Motors: klasbestes 2015 (deel 1)

Deel op

Segment-C-outomatiese-sedanmotors

Wanneer ‘n mens in die mark vir ‘n nuwe motor is, is die keuse gewoonlik baie moeilik en word deur ‘n klomp faktore beïnvloed. Daar is natuurlik heel eerste die feit van wat jy sal kan bekostig, wat jy nodig het in ‘n motor en dan watter motor in ‘n sekere segment die meeste waarde vir jou geld bied. Sommige ouens staan weer erg lojaal teenoor ‘n sekere vervaardiger en hulle kyk selde na wat ander vervaardigers produseer. Ons het ‘n paar vergelykings gaan tref onder verskillende motors in verskeie segmente. Ons hoofkriteria wat gebruik is, is syfers wat vervaardigers self aangee.

Daar is hoofsaaklik na 15 verskillende syfers van elk van die motors gekyk. Daar word punte gegee vir elke syfer en anders as gewoonlik is dit die motor met die laagste punte wat die beste doen; byvoorbeeld as motor A R200 000 kos en motor B R205 000 dan sal motor A een punt ontvang en motor B twee punte. Ons tel dan elk van die 15 verskillende syfers bymekaar en die motor wat die minste punte het, is die wenner van die vergelyking.

Ons eerste segmentvergelyking is segment-C-sedanmotors met outomatiese ratkaste. Daar is die Ford Focus 2.0 Trend sedan outomaties, Honda Civic 1.8 Executive sedan outomaties, Hayundai Elantra 1.6 Premium outomaties, Kia Cerato 2.0 SX sedan outomaties, Mazda 3 2.0 Astina sedan outomaties, Opel Astra 1.4 Turbo Enjoy outomaties, Renault Fluence 2.0 Dynamique outomaties, Toyota Corolla 1.8 Exclusive outomaties, VW Jetta 1.4 TSi Comfortline outomaties, assook die VW Jetta 1.4 TSi Highline.

Elk van hierdie motors is óf die enigste outomatiese sedanmotor in die onderskeie reeks óf die topmodel in die reeks. Volgens die telkaartmetode waarby ons hou, is die volgende ons bevinding.

Motor nommer 1

Ford Focus 2.0 Trend

Ford Focus 2.0 Trend sedan (125 KW)
R292 900

Motor nommer 2

VW Jetta 1.4 TSi Highline

VW Jetta 1.4 TSi Highline (118 KW)
R331 900

Motor nommer 3

Opel Astra 1.4 Turbo Enjoy

Opel Astra 1.4 Turbo Enjoy (103 KW)
R292 000

Motor nommer 4

Mazda 3 Astina

Mazda 3 Astina sedan (121 KW)
R326 300

Motor nommer 5

VW Jetta 1.4 TSi Comfortline

VW Jetta 1.4 TSi Comfortline (90 KW)
R302 700

Motor nommer 6

Kia Cerato 2.0 SX

Kia Cerato 2.0 SX sedan (118 KW)
R327 995

Motor nommer 7

Renault Fluence 2.0 Dynamique
Renault Fluence 2.0 Dynamique (103 KW)
R294 900

Motor nommer 8

Toyota Corolla 1.8 Eclusive

Toyota Corolla 1.8 Exclusive (103 KW)
R296 800

Motor nommer 9

Honda Civic 1.8 Executive

Honda Civic 1.8 Executive sedan (104 KW)
R331 200

Motor nommer 10

Hyundai Elantra 1.6 Premium

Hyundai Elantra 1.6 Premium (96 KW)
R276 900

Alhoewel die motors byna dieselfde spesifikasies het wat luukshede aanbetref, is hierdie ranglys ons poging om die beste-waarde-vir-geld-motor in hierdie segment aan te wys. Die wenner verteenwoordig ‘n volmaakte balans tussen waarde vir geld, werkverrigting, fisieke grootte, asook die pakruimte, padhouvermoë, brandstofverbruik en waarborg. Diensplanne en handelaarsnetwerke tel ook.

Die Ford Focus is wel nie die nuutste onder die motors nie, maar die feit dat hy baie nuwer motors soos die Mazda 3 kon uitstof, onderstreep net die feit van hoe goed die motor van meet af aan was. Ander motors wat ons verbaas het, was die Renault Fluence wat die Toyota Corolla kon troef. Baie mense sal nie eers ‘n tweede keer na die Fransman kyk nie, maar hier is dit nou amptelik: die Renault Fluence in hierdie spesifieke gewaad is ‘n beter kopie as sy Japannese eweknie.

Die feit dat die Hyundai Elantra heel laaste op die ranglys is, beteken nie dat dit ‘n swak motor is nie; dit wys jou net dat die waarde-vir-geld-faktor waarmee Hyundai homself in Suid-Afrika gevestig het glad nie meer geld nie. Die Elantra is die enigste 1.6-liter-motor hier en kan dus nie heeltemal kers vashou by die res nie. Die ander kant van die munt is dat hierdie dalk ‘n bewys is dat Huyndai se enjintegnologie weer begin agter raak teenoor dít wat in die segment beskikbaar is. Na ons mening is die Mazda 3 met sy Skyactive-enjintegnologie die gevorderdste enjin hier en Toyota en Huyndai suig aan die agterste speen met hulle enjintegnologie en sal binnekort iets daaraan moet doen om mededingend te bly.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.