Voorheen was hy ‘n briewebesteller, het hy “possak gedra … ‘n jong man met geen ander toekoms nie” (33), volgens Joubert. Apartheid kry die skuld! Dit laat “my oë weer vol trane” (33). Hoe kan sy vir hierdie beweerde onreg vergoed? “Ek gaan vir David Klein geld in my testament nalaat” (32).

Joubert is sosialisties ingestel; dus, sy is ubuntu-getrou. Mededeelsaamheid is die wagwoord (100). Dit is nie genoeg as ons “alles gee wat ons nie nodig het nie” (99-100). Jy moet bereid wees om weg te gee wat jy nodig het – soos ‘n plaas? “Gee is wanneer dit vir jou swaar is om afskeid te neem van ‘n trui wat nog gebruik kan word” (101). Hoekom bied ons weerstand teen so iets? Dit is glo omdat ons “herinneringe aan die ‘goeie ou dae’ troetel” (101). Dit is “groepsdenke” wat die “struikelblok” is (101). Sy verwyt haarself oor “die nie-raaksien van ander, veral in my grootwordjare afgesny van ander rassegroepe” (117).

Joubert vertel hoe sy in De Waal-park in Kaapstad met ‘n hou platgeslaan en beroof is. Deur wie? “Vier mans, jonk nog” (12). Inligting oor hulle ras of kleur word doelbewus verswyg. Aanvanklik wou sy niemand van die misdaad vertel nie. Haar skoondogter het egter die voorval aangemeld maar, soos te wagte, “niks gebeur nie” (13).

Blankes word strenger as nie-wittes beoordeel. Soos in die vorige deel van haar outobiografie hou Joubert steeds nie van die Britte nie (15). ‘n Inwoner van die ouetehuis, ‘n “Ingelsman”, vertel: “My vrou en twee van my kinders is deur die Mau-Mau in Kenia in ‘n lokval doodgemaak” (37, ook 127, maar daar is hy ‘n Ier). Van Joubert se kant is daar geen emosionele reaksie of kritiek op die Mau-Mau se onmenslike wreedhede nie. ‘n Nederlandse inwoner vertel van haar ondervinding in die Ooste tydens die Tweede Wêreldoorlog en kort daarna toe Indonesië van die Nederlandse koloniale juk “bevry” is. “Haar pa is onthoof in die oorlog en haar broer, hangend aan ‘n valskerm oor die hawe van Singapoer, voos geskiet. ‘Dit was vir ons ontsettend om te moet aanvaar dat die liewe, vredeliewende Javane met wie ons so goed klaargekom het met al die verborge haat vorendag kon kom'” (63). Soos bv die eens vredeliewende, onderdanige ANC/UDF- en PAC-lede later in Suid-Afrika?

Joubert se pa wou hê dat sy die goue middeweg volg. “Maar ek kon nie” (14). Sy noem haar ma “‘n eiewys ou dame” (17). Dit lyk asof die appel nie ver van die boom geval het nie. “Ek weet nou vir die eerste keer ek was nie, soos my ma sou gesê het, ‘n ‘pleasant child’ nie, nie ‘n inskiklike kind nie. Ek lyk skoorsoekerig, eiewys, koppig en egosentries” (117). Wanneer Joubert na haar ma verwys, is sy geneig om na Engels oor te slaan. Die ouderdom louter ‘n mens sodat jy al hoe sagter word. “Jy moet leer toegee, met grasie, om gehelp te word” (65). Ander kere slaan haar vroeëre koppigheid deur: “As ek self besluit, is dit nie so ondraaglik soos dit sou wees as my kinders of wie ook al dit vír my doen nie” (132). “Ek moet meer oorreedbaar wees, minder onwrikbaar; meer toegee, minder aan my eie opinies vasklou, meer na ander luister, en die groot vyand is ‘righteous indignation’ … Jy het waarskynlik aan die negatiewe help bou deur jou gedagtes” (197). Ja, anders as in die geval van veral bruin mense is Elsa Joubert geneig om Afrikaners ongunstiger voor te stel as wat hulle was en is.

Haar seun moedig haar aan om voort te arbei as skrywer. “Dit gee ‘n struktuur aan my dag” (135-136). Die skrywer in Joubert kom tevoorskyn wanneer sy beswaar opper teen die manier waarop Afrikaanssprekende kinders deesdae praat; dat ‘n enkele Engelse woord, soos “nice”, “cool”, “stunning” of “amazing”, gebruik word om sonder skakerings ‘n ervaring te beskryf (19). “Julle verloor nog al julle woorde” (20). Joubert heg groot waarde aan woorde. Oor haar as bejaarde skryf sy: “Woorde wat wegraak, is traumaties” (64), maar “gedagtes wat verlore gaan, is ‘n groter probleem” (64). “Dit voel my ek het weer my ou kwaal, ek moet alles agternaloop met woorde, anders weet ek nie wat regtig gebeur het nie” (61).

Daar is ‘n palmboom in die tuin van die ouetehuis wat hulpeloos aan swamme uitgelewer is. Dit kan vertolk word as ‘n simbool van ‘n land soos die nuwe Suid-Afrika wat weens ‘n dwase politieke opset gedoem is. Joubert skryf waaragtig: “Ons moet gewoond raak daaraan” (30). Sy het haar vroeëre politieke strydlustigheid afgeskaal en wil nie polities inkorrek stry teen onreg in die hede nie.

Afrikaners vind steeds nie behae in haar oë nie. “Wat is ‘n groepsidentiteit? Dis ‘n prentjie soos jy aan jouself dink, as mens en as lid van ‘n groep. ‘n Mens moet ‘n identiteit hê … Ek dink nie ‘n groep word uitgewis deur nederlaag [die Anglo-Boere-oorlog] nie, maar deur onreg [apartheid]” (124). “Moet ons aanvaar dat die Afrikaner sy identiteit gekry het in ‘n vals kollektiewe ‘heerser/baas-klas’ teenoor ‘n vals kollektiewe ‘onderhorige klas’? … daarom is hy nou identiteitloos. En daarom dat hy soveel diskoerse hou oor die vraag: Wat is ‘n Afrikaner? En sy enigste groepsbate, sy taal, is onder druk. Vinnig aan die gly. Dalk moet ons aanvaar dat nasies of volke uit die mode is. En dat alle tale onder bedreiging is van ‘n wêreldtaal. Kompertaal. En ons daarby berus” (125). Die verwysing na kompertaal is misplaas. In die geval van Afrikaans is dit die wêreldtaal Engels wat ‘n groot bedreiging vir sy voortbestaan inhou. Is dit naasteby wys om, soos sy voorstel, in die dreigende ondergang van Afrikaans te berus?

“Ek dink Afrikaans, ek praat Afrikaans. Ek is ‘Afrikaansprater'” (190). “Al sê my kop vir my ons moet aanbeweeg, dat Afrikaans se tyd verby is, ons moet globaal dink, dan sê my hart nog steeds: Ek is ‘n Afrikaanse taalpatriot … My standpunt het nou helder geword: Los die groepdenke of groepsidentiteit. Bewerk die klein erfie wat jou toebedeel is, en alles sal daarmee saamkom” (128). Totdat swartes met hulle sterk groepsbewussyn (swart mag) sonder vergoeding of gewete ook op daardie klein erfie beslag lê?

Die nuwe Suid-Afrika is anders as die oue en nie noodwendig beter nie. In Kaapstad is die Parade saans “helder verlig, daar is sekerheidswagte met honde. Só ken ek dit nie” (48). Treine is nie meer dieselfde nie. “Die trein is oud en kort verf; die vensters is nie gewas nie” (49). Ook: “Ek nie meer lus is vir Seepunt se promenade nie” (131-132). Die hoofredes is moontlik omdat Seepunt multikultureel en gevaarlik geword het, maar dit word nie gesê nie. “Die werkers toi-toi, hulle gooi klippe in die pad, hulle rol bande uit, die bande gaan lê en hulle word aan die brand gesteek” (98). “Ons is lamgeslaan deur die geweld wat ons nou reeds so lank moet verteer. Ons gebou is beveilig met ‘n nuwe elektriese heining van gepunte staalstawe. Ons het ons eie kragopwekker en snags deurpriem die sterk soekligte die omringende donker” (99). Dis soos in ‘n oorlogsituasie, terwyl wyd beweer is dat die nuwe Suid-Afrika vrede sou bring. Anders as die ewe onpraktiese Karel Schoeman is Joubert darem nie beswaard oor die elektriese heining nie.

Maar oor die nuwe Suid-Afrika openbaar Joubert ‘n gesindheid van: Nogtans sal ek jubel. “Wie ek en my mense is? Wie ons is noudat ons nie meer die gehate nasionaliste of apartheidsmense is nie? … Afrikaans is meer as die gehate apartheidstaal … [Anglisisties:] Taal alleen is ek nie” (126). Later, wanneer iemand sê: “Laat dit alleen”, noem sy dit “n “gruwelike anglisisme” (185). Sy het mettertyd “‘n verbintenis met die ander mense wat saambly hier in Berghof” ontwikkel (126). “‘n Verskeidenheid van mense wat ons grense uitstoot” (126); dus die saligheid van diversiteit. “Ek voel ‘n band wat wyer strek as taal. Ek is bly om bevry te wees van die ou dinge van die inperkende verlede. Hoe verryk hierdie mense my nie” (126-127). Ander kere, veral wanneer sy aan haar kleinkinders dink, besef sy blykbaar dat die nuwe Suid-Afrika ‘n kolossale en (vir wit mense) gevaarlike gemors is, “te verskriklik om te bedink. Wat lê alles vir hulle voor?” (143-144).

Dit lyk asof daar by Joubert ‘n sin vir wat prakties is, ontbreek. Oor haar ma skryf sy: “Sy was nooit baie goed in die kombuis nie; ek ook nie” (82). Op haar oudag besef sy egter “hoe gesellig ‘n kombuis kan wees” (82). Sy erken dat sy nie veel “gesonde verstand” het nie (54). Let op hierdie eienaardige, eintlik mislike, siening van die Afrikaner se verlede: “Ons het dikwels en graag onsselwers gevier … ons Republiek, of Taal, of ons Gelofte” (67). Volgens haar is die Afrikanervolk “‘n mitiese volk … wat nooit verrys het nie” (68). Sy verwys na ons “geknypte siele” (67). “In 1994, ná die Verandering, was ons skaam en onseker oor hoe om hierdie verlede te hanteer” (68). Joubert verwys na Berta Smit (1926-1997) wat tot haar eer “al een van al ons skrywers [was] wat [in 1994 in ‘n bundel wat deur André P Brink saamgestel is] die eerlikheid gehad het om te skryf: ‘Vanaand om kwart voor twaalf word ons landsvlag vir die laaste keer gestryk … dis soos ‘n vel wat bloeiend van my afgestroop word. Nee, Here, ek kan nie'” (68). Deesdae is Joubert dankbaar vir die stukkie van Die Stem wat darem in die huidige volkslied behoue gebly het (69).

“Die selftwyfel neem toe” (116). “Mens sien en sien ook nie” (107). Soms is Joubert blykbaar die enigste heldersiende onder die blankes in haar geselskap. Byvoorbeeld, op besoek aan ‘n deftige ou plaasopstal in die Paarl: “Julle is blind, wou ek uitroep, kyk om julle rond, sien die ander mense raak, nie net óns wat op hierdie modelle-loopplank tussen die geelhout en blink koper deur stotterend ons balans probeer behou nie. Wie vryf die koper blink, wie smeer die politoer aan die breë planke?” (141).

Ander kere vra Joubert haarself af: “Kan ek my geheue en verbeelding uitmekaar hou? … Ek kan my herinneringe nie vertrou nie. Is dit wat ‘kinds’ word beteken?” (77). Oor “die ou apartheidsdinge” skryf sy: “My herinneringe is daardeur gepokmerk” (118). Sy voel steeds skuldig en herinner ons aan wat die Bybel sê: “Oortredings van die vaders sal tot die derde en vierde geslag oorgedra word. Dis ons kinders, ons kleinkinders en húlle kinders wat sal moet betaal” (118). Asof die blankes nie reeds genoeg rasgebaseerde onreg in die nuwe Suid-Afrika verduur nie.

Soos in die vorige deel van haar outobiografie gaan Joubert voort om oor NP van Wyk Louw se frase “lojale verset” te kla. Dit is glo “‘n mak verset” (123). “Verset moet nie lojaal wees nie. Verset moet skril, sterk, afbrekend wees” (120). Tydens apartheid was Joubert as verset aanstootlik en afbrekend. Tans is sy geneig om eerder te berus. Oor wanneer sy koerante lees, skryf sy: “Afrikaans op Stellenbosch. Nie weer nie. Blaai om” (98). Dit is die soort kondisionering wat verset vernietig. Afrikaners moet eerder volhou om Wim de Villiers en sy meelopers se dwase, onetiese minagting van Afrikaans aan die kaak te stel, al sê die howe hy kan maar lustig voortgaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Suidpunt

    Voor Sussie en Rifrug vra, ek is amper klaar met daardie opstel.

    Terug na die artikel.

    Daar is ‘n tyd om te kom, en ‘n tyd om te gaan. Hierdie vrou se vervaldatum is 25 jaar gelede.

    “Dalk moet ons aanvaar dat nasies of volke uit die mode is.” / “Kompertaal.”

    Vrou, moet asseblief, om wil en dank, nie jou verkalkte are ten toon stel nie. Of jy nou grysaard is of nie – jou kop kap aan. Dit raas.

    Kortom: Jy weet nie waarvan jy praat nie.

    Veral jy wat so lekker in Afrika rondgetoer het – waarom sien jy nêrens op ‘n Afrikakaart oor volkekunde Frans, Engels en Portugees daardie kaarte bedek nie? Dit is my insien van “globaaldenkery” – die waarheid. Daardie drie tale word slegs deur die évolués en deur niemand anders gebesig nie. Hy vorm die skrale minderheid. Berus nou daarby.

    Weet jy dan nie die Kroatiese Wikipedia is van “verregsheid” en “fasc _ _ me” aangekla in 2013 nie? Hul interpretasies van die Serwiërs is veral nie besonder vleiend nie. En daar kan niks omtrent die saak gedoen word nie, want vir die administrateurs daar is die huwelik bestem tussen man en vrou en nie tussen man en man of vrou en vrou nie. Enigiemand wat aan hierdie reël kom lol, word summier geblok. Selfs die Kroatiese owerhede het al gevra mense moet eerder die Engelse Wikipedia besoek…

    En wat bedoel jy met “kompertaal?” Bedoel jy nou Engels en Russies? Engels se aandeel in die internettaal bly aanhoudend daal soos meer tale hom uitstoot ( https://w3techs.com/technologies/overview/content_language/all ). Hy was in die eerste jaar 100%, maar word uitgedruk deur veral Russies, Duits, Japannees en al die derduisende ander tale op aarde. 22 jaar later het hy verswak tot 51,1%. Dit is ‘n gemiddelde afname van 2,2% per jaar. Russies boer vooruit. Wag maar wanneer die Sjinese eendag gratis internet kry…

    Op Wikipedia het Engels ook aanvnaklik die heersende aandeel gehad, maar al die ander tale ter wêreld se aantal artikels druk hom terug in ‘n blik. Die hoeveelheid besoekers van die Engelse Wikipedia is trouens ook besig om te daal. Die bydraers ook. Ons kan dit inligtingversadiging noem (minder bydraers, want die meeste inligting is klaar reeds gedeel), bydraers wat diep seergemaak voel deur lastige administrateurs, die omslagtige reëls, meer mense wat in hul eie moedertale of kleiner tale belangstel as vroeër (ons het byvoorbeeld twee Franssprekendes en ‘n Duitser wat gereeld by die Afrikaanse Wikipedia ‘n draai kom maak).

    En buitendien skat, as die hele wêreld dan Engels praat – wat maak jou miskien so spesiaal? Waarom, meneer, moet ons jou aanstel? Wat het jy nog op die CV te bied? Kan jy hierdie identiteitskrisis insien van verloopte Afrikaners soos jy? Kan jy insien waarom ander mense belangstel in hul eie tale en ander wildvreemde tale? Kry tog ‘n stokperdjie. Soos Bybelstudie:

    “Oortredings van die vaders sal tot die derde en vierde geslag oorgedra word.” […]

    Duidelik moes jy NOOIT in die kerk aangeneem geword het nie. Jy dop jou kategisme loshande.

    Eks 20:5 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
    Eks 20:6 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

    En dan:

    Deu 24:16 Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.

    En dan moet jy asseblief vir my sê of jy nou God die Vader of God die Staat vereer. Ek stel baie belang.

    • Ou Transvaal

      KOLSKOOT!!

  • John

    Leon, as ek die boek moes lees, sou ek waarskynlik gevoel het my oĕ was misbruik en ‘n stukkie van my lewe verlore.
    Dis vir my uiters UITERS belangrik om die een ding wat hierdie ego maniese individue soos suurstof nodig het te weerhou – nog meer aandag.

  • Joe Hall

    ‘…Ander kere vra Joubert haarself af: “Kan ek my geheue en verbeelding uitmekaar hou? … Ek kan my herinneringe nie vertrou nie. Is dit wat ‘kinds’ word beteken?”…’

    In die lig van die antie se vervelige en oorbekende temerasies, hoef sy geen twyfel te koester dat haar aandagsoekende temerasies inderdaad tiperend van ‘n ‘kindse’ aandagsoeker is nie.

  • Ou Transvaal

    Nog ‘n irrelevante stuk nutteloosheid wat onder die dekmantel van “skryfkuns” net soos moderne kuns aan ons afgesmeer word …..Wat is die nut daarvan ??? Hierdie is net nog ‘n boek wat spoedig op die winskooprak van teleurgestelling gaan opeindig …minder werd as selfs ‘n verpligte voorgeskrewe werk op universiteit …

  • Nico Coetzee

    Hierdie ou kat se kop het nog altyd geraas. Hoekom het sy nie jare gelede met ‘n swart man getrou en in Cross Roads of in die Transkei gaan woon het nie ? Sy is identiteitloos, verseker !

    • leonlemmer

      In 1948 was Elsa Joubert smoorverlief op ‘n Moslem-Indier, Mahmoed Hassan, in Kenia, maar hy wou haar nie he nie – kyk my rubriek: “Elsa Joubert se onpatriotiese reis” (Praag 10 Junie).

    • Tog meen ek dat tant Elsa se boeke ons insigte van die verwarde blanke Afrikaner wie sukkel om sin te maak van oorsprong, identiteit, verraad, nuwe eendrag maak mag en doel, versterk. Dit weerkaats tog die verwarde draaikolkdenke van talle van ons mense wat ons tans redelik magteloos in ons volksnageboorte laat rondrol, al “nagmaal-teugende” aan die braaksel van ons eie bedrog.

  • boerseun

    Onpatrioties tot haar volk tot die dood toe!

  • Antonie Geyser

    dit is vir my onbegryplik dat n volk met soveel meelopers, onderkruipers, manteldraaiers en boedel oorgewers nog n gevoel van nasietrots kan behou, -skande

  • Mr Domestos

    Ek verlekker my in die feit dat sy nou na die “departure lounge” gepos is en waarskynlik haar kossies met ‘n strooitjie slurp. Bowendien moet haar hoog geagte alternatiewe vrinne nou haar stert skoonhou terwyl sy dit besef. Hoop sy is nog sommer ‘n hele paar jaar in daardie posisie, kug kug.

  • skobbejak

    Kom ons wees eerlik met mekaar, Afrikaners was nie altyd plesierige mense nie, maar ons was ook nie almal skobbejakke nie. Kyk wat het die Franse gemaak,- hulle het gebastileer en Louis en sy tjomme opgedons, wat maak ons – ons het gesit en kyk en mekaar met kluite bestook al het ons geweet dat die “piper” sy deuntjie speel en ons Volkie na die afgronde van die NSA lei – Toe ons Generaals afgedank word en ons Volk as sulks geneutraliseer word – het ons dit apaties en soms met uitbundige vroomheid aanskou en Gods water oor die akkers van ons Vaders laat vloei – Onthou ons die dag toe die AWB die voertuig in die Codesa gebou wou parkeer ? – of onthou ons liefs daardie dag toe Eugene op die plein voor Oom Paul van sy perd afgeval het ? Intussen poog ons nog steeds om weer ons Apiesrivier Rubicon te oorkruis – terug van waar ons gekom het. Hmmm. Laat mens dink ne * Ek is nie AWB nie maar eerder n oom Andries ondersteuner – maar die Volk het hom in hul grimmige nasionalistiese beterwetigheid verstoot. Hoe jammer tog !
    Nou is daar slegs lieplappers, sterk getwakte skrywers en rigtinglose Nuwejaars-belofte-mense oor om ons Volkie te lei – Is ek reg of is ek verkeerd ? Checks and Balances – That is the question. ( jammer vir die swak taalgebruik )

  • Nico

    Sy woon in ‘n ouetehuis en noem ‘n Ingelsman en Hollander. Waarom nie ‘n ouetehuis in Kayelitsha tussen die Xhosas en Zoeloes nie? Beoefen sy steeds apartheid?

  • sussie se vissie

    Kan maar net aanvaar dat, soos in die dae van diensplig, word jy as pers- ge’permde’ ouetehuis inwoner tot nommer en naam gereduseer.
    Die ‘afstand’ wat die uwe dus tussen haar en die res vd pleb-skuifelende bewekoppies wil inwig ( en behou ) – val op.
    Ter beklemtoning van jou ‘intellektuele individualisme’ ( ‘ons is nie almal so nie’! ) – trek jy maar ( soos haar skrywes ), n Lady Gaga-‘move’.
    n Rokkie geweef van rou vleis verseker kykersoë as jou aanhang begin taan.
    Tyd vir rus & pith…meen sus.

  • Skisofreen

    Ek’t nie die vaagste benul wie die persoon is nie.

    • sussie se vissie

      Spaar jou die moeite om uit te vind en onthou jou Asenapine vanaand.

  • Charles

    Dankie Leon, ek weet nie wat ons Afrikaners sonder jou sou doen nie:)
    Omdat jou artikels redelik gewigtig [“langdradig”, indien ek ‘n ongeskikte uitvaagsel was 😉 ] en nie bondig is nie, druk ek dit telkens uit ten einde dit by die huis te verorber. Baie, baie dankie weereens !!!

    Afrikaans leef !!!

  • Louise

    Wat ‘n pot stront. Leon Lemmer, jou kop raas.

    • sussie se vissie

      Gefrustreerd? No prob. Druk net jou kittelaar-gadget innie ‘charger’ tante.

      • Louise

        Haha – ek sien nou eers hierdie. Toemaar meneer, ek het nie jou toestemming nodig nie.

    • leonlemmer

      Louise, klik op Rubrieke en Leon Lemmer. Daar is dosyne rubrieke wat jou sal mishaag. Moenie net veroordeel nie. Motiveer waarom jy dink daar word twak geskryf.

      • Louise

        Leon Lemmer, dankie vir jou redelike beskaafde antwoord op my onbeskaafde kommentaar.

        Die resensie lees as ‘n aanklag teen Elsa Joubert oor haar “gebrekkige vaderlandsliefde/patriotisme” (blykbaar die grootste sonde denkbaar op hierdie webwerf), en haar dislojalitiet teenoor Afrikaners. Haar ander oortredings is dat sy “ongedurig” is, sy kritiseer nie die houding van die Afrikane nie, sy neem “weifelende” politieke standpunte in, sy is polities oningelig, haar feite kan blykbaar nie vertrou word nie (Lenie se mense is “glo” gedwing om te trek), en o ja, sy kan nie goed kosmaak nie. Die resensie is swaar aan ‘n subtesks van verkleinering en minagting van die skrywer, wat my nie aanstaan nie.

        Teenoor Elsa se noem van die bybelse straf van sondes tot in die derde en vierde geslag, meen jy dat Afrikaners al genoeg gestraf is. Wie besluit wat is genoeg? Blykbaar is dit goed en reg dat Afrikaners hulle groepidentiteit moet beskerm en uitleef, maar as ander dit doen word dit die dreigende “swart mag”.

        Dit is wel interessant dat Elsa verwys na die goeie Javane wat tot sulke wreedhede in staat is. Om te glo dat’n ander kultuurgroep net goed is is net so erg as om te glo dat hulle ner sleg is. Net soos Westerse kultuurgroepe is ander ook in staat tot vreeslike wreedheid en haat, soos hulle ook in staat is tot dieselfde vlakke van liefde en omgee.

        Volgens jou kan Apartheid nie die skuld gegee word dat die taximan voorheen slegs ‘n posman kon wees nie. Hoe sal jy weet? Ken jy sy verlede en omstandighede? Hoe weet jy dat hy nie onder ander omstandighede ‘n doktor of argitek kon wees nie? Maar volgens jou is sy huidige beroep as taximan bai3 “lonend”, heeltemal goed genoeg vir ‘n kleurlingman (of het jy dit sarkasties bedoel)?

        Dankie vir die geleendheid om my griewe te lug. Sal dalk eendag van die ander rubrieke lees, maar nou eers weer terug na die werklike lewe.

        Groetnis.

        • leonlemmer

          Louise, ek is al lank verby die stadium waarin ek myself ten alle koste probeer regverdig. Maar ek sal ‘n bietjie verduidelik. Ek aanvaar dat daar verskillende standpunte oor ‘n saak kan wees. Ook dat ‘n mens ‘n boek uit verskillende invalshoeke kan benader. Ek het sekerlik nie probeer om ‘n 90+-jarige te minag nie. Wat in haar jongste boek staan, is ‘n voortsetting van ‘n anti-Afrikanergesindheid by Joubert wat ek in haar vorige boek uitgewys het (Praag 10 Junie). My standpunt is dat daar ‘n herwaardering behoort te wees van die rol wat Afrikaners in Suidelike Afrika en elders, bv Kenia, gespeel het. Afrikaners was en is nie volmaak nie, maar hulle verdien ‘n beter evaluering as wat hulle veral sedert 1994 verduur. Wat ek uiters afkeuringswaardig vind, is dat blanke, mede-Afrikaanssprekendes, soos Joubert, gevoed deur propaganda, met oorgawe aan hierdie vertrapping deelneem. As daar (‘n mate van) eensydigheid in my bespreking is, is daar sekerlik ook tekens van eensydigheid by Joubert en Louise.

          • Louise

            Leon Lemmer, dalk is Elsa Joubert en ander se afkraking van die Afrikaner ook maar ‘n reaksie op die voeëre ongebalanseerde ophemeling van Afrikaners as alles wat goed en reg is. En hierdie ophemeling was dalk weer die reaksie op Engelse afbreking en onderdrukking van Afrikaners na die Tweede Vryheidsoorlog. En so gaan die bose kringloop voort.