Duisende ruk op vir massasaamtrek in Pretoria

Deel op

Tienduisende betogers is tans besig om op te ruk na die Uniegebou. Studente-organsisasie Sasco het swart skoolkinders en werkers aangemoedig om deel te wees van die “studenteprotes”.

News24 berig dat betogers, talle geklee in swart, reeds by die Universiteit van Pretoria saamgetrek is en besig is om mekaar op te sweep.

Honderde betogers is ook van Johannesburg na Pretoria onderweg om deel te neem aan die massa-betoging oor universiteitsgeld by die Uniegebou.

Hulle word ingebus vir die massasaamtrek.

Studenteleiers en die bestuur van tersiêre instellings in die land vergader vanoggend met president Jacob Zuma om ‘n oplossing vir die voortslepende onrus en geweld te kry wat universiteite regoor die land lamlê.

Die studente eis dat universiteitsgeld nie aanstaande jaar verhoog word nie.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het intussen ‘n beroep op sy partylede gedoen om politieke binnegevegte te staak en eerder te help om ‘n oplossing vir die studentebetogings te vind.

Mantashe het gereageer op berigte dat die ANC Jeugliga in Gauteng die Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande gevra het om te bedank.

Die liga sê Nzimande het nie aan sy mandaat voldoen om met die proses te begin om gratis hoër onderwys te verseker en om tersiêre onderrrig te transformeer nie.

Nzimande het sosiale media aan die brand met sy oproep vir ‘n #StudentsMustFall-beweging as hulle weier om ‘n universiteitfooitoename van 6% te aanvaar.

“… As die studente dit nie aanvaar nie sal ons ons eie beweging begin ‘studente moet val’,” het hy gesê by ‘n perskonferensie vroeër hierdie week.

Mantashe sê die studente-betogings moet nié gesien word as protes teen die ANC of die regering nie.

Mantashe sê ‘n memorandum met betogers se eise, sal aan die regering oorhandig word.

Duisende betogers het Donderdag buite Luthuli-huis in Johannesburg byeengekom om die memorandum aan Mantashe te oorhandig.

Hy sê die eise in die memorandum sal in vandag se vergadering tussen President Jacob Zuma, universiteitleiers en studente-verteenwoordigers bespreek word, maar die betogers moet ophou om die leierskap te probeer verneder.

Betogers het Mantashe Donderdag beveel om te sit toe hy hulle wou toespreek.

In Londen was wit “raadgewers” druk besig om swartes te help met ‘n betoging voor die Suid-Afrikaanse missie wat vandag in “solidariteit” sal plaasvind.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.