Leon Lemmer: Om die Afrikanervolk aan kant te maak

M.E.R.

MER (Maria Elizabeth Rothmann, 28.08.1875-7.09.1975) is dikwels geloof vir haar eenvoud en opregtheid, sowel in haar skryfwerk as in haar lewe. Ek gaan nie haar lewensverhaal vertel nie maar eerder skryf oor haar politiek. Met die oog hierop verwys ek agtereenvolgend na drie bronne: haar outobiografie (1972), ‘n huldigingsbundel (1975) en Jaap Steyn se MER-biografie (2004).

My beskeie deel

Die teks van MER se boek, My beskeie deel: ‘n outobiografiese vertelling (Kaapstad: Tafelberg, 1972, 3de druk 1976, 305p), is hoofsaaklik in die jare vyftig geskryf. Daar word egter min besonderhede oor die periode ná 1938 verskaf. Sy werp heelwat lig op die laaste kwart van die 19de eeu en tot by die opkoms van Afrikanernasionalisme in die era van Barry Hertzog. Oor die DF Malan- en apartheidsera is daar min inligting omdat haar lewensbeskrywing eintlik onvoltooid is. Maar daar is baie gegewens wat as rigsnoer en aanmoediging vir Afrikaners in ons huidige bedenklike situasie kan dien.

Soos haar ma en MER se oudste broer, Frits, wat ‘n Transvaalse burger was en die volle drie jaar van die Anglo-Boere-oorlog (ABO, 1899-1902) geveg het, was MER republikeins en nie-Engelsgesind; dus sterk “Boergesind” (p 129, 132): “Ons wat so sterk simpatie had met die strewe van die republieke [Oranje-Vrystaat en Transvaal] na volle onafhanklikheid” (99). “Ek dink daar was nooit, wat onse volksgevoel betref, ‘n afvalligheid by ons van die beginsels wat Frits uitgeleef het en vir ons ingeprent het deur woord en daad nie” (93). “Ek dink my definisie van sonde het gegroei uit ‘n onbewuste betragting van Frits: ‘Sonde is om eie voordeel uit ander se nadeel te haal'” (94); soos myns insiens die geval is met bv die ANC-regering se regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Oor die Engelse predikante in haar tuisdorp, Swellendam, skryf sy: “Hulle het ook maar die Engelsman se kenmerk gehad: wat hy nie wil sien nie, dit sien hy nie” (22). Maar daar was ook die Skotse Murrays: “‘n Merkwaardige familie wat besonder bygedra het tot die vorming van ons volk” (52). Destyds het MER ‘n afkeer gehad van “die dubbele lewe wat die groot gros Engelse mense in ons land gevoer het: die ‘Society’-verkeer” met mede-Engelse en hulle anderste verkeer met ander mense. MER het “een leefwyse” verkies: “‘n mens is soos jy is” (34). ‘n Mens moet nie “doenig … met die skyn” wees nie (35). Dink bv aan die oorverligtheid wat so baie plaaslike blankes, insluitende oud-Broederbonders, deesdae uitstraal.

Op skool was daar “gedwonge Engels en strafbare moedertaal” (36). Sommige van die Engelse onderwysers was Afrikaners vyandig gesind, bv “Dit het toe dikwels gebeur dat sy [Ellen Middelton] met skerp minagting van die Afrikaners se gewoontes, geskiedenis en taal gepraat het, en daardeur het sy ons kwaad berokken” (59). Sommige Afrikaanssprekendes het Engels as huistaal gehad en hulle kinders het Engelse name gekry (36). “Ook het goeie ouers na goeie onderwys vir hulle kinders gesoek wat loopbane toeganklik sou maak. En daarvoor was Engels onmisbaar” (37). Deesdae word dieselfde argument steeds gehoor.

“As daar ooit naby-gekom is aan die sterwensuur van die ou Patriotse strewe, dan was dit in daardie jaar toe Jameson sy planne vir die oorrompeling van Transvaal saam met sy gelykes gesmee het” (92). Die Jameson-inval (1896) en die ABO het ‘n kentering gebring en Afrikanernasionalisme aangewakker (36). “Ons het … die gees van ons voorouers in ons gevoel roer” (91). Die Jameson-inval het vir MER gewys dat “ek as kind van my volk my plig moes sien en aanvaar” (95). “My huistaal was nooit anders as Afrikaans nie, uit eie bodem gevorm, in die dieptes voedend” (92). Haar familie en vriende se leefwyse is “op die ou Patriotpatroon gevorm, en die gevoel waarmee ek mens geword het, dat ek tog by hulle en nêrens anders tuishoort, het my nooit verlaat nie. Hoe mooi en aanloklik en interessant die Engelse aanknopings was, dit het altyd aanknopings gebly en nooit vereenselwigings nie” (92).

In Paul Kruger se Zuid-Afrikaansche Republiek het MER eerstehands waargeneem ‘n “voortdurende verset teen magte wat onse natuurlike volksvorming aan bande wou lê, ‘n verset wat diep ingewortel was in die Afrikaanse volk en deur onse geskiedenis geloop het lank voor daar ‘n Groot Trek was … die verset het ten spyte van die Engelse oorwinning in die Tweede Vryheidsoorlog [ABO]* nooit opgehou nie; dit leef vandag nog voort. So iets is dan, lyk dit my nou, deel van die normale geestelike toerusting van ‘n gesonde volk” (110). Wat het sedert 1990/94 van daardie verset en eens gesonde Afrikanervolk geword? Tans leef ons ongetwyfeld in abnormale omstandighede. Vorentoe sal daar hopelik ‘n kentering kom. [* MER het beswaar teen die benaming “Boer War” omdat dit impliseer “die Boere was dié wat oorlog gemaak het, nie die Engelse nie” (131). Die eertydse benaming “Vryheidsoorlog” vir die ABO word deesdae vermy omdat mense, weens ANC-propaganda, geneig is om aan die sabotasie en terrorisme van die ANC en PAC as ‘n bevrydingsoorlog te dink; dus bevryding van bv blanke politieke beheer.]

Tydens die ABO was daar krygswet in die Kaapkolonie. Let op die ooreenkomste met die nuwe Suid-Afrika. “Daarin was vernedering, die uitvoer van minderwaardiges se bevele, die verduur van alles wat sulke vreemde oorheersers … sou uithaal om hulle heerskappy te toon sonder vrees vir nadelige gevolge vir hulleself. Mense se perde en vervoermiddels [deesdae bv plase en maatskappye] is gekommandeer, pryse deur die kopers vasgestel … Bewyse van ‘oortredings’ was onnodig – aanklagte was genoeg* … Dit was vir ons swaar om die vernedering te verdra; ons het gesug daaronder. Maar ons het vandag niks waaroor ons ons moet skaam nie” (140-141). [* Soos in die geval van die hedendaagse Menseregtekommissie?]

Terugskouend skryf MER: “Wat met ons volk gebeur het, het vir my, soos vir elke normale Afrikaner, altyd diep aangegaan. As ek nou terugkyk op my eie lewe en op wat ek van die voorgeslag weet, dan sien ek dit kon en kan nie anders nie: dit is ‘n kwessie van selfbehoud, van dood of lewe. En lewensbehoud is ‘n gesonde en basiese strewe by alles wat bestaan. Ook leef ‘n mens nie alleen in die eie persoon nie, maar deur en met jou groep of volk. Word die volk se lewensfunksies gekeer, kwyn die indiwidu ook … skaars het ons die lendene omgord om die Kompanie uit te daag, toe was die Engelse daar. Vir hulle was onse volksgees net so tot ewige las … hierdie Engelse volk is met die oortuiging gebore dat ander volke, ander tale, ander tradisies, sedes, gewoontes nie eintlik daarop aankom nie, en dat die enigste werklike bestaansreg, dié van die Engelse volk, tog eindelik deur almal erken moet word. Hulle kon nie, en kan vandag nog nie (in 1952) verstaan dat ons die saak nie so insien nie” (166). Sedertdien het die situasie toenemend vererger tot: Afrika (by uitstek of selfs uitsluitlik) vir swart Afrikane.

MER skryf: “Wat het die Afrikaners tog nie al onder die betowering van die vryheidsdroom beleef en verduur nie! Slagtersnek. Die Trek. Vegkop. Bloedrivier. Majuba. Rhodes. Jameson. Die Tweede Vryheidsoorlog. Vereeniging. Milner. Die goud- en diamantbase. Die Konsiliasie-politiek” (167) – deesdae transformasie en versoening genoem.

Enkele jare na die ABO het die Oranje-Vrystaat selfregering gekry. As minister van onderwys het Barry Hertzog “gelyke verpligting van die twee landstale in die skole” deurgevoer. Toe klink die beskuldiging op: Hertzog “wou Hollands vir die stomme Engelse kind die keel indruk” (168). Later het dieselfde beswaar teen Afrikaans in Soweto, Stellenbosch en elders opgeklink. MER sê: “Ek kan nie verstaan dat ‘n mens die hart se gevoel in ‘n vreemde taal wil beskryf nie … Daarvoor is die eie taal die beste” (263). Hertzog het gesê: “Ons moet ons nie beskou as iets anders as ‘n vrye volk nie” (174). MER voeg by: “Vryheid [is] onontbeerlik … vir die ontwikkeling van wat gesond is in die mens” (265).

MER is in 1975, die jaar waarin die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl onthul is, tydens die hoogbloei van Afrikanernasionalisme oorlede. Daarom kon sy skryf: “As ek, ou mens, nou oor my jare terugdink, dan is daar nie baie wat ek eintlik anders wens nie” (51). Onder nasionalisme het sy verstaan “liefde vir die eie volk en ‘n begeerte om daarvan ‘n gesonde, intelligente en eerbare volk te maak” (229). Sy sou onmoontlik kon voorsien dat ‘n skrale 15 jaar later ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes van 1990 af sou begin om hulle mandaadloos aan te matig om die ondergang van die Afrikanervolk te probeer bewerkstellig. Tot op hede het die klippe nog nie eens werklik begin om oor so ‘n slawementaliteit uit te roep nie.

MER loof die Afrikanerleiers van weleer wat hulle nie by die konsiliasiepolitiek laat betrek het nie as “koershouers; en koershouers in ‘n verwarring is onmisbaar” (179). “So was dit met Kruger en Steyn en Hertzog, met De Wet en De la Rey, met Beyers, met Danie Theron en Scheepers” (247). MER het duidelik onderskei tussen diegene wat rigting-houdend is en dié wat rigting-afwykend is (288). “Die politieke stryd [is] ‘n stryd om onse voortbestaan” (225). Hierin het Die Burger, anders as deesdae, ‘n leidende rol gespeel. “Die koerant … moet die hele volkslewe voed” (225). Daar was by MER ‘n afgestemdheid op Afrikaners: “Die hoogste lewensgeluk … is die omgang met mense by wie jy innig pas” (202). “Lewensvreugde [is] die teelstof vir die geestelike groei” (274).

MER 100

Ter herdenking van haar 100ste verjaardag en ter huldiging van MER is ‘n bundel met 12 essays gepubliseer: MER 100 (Kaapstad: Tafelberg, 1975, 116p). In die flapteks staan: “So word daar dan weer ‘n venster oopgemaak op die literêre bydrae van ‘n skryfster wat ‘n besondere aksent aan die Afrikaanse taal en die letterkunde gegee het.”

Hennie Aucamp noem MER ‘n “aristokraat van die gees” (p 1) en ‘n “vrou wat haar mense ‘n lang lewe lank geleer het om hul eiegoed raak te sien en lief te hê” (7). Haar ideaal was dat haar en andere se werk “bouwaarde” moet hê” (5). In haar outobiografie noem sy diegene waarvoor sy waardering het telkens “gewers”. In 1950 is daar ook ‘n boek van haar met die titel, Die gewers, gepubliseer. MER se ideale staan in skrille kontras met die absurde status wat afbrekers en ontvangers in die nuwe Suid-Afrika verwerf het.

Audrey Blignault wys daarop dat MER “ootmoedige werklikheidsdiens” gelewer (14) en “verhelderende stukrag” verleen het (19). Haar ideaal was “om eenvoudiger, eerliker, meer onvervals jouself te wees” (19).

Elize Botha haal MER soos volg aan: “Ek maar altyd wil keer dat toekomstige geslagte, onkundig omtrent die stoffasie waaruit hulle ontstaan het, iets waardevols sal verloor om hulle rigting te gee” (25). Daar is geen moontlikheid dat Afrikaners tydens die ANC-bewind in die staatskole waarheidsgetrou oor hulle en andere (bv swartes) se geskiedenis ingelig sal word nie. Daar is al voorgestel dat ouers hulle kinders oor ons geskiedenis moet inlig, maar hoeveel ouers doen dit of is in staat om dit doeltreffend te doen? Die skade wat die dwase 1990/94-magsoorgawe aangerig het, is ook in hierdie opsig onberekenbaar en dikwels seker onherstelbaar.

Alba Bouwer verwys na MER se skryfwerk wat (in die woorde van MER) “uit onse mense en uit onse eie bodem” gekom het (31). Vir MER was die Afrikaners ‘n “baanbrekersvolk” (30).”Die groot opbou van die volk” moet sy “houkrag” behou (31). Ons moet ons “aksente van die onbelangrike na die belangrike verskuiwe” (33). Hierin moet die Kerk ‘n “koersbepaler” wees (35). MER sê: “Dit lyk my tog asof daar nêrens groei kan wees sonder ordelikheid nie” (34). Deesdae kom bitter min van MER se gesonde idealisme tereg. In die nuwe Suid-Afrika het die Afrikaanse kerkgenootskappe skouspelagtig aan aanhang, aansien, gesag en koers ingeboet, al verkeer baie van die ampsbekleërs in die waan dat hulle nou op die regte spoor is.

MER het oor “vanslewe se mense” geskryf. Van hulle “moed, van hartversterkende geloof, en sommer van goedheid. Moontlik was hulle aangewers” (49). Gerrit Dekker haal MER soos volg aan: “Bewus en onbewus breek Engeland aan onse persoonlikheid, omdat hy sterk genoeg is daartoe” maar ons moet “sy vernietigingsmag weerstaan” (41). Insgelyks behoort Afrikaners hulle deesdae teen swart mag te verset.

Tol de Villiers skryf “dat ‘n mens ná ‘n besoek aan haar altyd voel of die Here jou ook vir ‘n wyle gelei het na waters waar rus is” (53). MER het “in besonderhede vertel hoe die Engelse in haar jonger dae die Afrikaner se trots op alles wat sy eie is probeer doodsmoor het” (57). MER het waargeneem “hoe openbare figure se woorde van hul dade kan verskil” (56); iets wat ons tot ons skade in oortreffende mate sedert 1990 ervaar het.

Ek kan die volgende stelling van MER beaam: “‘n Mens skryf omdat jy graag daardeur iets wil verduidelik, grotendeels aan jouself verduidelik” (73). LW Hiemstra skryf: MER se “hoë etiese opvattings het deurgeskyn waar sy betoog het dat sondes van die liggaam, soos dronkenskap byvoorbeeld, vergeefliker is as die sondes van die gees” (66). Sy was in die jare twintig en dertig intiem gemoeid met die armblanke-vraagstuk en sou die herverarming van Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika sterk veroordeel het. Maar haar skerpste kritiek sou myns insiens wees op die buitengewone moeite wat van owerheidsweë en in die hoofstroominligtingsmedia gedoen word om Afrikaners se gees en hulle kultuur, bv Afrikaans, te probeer vernietig.

Hendrien Lambrechts bevestig dat MER wou “help om ‘n volk op te bou wat gesond is na liggaam en gees” (75, 78).

WEG Louw beskou die volgende aanhaling uit sy broer, NP van Wyk Louw, se toneelstuk, Die pluimsaad waai ver (in 1966 geskryf, in 1976 gepubliseer, p 25), as toepaslik op MER se lewe en skryfwerk. ‘n Jong Kolonialer wat na die Oranje-Vrystaat gegaan het om in die ABO te veg en president MT Steyn as ‘n “nuwe soort Afrikaner” ervaar het, sê: “Ek het gevoel: hier het die Afrikaner wýsheid geword en intellek; gelyk of bo die Engelse se bestes, beskaafd; méér as hulle Milners en ander. Want ook nog goed van hart bý die wysheid en verstand … Dis ‘n vreemde, nuwe ding. En dis hiervoor wat ek moes gaan veg” (84). Van MER sê WEG Louw: “Daar is nog maar één soos sy” (90).

Oor Recht Malan se vader het MER in 1970 geskryf: Nie lank na die ABO nie was hy as predikant op Swellendam “so ‘n hartversterking vir ons wat deur daardie oorlog volksgetrouheid geleer het en vasgehou het” (93).

Erika Theron vertel van die eredoktorsgraad wat die Universiteit Stellenbosch in 1950 aan MER toegeken het. MER het daaroor soos volg geskryf: “Die enigste ding van hierdie aand wat ek ooit geniet het was die graad op Stellenbosch, so by my mense” (116). MER sou nie glo dat dieselfde universiteit deesdae alles in sy vermoë doen om ‘n nie-Afrikaner- en ‘n nie-Afrikaanse inrigting te wees nie. Kommuniste en terroriste kry spreekbeurte en word vereer; nie Afrikaners nie. Daar is Afrikanerbloed aan die eikeblare, bv van Johannes Henoch Marais (8.09.1850-30.05.1915).

Die 100 jaar van MER

Uit die pen van die Afrikaner en gerekende biograaf, JC Steyn, is die volgende omvattende biografie gepubliseer, Die 100 jaar van MER (Kaapstad: Tafelberg, 2004, 608p). Daaruit verskaf ek inligting wat nie hier bo verskyn nie.

President MT Steyn het na aanleiding van die ABO gesê: “De taal van de veroveraar is in de mond van de veroverde de taal van slaven” (101-102). In die nuwe Suid-Afrika is dit geensins die geval dat die blankes of Afrikaners verower is nie; hulle is bloot blatant deur ‘n groepie Afrikaanssprekende blankes (‘n gemeenskappie van onheiliges) bedrieg. MER het destyds al verwys na “onse leiers [wat] gedurig maar oorgaan na die verleiers” (324); des te erger as daardie verleiers kommunistiese terroriste is. MER het gesê: “Hoe ons die k…..kwessie met ‘n partystelsel gaan behartig, weet ek nie. En dit is onse groot taak” (426) – ‘n taak waarin die NP-onderhandelaars skoupelagtig gefaal het. Afrikaners is myns insiens deesdae enersyds onder geen verpligting om die nuwe heersers se voorkeurtaal, te wete koloniale Engels, te aanvaar nie en is andersyds etnies en moreel gebonde om hulle kultuur, insluitende Afrikaans, te bevorder.

Die Afrikaanse koerant, Die Burger, is in 1915 gestig met as “hartverwarmende” strewe: “Het zal erkennen het bestaan van ‘n Afrikaner nationaliteit” (110). In 1925 is Hollands/Afrikaans as ‘n amptelike taal naas Engels erken. Toe is gesê dat die doel en ideaal van Die Burger “die opbou van ‘n Afrikaanse volksbewustheid en volkstrots” is (191). In 1964 het MER geskryf: “Die Burger … is deel van wat ons hoog ag, iets waaraan ons geheg is; iets met ‘n tradisie” (480). Hennie Aucamp het by geleentheid gesê: “Die Burger het nog altyd aristokrate van die gees getrek” (497). Van al hierdie voortreflike eienskappe het (feitlik) niks oorgebly nie; nie eens die koestering van Afrikaans nie. Die ANC-aktivis, Henry Jeffreys, het as redakteur (2006-2010) besluit dat die koerant nie meer Afrikaans sal bevorder nie. Geen redakteur ná hom het erns met die heil van Afrikaans gemaak nie; ook nie die Universiteit Stellenbosch wat in dieselfde tyd in dieselfde dampkring as Die Burger ontstaan het nie. MER onderskei handhawers en versmaders van Afrikaans (183). “Die gevaarlikste versmaders van die Afrikaanse taal is Afrikaanssprekendes” (184), volgens ‘n hoofartikel in Die Burger. Dit was in 1924 toe die Smuts-regering, soos die ANC-regering, “nie die taalbepaling van die Grondwet uitgevoer het nie” (184). Toe ‘n ooreenkoms destyds oor ‘n vlag aangegaan is, “nie een woord Afrikaans gepraat is nie” (190); soos deesdae feitlik daagliks in die parlement gebeur.

“Vir haar, sê MER, lyk die beleid van vashou aan die eie taal en kultuur natuurlik, reg en gesond. ‘Elke nasie bring volgens sy aard sy bydrae aan die mensdom, en as hy sy aard los, en ‘n ander s’n oorneem, is hy letterlik as nasie niks werd nie.’ So ‘n ‘vashou-beleid’ hoef nie haat en nyd af te gee nie. ‘Dit is nie sy natuurlike vrug nie, want die vashouer is te besig met homself om ‘n ander te hinder of te haat. Dit is die afneem-beleid [bv regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging] wat haat meebring. As ons dan die vashou-beleid voorstaan, kom ons weer terug na die vraag wat ek eerste gestel het: Wat is nou eintlik hierdie Afrikanerskap, dat ek so baie waarde daaraan heg? En sonder om ‘n definisie daarvan te kan gee, kan ‘n mens net antwoord: Dit is iets waarsonder ek nie meer myself sal wees nie” (357).

MER het gesê: “Iets dwing jou gedurig om met verkeerde toestande te veg net soos jy nie kan rus nie as jou huis deurmekaar is” (173). Haar werk oor die armblanke-vraagstuk vir die Carnegie-kommissie en as maatskaplike werkster vir die ACVV was daarop toegespits om die Afrikanervolk ná die ABO-verwoesting aan kant te maak, dus in orde te kry, omdat die “volk se huishouding” deurmekaar was – MER was ‘n “volksaankantmaker” (234). Die politiek “is ‘n aankantmakery. Die land, die volk, is deurmekaar; dit moet in orde gestel word” (310; ook 339). In 1926 het sy geskryf: “Verloor ons die goeie Afrikaner-eienskappe, dan is ons soos die sout wat sy soutigheid verloor het, en ons kan ons deel nie bydra by die werk van volkbou in hierdie deurmekaar-bevolkte land nie” (193). In Amerika het sy kennis gemaak met blankes wat gedink het dat die swartes “maar Amerikaners moet word … Maar dit lyk my maar darem ‘n plan wat tog nie op wieletjies gaan loop nie” (373).

In 1937 het MER geskryf “nog nooit het sy ‘n dorp teëgekom wat net deur ‘nemers’ bewoon word en nie ook deur ‘gewers’ nie” (225). Onder “gewers” het sy veral die kulturele leiers in die gemeenskap verstaan. Maar sy was ook suiwer materieel teen parasitering gekant. Van haar seun en skoondogter het MER gesê: “Hulle is ‘vatters’, niks in hulle van gewers nie” (276). In hierdie sin is daar deesdae dorpe wat deur vatters/ontvangers/bakhandstaners oorbewoon word terwyl die gewers, diegene wat inkomste- en munisipale belasting en vir dienste (soos water, elektrisiteit en televisie) betaal, dikwels ‘n krimpende minderheid is. Dit is ‘n nie-volhoubare opset wat in geen suksesvolle en voorspoedige land aangetref word nie. MER: “Ons kan nie saamsmelt [deesdae nasiebou genoem] met elemente wat verderf in die pot bring nie” (303).

Na aanleiding van ‘n besoek wat sy aan Europa gebring het, het MER geskryf (en dit kan goedskiks op ons huidige juk van swart mag van toepassing gemaak word): “Om op een nasie ‘n ander se aard af te dwing, dit werk uiters skadelik en verwarrend; ook is dit skadebringend wanneer een nasie so gesteld is op sy eie aard dat hy, wanneer daartoe in mag, daardie aard op ‘n ander nasie wil afdwing. Om dit duideliker te stel, so ‘n afdwingery bring skade beide aan die afdwinger en aan die nasie waarop die vreemde aard afgedwing word” (330).

Opsommend het PA Joubert gesê MER se “meelewing met en bemoeienis ten behoewe van die Afrikaners, van jongs af tot in haar grysheid, haar vereenselwiging met alles wat sy as behorende tot Afrikaner-wees beskou, en aan die ander kant haar heftige afkeuring van alles wat na haar mening nie daarmee te rym is nie; haar opregte, nederige deurskouing van haar eie gemoed – soms selfs met ‘n byna kinderlike naïwiteit; die neerslag van dit alles in haar helder prosa as letterkunde – hierdie eienskappe het haar ‘n enige plek in die Afrikaanse skrywerswêreld laat beklee. Dit is goed dat daar so iemand was – iemand so heel besonders – wat vir haar tyd die beeld van die ‘ideale Afrikaner’ so goed kon boetseer [vorm/voorstel] én verpersoonlik” (524).

Daar is die moontlikheid dat die volgende staatshoof van die nuwe Suid-Afrika ‘n vrou kan wees. MER/TaMiem sal dit nie wees nie; nie net omdat sy dood is nie, maar ook omdat sy blank is. Blankheid is ‘n onoorkomelike hindernis vanweë die ANC se eiesoortige idee van nie-rassigheid, waarin daar heelwat valsheid en ook doodgewone rassisme is. ‘n Blanke staatshoof is vir die ANC in beginsel onaanvaarbaar. Maar MER sou myns insiens in daardie amp beter as enige van die ANC-kandidate gevaar het, uitgaande van die idealistiese veronderstelling dat Suid-Afrika steeds ‘n beskaafde, Westers-georiënteerde land is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Suidpunt

    “My beskeie deel” het my weer gewys op die geweldige dualisme/dichotomie wat selfs vandag nog deel van die Engelse media/propaganda is. Daar was tydens die oorlogsjare byvoorbeeld diegene wat “loyal” is, en hulle tree sus en so op. Die vraag is natuurlik: wat is iemand wat nié op hierdie maniere optree nie (of met ‘n paar tegniese puntjies verskil) – daardie vraag hang altyd in die lug. Natuurlik is die onuitgesprokenheid “disloyal”, dit word net nie uitgespreek nie.

    aanhaling:

    En noudat ek dit so neerskyf, ná vyftig jaar, en met die herinnering aan die twee wêreldoorloë wat daarna in hierdie vyftig jaar plaasgevind het, tref my die vernuf en verstandigheid van die Britse volk om massagemoedstoestande in kritieke tye te skep soos hulle dit wil hê, deur positiewe benoemings daarvan: so ‘n toestand word dan die norm, en diegene wat teenstrydig is, word as abnormaal gereken. Geen twyfel word toegelaat nie: ,,Loyal” was om pro-Brits te wees; iets positiefs; wat dit nie is nie, is negerend – ,,disloyal”; ‘n baie moeiliker idee om te propageer.

    By ons was die magwoord ,,loyal”. En dit het beslis toe betaal om as ,,loyal” bekend te staan, dan kon jy ongesteur in jou dorpsaak of op jou plaas bly en kon jy voordeel van een en ander aard uit die druk verkeer en die militêre behoeftes trek. Onder sulke omstandighede is daar altyd baie meer ,,loyals” as in vredetyd (bl. 131).

    Dieselfde bogenoemde tegniek kry jy vandag nog in die media. En selfs tydens Apartheid, nou dat ek daaraan dink.

    Ander kommentaar:

    Haar opleiding in die Kaap as een van die eerste vroulike studente bly vir my interessant – want om onderwyseres te word moes jy nog die intermediêr doen (die oorgangsjaar voor die eerstejaar), Oudgrieks leer, ens. Terwyl Langenhoven ‘n meisie gekry het op Stellenbosch om vir hom met die Grieks te help deur voorlesing (hy het alles uit die kop probeer onthou), het M.E.R. die regte, deeglike ding gedoen: sy het na die Engelssprekende professor gegaan, en dié het haar met geduld en liefde gehelp.

    Ek voel net half jammer oor haar huwelik op die rotse, maar daaroor praat mens eerder nie.

    Dankie tannie Miemie vir die begrip “toebroodjie”.

    En ek is vreeslik jammer vir die spul kommies wat tannie ‘n feminis noem – tannie het maar net bietjie van tydgenoot Langenhoven se sienings verskil…

    Voor ek vergeet – dankie vir die artikel, mnr. Lemmer.

    • leonlemmer

      Suidpunt, dankie dat jy die belangrikheid van die bladsy 131-aanhaling met die oog op toepassing op die huidige kruipsug uitgelig het.

  • Helmine le Roux

    Baie dankie, Leon Lemmer, vir hierdie kragtige boodskap. In hierdie dae, waarin selfs die ATKV die knie buig, is mens dikwels sonder woorde. Dit verbaas my dat daar Afrikaners is wat steeds nie besef met watter gevaarlike speletjie ons besig is nie. Dankie vir die hernieude bemoediging wat ek kon skep uit die lewe en werk van MER. Vir die besef dat haar beginsels, juiis nou, dringend noodsaaklik is vir ons voortbestaan. En dat ons mense, veral ons kinders, daarvan kennis neem.

    MER: “Ons kan nie saamsmelt [deesdae nasiebou genoem] met elemente wat verderf in die pot bring nie”.

    • Hier ondersteun ek jou heelhartig veral met jou bedanking aan Leon.
      So goed om sulke mense by jou op die wa te hê wat help rigting wys deur hulle navorsing. Salute

  • John

    Leon ek dink mens vergeet soms van die ooreenkomste tussen vandag se situasie in Suid Afrika en die van die 1950’s, 60’s en veral voor dit. Ek verwys spesifiek na die koue oorlog van Empire teenoor die minderwaardiges. Mense bo die ouderdom van sê veertig sal miskien nog bewus wees hiervan, maar ek sou raai dat vandag se jong Afrikaners, en eintlik die ganse jong geslag van die land, salig onbewus is van die subtiele ondergrawing van ander kulture deur Brittanje. Maria se woorde was ware woorde toe en is nog steeds.

    Toe die Nasionale Party nog aan bewind was, met volle beheer oor die S.A.U.K. en ander organisasies, was die kultuur been van die Afrikaner nog goed verskans teen hierdie aanslag. Maar soos ek altyd sê, dit was juis hierdie aard van die Afrikaner se kultuur (“institutionalized”) wat dit bederf het.

    Die stelling word gemaak dat organisasies soos die ATKV vandag nie in belang van die Afrikaner per se optree nie. Ek sou eerder sê dis juis organisasies soos die ATKV wat totaal gekaap is, pens en potjies. Hulle is nou deel van die smelt pot resep. En tyd moet nie gemors word om dit terug te gryp nie, dit moet irrelevant gemaak word deur `n nuwe ware Jacob.

    Ek wens meer mense wil vir `n oomblikkie weg kyk van die gemonteerde en vreeslik kunsmatige media ikone en so bietjie kyk na die werke van Maria, Opperman en my persoonlike gunsteling, Eugene Marais. Dit wat ons vandag weet was reeds destyds deur hulle geskryf.

  • Baie dankie vir ‘n diepliggende en versugtende perspektief Leon Lemmer. Verwarde kruipsug en lamlendige poltieke korrektheid is ook hier in die ge-breinspoelde en identiteitlose, willose en ruggraatlose suburbs van Pretoria naby Woolies, Engen, die Spur, KFC, e-Tol, AARTO, die klubsoortige kerk en die goddelose skole ‘n doodsteek vir Afrikaner hervorming. Intussen gedy plaasaanvalle, die geskroeide aarde en volksmoord te midde van “deep state politics” sonder brieke en kruipsugtigheid.

    • John

      Ek sit nou juis en soek na skriftelike fundering vir godsdiens op skool. Soek ek in die Nuwe – of Ou Testament ? Gee hand asb. Ek neem aan dit word gedek in die selle paragrawe as die wat vir ons aantoon dat die samesnoering van Ekklesia en Staat `n direkte bevel van die Almagtige is ?

      • John, die onderrig van ons kinders moet uit die Christelike gesin en uit die Christelike Gemeente kom, nie uit die Staat (wat meestal sekuler is nie). Spreuke praat o.a. van onderrig. As ek reg onthou skryf dr. Peter Hammond by http://www.frontline.org.za (sien asb ook http://www.christianaction.org.za by “Articles” en dan by “Education”) heelwat oor Christen onderrig.

        • John

          So ons stem saam – skole is sekuler. En of dir goddeloos is of nie, is irrelevant ?

          • CVO, privaat Afrikaanse Christenskole en Christen tuisonderrig verdien aandag, – meen ek. Christen Universiteite kom kort in SA. Hoeveel kritiek nou ook al jeens die Christendom gebesig word, gee dit ‘n norm en ‘n standaard wat nie deur sekulere humanisme gehandhaaf kan word nie. Maar die “Volk” is onverskillig …

          • John

            Onderhoud vir godsdienstige instellings is die verandwoordelikheid van daardie instellings en die mense wie baat vind by – spesifiek – hulle godsdienstigheid.
            Ek glo nie dit sou wys wees indien `n Afrikaner, met Afrikaner belange as prioriteit, homself heel eerstens behep met godsdienstigheid wanneer dit kom by onderrig en ander fundamentele sosiale infrastruktuur nie. Indien daar 3 miljoen Afrikaners was wie almal onder een kerk se dak sit en bykans sonder uitsondering hul eie kultuur vereenselwig met hulle geloof dan sou hulle met reg kon aanspraak maak op eksklusiewe skole.

            Ons almal weet dat dit nie die geval is nie.

            Daar is ander strikke.
            – Afrikaanse mense deel Christelike godsdienstigheid met ander kulture.
            – Die oorblyfsel van Afrikaners het nie, soos Mormone of Katolieke, die finansiële vermoë om onafhanklik hul ‘eie’ skole en universiteite tot stand te bring – en te onderhou nie.

            Dit shou eenvoudig slimmer wees om instede van godsdienstige skole, eerder onomwonde Afrikaanse skole met Afrikaner identiteit tot stand te bring. En dit, soos ons weet, is onmoontlik. Omdat Afrikaners nie in staat is om so vêr te dink nie. En bonop reken hulle dis een en die selle.

          • Om die Afrikanervolk aan kant te maak is ‘n oorweldigende uitdaaging binne die wippe en strikke wat jy na mening tereg beskryf John. Plan sal ons egter dringend moet maak. Tyd gaan verby en alles verval. Die Afrikanervolk (dweping, dwaaling, slimmighede, hardekwasgeit en eiewysheid ten spyt) is in ‘n morele, etiese en ekonomiese gemors. So beleef ek dit op grondvlak. Beginnende met wat ons het (wat nog bietjie ordelik is in bv. skool en kerk) moet ons beter doen. Ek, o.a. bepleit nou al seker ook vir 3 of 5 jaar ‘n “Volksoudelingeraad” en voortgesette hervorming van die Afrikaner se geloofslewe en uitlewing. Kerk, politiek, organisasietjies en ekonomie het ons nou al so verrinneweer en verdeel dit is werklik moeilik om ‘n rigting te vind of aan te gee. Nie almal met insigte is tans bereid om konstruktief-ontledend insette by die ASK (weer 10 Aug DV) te kom lewer nie. Dit help ook nie!

          • John

            Johny ek merk dat daar nie eens ‘n aanlyn tuiste is vir hierdie komitee nie. Of soek ek verkeerd ?
            Ek gaan ‘n waagkans vat en vra – skop hulle gewoonlik af met gebed ?

            Ek het so paar jaar gelede, terwyl ek besig was om ‘samewerkings netwerk op te bou, ook begin om ‘n register saam te stel van ieder en elke organisasie en beweging wat Afrikaner selfbeskikking bepleit het of aanspraak gemaak het daarop.
            Die resultaat was voorspelbaar teleurstellend. In die meeste gevalle moes ek eers deur ‘n muur van radio stilte breuk. En wanneer ek eers die ignoreer toets geslaag het moes ek gewoonlik opgeskeep wees met die tipiese vyandigheid, ons-en-julle mentaliteite, taliban fundamentalisme en selfs hoogmoed. Nes jy noem – baie intlektjille ook. Maar die ding wat my hart gebreuk het was die traak-my-nie agtigheid wat bykans altyd die ondertoon was. Die wie nie saam in hulle besondere boot vaar nie verdien gewoonlik verswelging.

            Toe ek aankom op so 50 of wat van die mees prominente entiteite kon ek sien dat hul almal daardie einste gier gehad het – self beheptheid, self versonke.
            Soos ek hier op ‘n ander kol vir ‘n ou noem – miskien tyd om maar net van voor af te begin en klein te begin. Nie met filosofiese en politieke fundering nie maar met sake baie nader aan die vel. Goed soos veiligheid en voorsiening vir more.

          • John, ek rond af. Ons ry nou die een holrug, dink ek 🙂 Ek is self diep teleurgesteld met die stagnante werkswyses en onvolhoubare uitsette wat die Afrikaner voortgeset besig. Ons kom eintlik nerens. (Die ASK werk nog aan sy webwerf … en resultate wat ten gunste van elke Afrikaner op grondvlak wys …).

    • Johnny,
      nou het jy die diep sentiment van jou wese blootgestel. Dit is mooi ,en dit vat raak, aan dinge wat gebeur, en seermaak. dinge wat vir ons as Afrikaner volk so na aan die hart lê.
      Mag ons Hemelse Vader net voorsien dat ons betyds wakker word en opstaan teen hierdie wille wragtag samelewing. Wetende dat die oormag ons niks kan doen nie. God is met ons.
      Ek het so n paar maande gelede n watsapp ontvang, die een brawe knaap sê, “we have got an army”,
      en toe kom die antwoord “we have Jesus”.
      Dankie Johnny.

  • boerseun

    Ietwat van die punt af: Ek het in MER se ‘My beskeie deel’ gelees dat genl. Hertzog al in 1913 aan haar gese het: “Smuts is beginselloos.” Dit was kort voor die Rebellie.

    • leonlemmer

      Boerseun, jy het reg. MER het in 1913 in Bloemfontein die onthulling van die Vrouemonument bygewoon. Sy het toe met Barry Hertzog ‘n gesprek gehad en kort daarna aantekeninge daarvan gemaak. Van Louis Botha het Hertzog gese: “Hy is ‘n bietjie te lief vir die handgeklap (My beskeie deel, p 172) en “Louis Botha het twee dinge teen hom: swakheid en onkunde” (174). “Wat Jan Smuts betref – hy is die onwaarheid self” (172) en “wat beginsel betref … Daar het jy president Kruger, ‘n absoluut ongeleerde man, maar van kop tot tone beginsel. Botha het ‘n besef van beginsel, maar kan dit nie handhaaf nie. Smuts is beginselloos” (174).

  • Skisofreen

    Rothmann, Goldblatt, Hertzog.

    • sussie se vissie

      En Ingelsman getrou…en seuntjie se naam James gedoop.
      Wat opval: Het Rupert snr ietwat gesteel toe hy sê: ‘Hoe kan jy rustig slaap…as jou bure honger ly’?
      Uit bg word geween oor die onreg wat ons blanke volk…huidiglik verduur.
      Pynlik tot aarbloeding ( as onreg tot opregtheid spreek ) …was iets tot die verlede nou ook nie ‘all above board’ nie. Of hoe?
      Mhômmie & Phôppie gedy op argitektoniese & Toksaanse SWART bloedsweet.
      Wat my as boere-goose aanspreek…is die Ingelse aanslag toe sy haar beentjies oopmaak.
      Andersyds skoon my ouma.
      Wys in baklei op Baccalei-plaas…en vrede gemaak op Vredendal.

  • Nico

    Ek is nou siek en sat van hierdie advertensie wat tot kotsens toe tussen die kommentare en aan die einde van artiekels kom. Ek lees Praag al hoe minder oor die tipe gemors.
    Ellen Shocks LGBT Community & Confirms She is Moving On
    Many knew what Ellen’s plan was, but no one expected it to leak like this…
    Learn More
    Sponsored by Freestyle Today https://uploads.disquscdn.com/images/1cfa6111952ea2d7e094402ecea14a67c99fda8cb31323086a3f434c2d15e28b.jpg