Elders lees ek op Judy Ward, ‘n vriendin van my uit die jare toe beide van ons dosente was in Johannesburg, se Facebook-blad, oor die verval in Krugersdorp. Foto’s is natuurlik die beste bewys van die verval wat nie alleen daar nie, maar in die res van ons land so opmerklik (en grusaam om te aanskou), aan die orde van die dag is. Die reaksie van mense is al voorspelbaar: “skande”. Tog wil ons nie erken dat ons hulpelose toeskouers van hierdie verval geword het nie.
En voor mens die vraag probeer beantwoord; “waar gaan dit eindig?”, kom ons ervaar so bietjie “heimwee” oor wat was, ten einde opnuut te besef hoe dramaties dinge verander het. In net sowat 27 jaar.
In 1982 het ek, na my 2-jaar diensplig, in “Johies” beland om in te skryf aan die RAU, die Afrikaanse universiteit in die “Engelse” stad. My koshuis was Afslaan wat toe geblyk het ‘n uithalerkoshuis te wees wat jaar na jaar sangfeeste, die “Baron Gawie” (die Jooltrofee) en talle sportkompetisies, waaronder natuurlik koshuisrugby, gewen het. Waar braaivleisvure omtrent gebrand het soos die “Ewige Vlam van Mamajef Kurgan in Stalingrad”. Ja, ons het selfs die akademiese trofee jaar na jaar gewen…
En waar die Weermag van jou ‘n “man” gemaak het, veral “basiese opleiding” en jy intens bewus geword het van ons land se stryd met die “vyandelike” magte wat hierdie vaderland van ons “onregereerbaar” wou maak, het jy aan die RAU die idilliese van die lewe intens beleef en allerlei akademiese argumente gehad waarom die vyande nie in hulle doel sou slaag nie. Dis nou, as mense net na jou sou wou luister!
Dit was wonderlike jare (sekerlik van die heel beste) en die RAU het dan ook beslis die mooiste meisies in ons land gehad. Daarom was dit baie lekker om klasse by te woon waar die proffie nie altyd al die aandag gekry het nie… Ja selfs in die HF Verwoerd-biblioteek (jy het reg gelees, ja!) het jou kop gereeld gedraai as jy veronderstel was om “navorsing” te doen!
Dis hier waar die sportgogga my werklik gebyt het en ek die voorreg kon smaak om aan SAU’s deel te neem aan onder meer atletiek en landloop. Oral in die land. Sorgvrye, kommervrye dae. Behalwe nou as eksamens aanbreek en jy inderhaas jou notas agtermekaar moes kry. Dis veral hier waar jy vriende ontmoet wat lewenslank jou vriende sou bly. Al bly baie van hulle nou regoor die wêreld…
Wat was lekkerder om ‘n meisie uit te neem en by Café de Paris in Hillbrow koffie te gaan drink, daarna in boeke by Estoril Books rond te snuffel of saam met pelle ‘n hoender by Fontana (wat 24 uur van die dag oop was) te gaan verorber? Ja, Hillbrow was ‘n baie veilige plek in daardie dae en die Afrikaanse kerk waarvan ek lidmaat was het selfs daar ‘n kerkgebou gehad en het ons talle eredienste daar bygewoon. Sal ek ooit die dag vergeet toe ds Tony Simpson oor die “wil van die Here” gepreek het? Hy’t onder andere gesê dat as jy teen 120 km/h in Eloffstraat af jaag met ‘n motor en jy verongeluk, jy nie moet redeneer dat dit die Here se wil is nie. Sulke onvergeetlike oomblikke wat onuitwisbare indrukke gelaat het en daar was so baie! Is dit nie trouens waar dat die meeste daarvan uit ons studentedae kom nie?
Ons universiteitslied het gepraat van “die Rand so tuis so anders”. Hoe waar was dit nie! Johannesburg met sy aangename somers en, vir ‘n Bosvelder, snerpende winters. Ek was nooit een dag spyt dat ek by die RAU studeer het nie. Uitstekende professore, waaronder my promotor professor Barrie, onder wie se bekwame leiding ek my doktorsgraad voltooi het en wat vandag al 80 jaar oud is; professor JC Sonnekus, dalk een van die beste akademici wat hierdie land ooit opgelewer het, en professor JC van der Walt wat, in my oë een van die beste dosente was wat ek ooit teëgekom het. ‘n LLB-graad wat aan die RAU verwerf is, was hoog in aansien! In elk geval, in daardie dae.
Só kan mens voortborduur oor die Goudstad. Intervarsities, ja die dag toe ons die magtige Tukkies die eerste keer die loef af gesteek het. Ons het in daardie dae nog lekker gesing op die pawiljoen met ‘n rasieleier van formaat.
Waar Koos du Plessis die lof van Pretoria besing met sy “Pretoria, Jakarandastad” het ons na Johannes Kerkorrel geluister met sy “Gee jou hart vir Hillbrow!” Dit was in daardie dae ‘n skoon, ordelike en lieflike stad om in te woon. So sou ek onder meer in Crosby (Brixton), Aucklandpark, Triomf (Sophiatown) en Florida-Glen bly voor ek einde 1994 die pad terug Bosveld toe gevat het. Ja, en selfs die Engelse van “Johburg” was nie te “onaardig” nie. ‘n Paar van ons vriende was sommer baie tuis by Pirates Club in Greenside (waar die Engelse besigheidsmanne ons arm studente se drank op Dinsdae-aande betaal het na die 8 km “time trial” en ons tot laataand in die “pub” gekuier het. Met trots het ons (ek, Deon, die twee Andre’s en Martin) in die Pirates-frokkie menige Comrades-marathons kafgedraf. My heel eerste Comrades was dan ook as ‘n lid van Pirates en nogal in ‘n silwer! Gaan kyk maar in hulle klubhuis as julle my nie glo nie!
Maar toe daal die “nuwe” Suid-Afrika op ons neer. Oor die politiek agter daardie besluit wil ek hier nie veel uitwei nie, behalwe dat elkeen wat nugter oor die saak nadink vandag moet erken, dat dit ‘n fatale besluit was gesien die gevolge wat dit nie net vir die Afrikaner inhou nie, maar vir al die mense van ons land. RAU het geheel en al verengels en sy naam verloor, so ook die bekende strate van “ons” stad, waaronder DF Malanrylaan en selfs Jan Smutsrylaan. Toe ek die ander dag verby my Alma Mater ry, was dit asof dit ‘n wildvreemde plek was. Of iemand besig is om fisies my herinneringe uit te vee. Iets in my wou weerstand bied, maar dan die besef jy jy is weerloos. Jy is tandeloos. Jy is uitgelewer.
Uitgelewer aan wat? Aan die realiteit van Afrika wat niks en niemand ontsien nie. Waar regerings nie ‘n flenter omgee vir hulle onderdane nie. Die mense (onderdane) plunder en breek omdat die regering dit doen. Dis tog die voorbeeld! Ja, in ‘n tyd waar almal so versigtig is om reguit en openlik te praat, het ek daardie eienskap nog nooit verloor nie. Dit het my my hele lewe lank “gekos”, maar my nog nooit gestuit nie. Ja, ons besluit om die welvarende land in die hande van swart meerderheidsregering te plaas, was fataal. Dit was dwaas. En wat ons moet besef — dit sal onder hierdie swart regering, waar ‘n klein groepie politici al die mag ten alle koste sal behou — tot ewige nadeel en verdriet van almal in hierdie land, nie verander nie. Ons gaan dit nie reg praat nie en is weens die getallefaktor verdoem tot ‘n hulpelose minderheid wat jaar na jaar sal kla en hier en daar probeer regstel; maar waarvan die uiteinde, tensy ons weer oor onsself kan regeer, uitwissing is. Dis nie iets wat mense wil hoor nie en ‘n onderwerp wat baie nie wil aanraak nie, maar ek daag enigeen tot ‘n debat uit om die teendeel te bewys.
Sonder ‘n vryheidsideaal lewe ons bloot van dag tot dag en jaar tot jaar. Kan ons dalk weer eie universiteite bou, dorpe skoonmaak en hofsake wen, maar weens die mag van die politiek, die hoogste kroonrat in ‘n volk en ‘n land se bestaan, sal ons deurgaans “tyd wen”, soos ‘n bekende politieke party in die tagtigerjare gepraat het, maar die finale oorwinning nie behaal nie. Trouens, sonder ‘n vryheidsideaal is die skrif vir seker aan die muur.
Johannesburg sal, tensy ons tot die besef kom dat ons êrens ‘n streep in die sand moet trek, nie net verder verval wat betref sy strate en sy geboue nie, maar dit sal by uisttek die kriminele mekka van hierdie land word. Onregeerbaar, onrehabiliteerbaar, en aan die genade van die Malema’s en hulle juigkommando’s oorgelaat.
Die vuur brand nie meer net nader aan ons nie, die rewolusionêre vuur brand nou om ons. Ons voel die hitte daarvan. Dit sal ons weldra verteer. Ja, saam met Judy treur ek ook oor ons stad van weleer, dog staan ek verwonderd oor ‘n volk wat sy durf, waarvoor hy so bekend was, verloor het!
Omdat die Universiteit van Johannesburg, die voormalige RAU (Randse Afrikaanse Universiteit) deesdae ‘n “pan-Afrika-sentrum van kritiese intellektuele ondersoek” is, moet sy oorspronklike Afrikaanse koshuisname verwyder word. Die huidige swart studentekorps is nie teen die name gekant nie, maar die universiteitsowerheid kan die name nie langer duld nie.
Volgens berigte is koshuisinwoners teen die veranderinge gekant. Die primarius van Bastion, Simpiwe Gqibane, sê: “Ek dink dit is vir hulle baie moeilik. Dieselfde mense (swart studente) wat hulle seker gedink het die transformasie sal steun, is die mense wat nou sê: ‘Nee, ons hou van die kultuur.’ ”
Die unversiteit het blykbaar verlede week advertensies in die pers geplaas en om voorstelle vir nuwe name gevra. Twee koshuise is reeds na die polities korrekte “Sophiatown” en “Hector Peterson” verander, wat nie weer sal verander nie.
Die naamsveranderings word gesien as deel van die algemene “transformasie” om alle spore van Afrikaans of Afrikanerteenwoordigheid wat daar eers by die universiteit uit te wis ten einde ‘n “pan-Afrika-universiteit” te skep. Die senior uitvoerende direkteur in die visekanselier se kantoor, Tumi Mketi, het gesê nuwe koshuisname is ook nodig ter wille “van die handelsnaam en waardes van die universiteit”.
Vier dekades lank, van 1948 tot 1989, het Suid-Afrika ‘n Afrikaanse, blanke, politieke bewind gehad. In sy laaste dekades was daardie regering toenemend verplig om teen die terreurbendes van “bevrydingsbewegings” op te tree. Die sukseskoers van die veiligheidsmagte (weermag en polisie) was beter as 1 dooie lid tot 10 dooie terroriste, ‘n getalsverhouding wat opvallend soortgelyk aan dié van die Israeli’s en Palestyne is. Ons stryd teen terreur en ten gunste van Europese beskawing is hoofsaaklik deur Afrikaners en in Afrikaans gevoer. Dít is iets wat die ANC-regering ons nooit sal vergewe nie. Die ANC se Waarheids- en Versoeningskommissie, met Desmond Tutu aan die spits, was glad nie daarop ingestel om vergifnis in ANC-geledere te bewerkstellig nie; veel eerder om (grootliks) valse skuldgevoelens by die blankes te wek en skadevergoeding te eis.
Maties… nou met opgedomkragte Engels.
Met ‘n ruim 80% swart bevolking, wat sorg dat die ANC-regering aan die bewind bly, is die jag op Afrikaners oop. Myns insiens is Afrikaans die kern van die Afrikaner. Dit verduidelik die hernude ywer waarmee gepoog word om Afrikaner-Afrikaans, naamlik Standaardafrikaans, te vernietig. Dié aanslag kom nie net van die ANC-regering nie. Nie-wit “Afrikaanses” doen lustig mee, asook blankes (insluitende oud lede van die Afrikaner Broederbond) wat Damaskus-ervarings gehad het of as opportuniste bloot polities korrek probeer wees. In my vorige skrywe (Praag 30 November) het ek die jongste gebeure (tot 24 laaslede) aan hierdie front bespreek. In hierdie rubriek neem ek verdere verwikkelings, tot die einde van November, in oënskou.
Op 22 November het die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) besluit dat Afrikaans en Engels daar voortaan gelyke status gaan hê; dus dat die US nie meer kragtens sy stigtingsvoorwaarde ‘n egte Afrikaanse universiteit gaan wees nie. Hierdie grondverskuiwende besluit het tot op hede nog nie die voorbladsy van Die Burger gehaal of die onderwerp van een van sy hoofartikels gewees nie. ‘n Berig ter verduideliking (eintlik: goedpraat) van die US se nuwe taalbeleid is wél gepubliseer (Die Burger, 25 November, p 4). Ses mak vrae is aan Arnold Schoonwinkel, die US se viserektor vir leer en onderrig, gestel.
Hoekom word Engels opgedomkrag tot dieselfde status as Afrikaans? “Een van die strategiese doelwitte is … die verbreding van toegang. Die nuwe taalbeleid is juis belyn met hierdie strewes.” Let op Schoonwinkel se US-geykte woordkeuse: strategiese, belyn. Wat hy erken, is dat die taalbeleid verander is om nie-wittes te bevoordeel. Die groot verloorders is Afrikaanse blanke studente wat nie meer ‘n kulturele tuiste op die US-kampus het nie.
Voorheen het Schoonwinkel dit al duidelik gestel dat Afrikaanse studente ‘n mindere behoefte aan tolking as Engelse studente het. Dit in sigself toon reeds dat daar by tolking geen gelyke behandeling van hierdie twee groepe gaan wees nie. Hierdie keer erken Schoonwinkel by herhaling hierdie feit: “Engelse lesings getolk na Afrikaans … die behoefte daaraan uiteraard baie minder is.”
Sy verwerplikste bewering is dat daar minstens 50% Afrikaanse onderrig in die US se tweetalige klasse aangebied word. In hierdie berig lieg Schoonwinkel dit twee keer. Enige dosent wat al probeer het om ‘n klas aan te bied wat veronderstel is om tweetalig te wees, weet dat sulke klasse ontaard in ‘n hoofsaaklik Engelse klas omdat daar alewig “benadeeldes” is wat dadelik beswaar aanteken as die dosent iets in Afrikaans sê. Dit is juis die groot beswaar teen die US se berekening van sy Afrikaanse “aanbod”: dat ‘n tweetalige klas sonder meer as 50% Afrikaans gereken word.
Christo Viljoen, die president van die US-konvokasie, is ontstig oor die nuwe taalbeleid (Die Burger, 25 November, p 14). In ‘n sin kry hy sy verdiende loon omdat sy onbesonne beleid was om die taalkwessie uit die openbare arena te hou. Dit het die magte van die bose vrye teuels gegee om te konkel. Hou in gedagte dat hierdie taalbeleid vorm aangeneem het toe van die hoofrolspelers in die groot kruip na die rektorskap betrokke was en daar herhaaldelik deur die voorsitter van die US-raad, George Steyn, te kenne gegee is dat na ‘n Russel Botman-kloon gesoek word. Gevolglik was die natuurlike neiging om Afrikaans in die nuwe taalbeleid verder te benadeel.
Viljoen noem dat “die de facto-status van Afrikaans as onderrigtaal afgeskaal” word. “Dit is gans onduidelik hoe deur aan Afrikaans en Engels gelyke status te verleen, ‘die posisie van Afrikaans versterk (gaan) word’ en hoekom dit nodig is om op dié wyse ‘meertaligheid te bevorder’ … Die ontstaansrede van die US 96 jaar gelede is in taaloorwegings gefundeer. Op 19 Februarie 1915 het die Raad van die Victoria-Kollege [die Engelse voorganger van die US] ‘n besluit om die US te stig ten einde ‘een echte Hollandsch-Afrikaansch Universiteit te zijn’ aanvaar … Hierdie spesiale plek van Afrikaans as inklusiewe onderrigtaal aan die US het nou formeel tot ‘n einde gekom. Die ervaring is dat die gelykstelling van die twee onderrigtale telkens die onvermydelike agteruitgang (en selfs verdwyning) van Afrikaans as onderrigtaal presipiteer, waarvan die Universiteit van Johannesburg (ontspring uit die RAU [Randse Afrikaanse Universiteit]) die beste voorbeeld is … Met dié waterskeidende besluit verdwyn dít wat die US anders as enige van die ander 25 Suid-Afrikaanse universiteite gemaak het.”
Afrikaansdislojaliteit… so kenmerkend van ontwikkelde bruines
Ek kan my kwalik ‘n gemener en sluwer joernalis as Henry Jeffreys voorstel. Onlangs het hy geskryf oor “Israel se oorlog met die Palestyne” (Die Burger, 6 Augustus, p 12) deur heeltemal die Palestyne se daaglikse gewelddadige aanvalle op Israel te ignoreer. Op dieselfde eenogige manier skryf hy graag oor die “vergrype” van die “apartheidsregime” sonder om ooit die ANC en PAC se terrorisme te veroordeel of selfs maar te erken. Sy kenmerkende reaksie op die nuwe US-taalbeleid verskyn onder die opskrif: “Maties verdien lof vir taalplan” (Die Burger, 26 November, p 10). “Die Universiteit Stellenbosch het uiteindelik ‘n sinvolle taalbeleid aanvaar wat Afrikaans verskans [?] sonder om die universiteit se potensiaal om te blom [!] as ‘n toeganklike instelling van wêreldklas te ondermyn.” Met “uiteindelik” gee Jeffreys te kenne dat die US lankal moes opgehou het om ‘n egte Afrikaanse universiteit te wees. Afrikaansdislojaliteit, wat so kenmerkend van ontwikkelde bruines is, gevoed deur anti-wit (veral anti-Afrikaner-) sentiment, is in oorvloed by Jeffreys waarneembaar. Hy beskou homself as swart, maar dan die soort swarte, soos Russel Botman en Jonathan Jansen, wat om die dood nie in ‘n swart woongebied wil bly nie en dus homself in ‘n tradisioneel blanke woonbuurt welkom verklaar.
Die nuwe taalbeleid sal glo “help om van Maties ‘n instelling te maak wat gemaklik is in sy Suid-Afrikaanse en Afrika-vel en te fokus op die toekoms eerder as om voortdurend die gevangene van ‘n omstrede herkoms en verlede te wees.” Hier is kenmerkende bruin logika te bespeur. Die “swart” Jeffreys se manier om gemaklik in sy Suid-Afrikaanse en Afrika-vel te voel, is om by voorkeur Afrika-hempies (selfs met afbeeldings van hutte daarop) te dra. In die ou Suid-Afrika en in die US se verlede is daar baie om op trots te wees, maar die eenogige Jeffreys maak asof die blanke nalatenskap noodwendig (hoofsaaklik) sleg moet wees.
“Die universiteitsraad wat pas die nuwe taalbeleid aanvaar het, verdien lof vir ‘n grootse stap in die regte rigting. Die raad was té lank ‘n dienstige oorlogsone oor Afrikaans. Die stryd oor die taal het die universiteit by tye groot skade aangerig en by tye die indruk gewek dat dit ‘n stryd was oor behoudendheid (van ‘n ryk, dog gevlekte verlede) teen die strewe na groter inklusiwiteit wat die demokrasie noodwendig vereis.” Jeffreys veroordeel dus sonder meer as skadelik die pogings wat die “taalbulle” ter behoud van Afrikaans aangewend het. Volgens hom moet ‘n kwalitatiewe minderheid voor die inklusiwiteit/verswelging van die massa buig. En Jeffreys meen blykbaar dat sy etniese groep tot by die Strandlopers ‘n onbevlekte verlede het. Jan van Riebeeck het egter reeds in sy dagboek hulle streke gedokumenteer. As ‘n mens jou dieselfde eensydige veralgemenings as Jeffreys veroorloof, het bruines ook geensins ‘n onbevlekte hede nie (bv dranksug, dwelmverslawing, vandalisme, bende-geweld, misdaad) maar polities korrek word dit (feitlik) nooit geopper nie.
In Jeffreys se rubrieke is dit duidelik dat Nelson Mandela ongekwalifiseerd sy groot held is. Dan is daar etniese genote soos Trevor Manuel, Jakes Gerwel en Russel Botman, wat male sonder tal opgehemel is. Afrikaanse taalstryders het Botman glo “op allerlei maniere verdag gemaak en probeer ondermyn … Hy is soms uitgebeeld as ‘n vyand van Afrikaans.” Jeffreys probeer waaragtig voorgee dat Botman ‘n lojale ondersteuner van Afrikaans was: “In Botman het Maties ‘n ware taalstryder vir Afrikaans gehad,” maar Botman se eie kinders is anti-Afrikaans gesind. As rektor was Botman nie bereid om ‘n sent aan die US se woordeboek van Afrikaanse geneeskundige terme te bewillig nie. Enige objektiewe waarnemer sal erken dat Afrikaans in die Botman-era met rasse skrede agteruit geboer het. Jeffreys verskaf self die rede hiervoor. Botman “het ‘n breër visie gehad. Een wat Maties gesien het as ‘n integrale deel van Suid-Afrika, Afrika en die wêreld – ‘n instelling wat inklusiwiteit [en] toeganklikheid” nastreef. Jeffreys reken dat Botman genoegdoening uit die nuwe US-taalbeleid sou put. Ek stem saam. Maar Jeffreys sal nie ‘n flenter omgee as Jannie Marais, die US se stigtingsweldoener, in sy graf omdraai nie.
In Die Burger (26 November, p 11) word ‘n leser soos volg aangehaal: “My man het in die 70’s gekwalifiseer as geneesheer by Maties, al was hy Engelssprekend. Hy het klas geloop in Afrikaans, maar is toegelaat om sy eksamens in Engels te skryf. Hy het by die US ingeskryf omdat hy daar wou wees (oa vir die rugby!) en hy het aangepas by die taal – die universiteit het nie aangepas by hom nie! Dis so goed ek gaan Foschini toe en dring aan om vleis daar te koop. Daar is genoeg Engelse universiteite … wanneer word Ikeys gedwing om in Afrikaans onderrig te gee?”
PEN Afrikaans het nie, soos tereg verwag kon word, op sy eie op die nuwe US-taalopset gereageer nie. Eers toe hy deur LitNet om kommentaar genader is, het Danie Marais, die oorverligte nuwe bestuurder (Praag 9 en 16 November), soos volg geskryf (LitNet 27 November): “Die bestuur van PEN Afrikaans is versigtig optimisties oor die hersiene taalbeleid van die US. Dis egter onmoontlik [?] om te raai wat die langtermynimpak van hierdie beleidsverandering op Afrikaans as akademiese taal gaan wees. Die effek van die US-taalbeleid gaan afhang van die doeltreffendheid waarmee die doelstellings wat daarin vervat is, verwerklik word. Selfs al sou die taalbeleid daarin slaag om die geleentheid tot voorgraadse studie in Afrikaans te verseker en te bevorder, bly daar vraagtekens oor die gebruik van Afrikaans in nagraadse studie. Sonder die daadwerklike bevordering van ook nagraadse Afrikaanse akademiese skryfwerk en publikasie lyk die toekoms van Afrikaans as akademiese taal bitter onseker.”
Die nuwe taalbeleid word dus nie deur PEN Afrikaans verdoem nie. Polities korrek is hy “versigtig optimisties,” al word dié goeie verwagting darem ietwat getemper. Sodanige kwalifisering moet egter nie vertolk word as ‘n afwyking van die linkse politieke inslag van PEN Afrikaans nie. “PEN Afrikaans staan ‘n inklusiewe benadering tot taalkwessies voor. Ons is dus nie ten gunste van enige toepassing van die taalbeleid wat tot nadeel of uitsluiting van enige studente aanleiding gee nie. [Dus: vleis moet by Foschini te koop wees.] Ons doen ‘n beroep op die US se bestuur, raad en dosente om erns te maak met die implementering van die taalbeleid en die daadwerklike bevordering van veeltaligheid [eerder as van Afrikaans?]. Met die langtermyn in gedagte, kan Afrikaans op tersiêre vlak slegs deur amptenare en hoogleraars wat sensitief met die taal- en kultuurverskeidenheid van alle studente omgaan, bevorder word.”
Die eintlike taalinstansie wat veronderstel is om dadelik op iets soos die drastiese amptelike verandering in die US-taalbeleid te reageer, is die Afrikaanse Taalraad (ATR). Op kenmerkende wyse het hy geswyg totdat LitNet gevra het wat die ATR-standpunt is. Die uitvoerende hoof, Jacques van der Elst, het toe ‘n antwoord geformuleer (LitNet 27 November). Gewoonlik vrek die ATR oor politieke korrektheid en leun hy agteroor vir “Afrikaanses”. As Van der Elst nie so erg stief soos ander ATR-direksielede oor Standaardafrikaans klink nie, moet in gedagte gehou word dat hy voor sy aftrede ‘n Afrikaansdosent op Potchefstroom was en diep geraak is deur die mate waarin Afrikaans en Afrikanerkultuur in die eertydse Dopperhemel deur politieke korrektheid en ANC-gedienstigheid gesaboteer word.
“‘Meertaligheidsdoelwit’ is die etiket op die houer waarin [die US-] raadsbesluit verpak is. Niemand [?] sal sê dat dit ‘n besluit téén Afrikaans was nie … Die uiteensettings wat ek wel oor die nuwe taalbeleid kry, dui op ‘n baie regverdige [?] opset van ‘n gelyke bedeling vir die twee tale. Om die waarheid te sê, dit lyk of die Afrikaanse student selfs ‘n meer gewaarborgde [?] toegang tot Afrikaanse onderrig kry as voorheen … Is dit egter nodig dat die vlagskip van Afrikaanse universiteite, selfs van alle universiteite in die land, so akkommoderend ten opsigte van Engels moet wees? Is die universiteit dan so onder taaldruk, terwyl daar twee Engelse universiteite [eintlik drie: Universiteit Kaapstad, Universiteit van Wes-Kaapland en Cape Peninsula University of Technology] in sy onmiddellike omgewing gevestig is, waarvan een [eintlik grootliks al drie] volledig eentalig Engels is en waar die edel doelwit van meertaligheid ver te soeke is?”
“Ek is bevrees dat die US op die lang duur tog sy unieke Afrikaanse identiteit gaan verloor, of dalk [?] al verloor het. Taal is gelyk aan identiteit – dis nie sommer ‘n nutsmiddel nie. En dis tog nie ‘n misstap om net Afrikaans te wees nie. Natuurlik gaan die besluit ‘n nadelige uitwerking hê op die hoër funksies van Afrikaans as akademiese taal. Stil-stil kan dit, as belanghebbendes [soos die ATR] nie keer nie, ook ‘n uitkringende negatiewe effek hê op die bestaan (voortbestaan) van eentalige Afrikaanse skole … Volgens die jongste sensus het byna sewe miljoen Suid-Afrikaners aangedui dat Afrikaans hulle gebruikstaal/moedertaal is … laat hulle hulle meesleur deur die golf van verengelsing met al sy ideologiese implikasies wat die land oorspoel?”
Die uitgeweke joernalis en historikus, Leopold Scholtz, se pa, die historikus en joernalis G(ert) D(aniel) Scholtz (1905-1982), was ‘n volbloed-Afrikaner. Tekens van GD se invloed op Leopold is nog duidelik waarneembaar wanneer sy seun in Nederland oor Afrikaans skryf (Die Burger, 28 November, p 12). “Daar is veral drie redes waarom die besluit van Stellenbosch om tweetalig te word en die rigting waarin Potch beweeg, rampspoedig is. Eerstens het verskeie gerespekteerde internasionale navorsers (Jean Laponce, Joshua Fishman, François Grin) gewys op wat gebeur wanneer ‘n swakker taal aan ‘n onderriginstelling op gelyke vlak met ‘n sterker taal moet meeding: Die swakker taal verloor onherroeplik veld en verdwyn ten slotte of oorleef as ‘n soort kuriositeit in ‘n museumkas. Dit is in Suid-Afrika reeds geïllustreer. Aan die UPE [Universiteit Port Elizabeth] en die UWK [Universiteit van Wes-Kaapland] het Afrikaans prakties verdwyn, aan die UJ [Universiteit Johannesburg] en die UP [Universiteit Pretoria] is dit op sterwe na dood, en aan die UV [Universiteit Vrystaat] gaan dit die kreeftegang. Hoe kan dan beweer word dat Afrikaans se posisie op Stellenbosch juis verstérk word? Op Stellenbosch het agtereenvolgende bewindhebbers [Chris Brink en Russel Botman] plegtige beloftes oor die behoud van Afrikaans gedoen, en op papier is dit – soms – nagekom. Maar die verband tussen die papierbeleid en wat op voetsoolvlak in die lesinglokaal gebeur, waar dit saak maak, is dikwels toevallig.”
“Ek herhaal dus wat ek ‘n paar jaar gelede in dié ruimte [Scholtz se weeklikse rubriek in Die Burger] geskryf het. Mense, hóór nou wat ek hier sê: As sake nie omgekeer word nie, sal Stellenbosch (en Potch!) binne 15 tot 20 jaar (as dit nie gouer is nie) eentalig Engels wees.” Wat ek hier bygevoeg, is dat dit deel is van die die land se “vreedsame oorgang na demokrasie, meerderheidsregering en vryheid vir almal.”
“Ten tweede, ‘n Stellenbosch en ‘n Potch sonder ‘n volwaardige Afrikaanse aanbod is die dood in die pot vir Afrikaans op skool. Sonder die vooruitsig om in Afrikaans te kan studeer, is daar minder [onvoldoende?] rede vir skole om Afrikaans te bly. Diegene wat die universiteite verengels, al gebeur dit met die edelste motiewe, help aktief aan die einde van hul moedertaal.”
“Ten derde is dit ‘n pedagogiese feit dat moedertaalonderwys ook op tersiêre vlak noodsaaklik is.” Scholtz haal dan Nederlandse akademici aan wat protes aanteken teen die neiging by sommige Nederlandse universiteite om te verengels. Begrips- en algemene geestelike en akademies-wetenskaplike vorming, dus die vermoë om daadwerklik te verstaan, word ten beste in die skolier en student se moedertaal tuisgebring.
Ek het groot waardering vir die stekie waarmee Scholtz sy rubriek afsluit. “Dis ten slotte ontstellend dat van die Afrikaanse [dus Naspers-] koerante slegs Rapport tot nog toe ‘n prinsipiële geluid oor die saak laat hoor het [Praag 30 November]. Hopelik verander dit nog.” Dié hoop het nie beskaam nie. Die dag daarna het Die Burger (29 November, p 14) nie ‘n hoofartikel nie, maar darem sy weeklikse redaksionele rubriek, Dawie, aan die US-taalbeleid gewei; ‘n hele week nadat dié gewraakte besluit geneem is.
Die Burger en die hanskakies
Die Burger spreek hom nie in beginsel teen hierdie radikale US-raadsbesluit uit nie. “Die groot toets vir die Universiteit Stellenbosch se nuwe taalplan lê in die wyse waarop dit uitgevoer gaan word.” Dan word argumente vir sowel die pro-Afrikaanse as die pro-Engelse of meertaligheidstandpunt aangevoer. Wesenlik kom dit daarop neer dat die erflating (aanvanklik het ek geskryf: nageboorte) van Louis Botha en Jannie Smuts se hanskakie-mentaliteit gelyk gegee word. (HAT: hanskakie: “Minagtende benaming vir ‘n Afrikaner wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog na die Britse kant oorgeloop het.”) Byvoorbeeld: “Afrikaans kan ‘n hindernis wees wat swart studente uitsluit, en by ‘n universiteit wat as ‘n bakermat van apartheid bekend gestaan het, is groter toeganklikheid moreel noodsaaklik.”
“Uiteindelik kan nie van die [US-] raad verwag word om op te tree asof die toekoms van Afrikaans sal staan en val na gelang van wat aan die US gebeur nie.” Waarom nie? Dit kan ‘n belangrike rede vir die US se voortbestaan wees en dit was sodanige rede. Motivering vir Die Burger se standpunt word nie verskaf nie. Wat hier verkondig word, word blykbaar deur die koerant as vanselfsprekende evangelie aanvaar. Dawie is darem “onomwonde ten gunste van die behoud van Afrikaans as ‘n onderrigtaal aan die US, met die voorbehoud dat dit nooit [!] weer as meganisme vir onbillike uitsluiting gebruik word nie.” Dit is ‘n lomp eierdans soortgelyk aan dié van PEN Afrikaans hierbo. Die implikasie is blykbaar dat as Afrikaans veroorsaak dat sommige studente uitgesluit word, Die Burger nie meer ten gunste van Afrikaans as US-onderrigtaal sou wees nie.
Dan kom Dawie by Die Burger se geliefde Botman uit. “As Maties (in die woorde van wyle prof Russel Botman) ‘n plek moet wees waar sowel die boer se seun as die plaaswerker se dogter kan studeer, moet daar maatreëls wees om te sorg dat die plek van die Afrikaanse plaaswerkersdogter van, sê maar, Laingsburg of Klaarstroom nie geneem word deur die welvarende Engelssprekende sakeseun van Durban nie.” Botman se bedenklike rassistiese en seksistiese redenasie het ek reeds in besonderhede aan die kaak gestel (Praag 20 Julie). Nou borduur Die Burger voort op Botman se ongure argument deur sowel welvarendheid as taal rassisties en seksisties verdag te maak.
In sy laaste paragraaf gooi Dawie die volgende sousie oor die gereg wat hy voorgesit het. “Geen taalplan is egter in isolasie ‘n waarborg van enigiets nie. Die raad en die volgende rektor moet sorg dat die nuwe taalplan só toegepas en bestuur word dat Afrikaans nie vedere skade ly nie [!], terwyl toeganklikheid en diversiteit daadwerklik bevorder word. Mag die US se administrasie, akademici en alumni sy/haar hande in dié taak sterk.” Die Burger het dus voorbeeldig nie-seksisties die opsie van ‘n vrou as US- rektor oopgehou. Dit is baie duidelik dat Die Burger die nuwe US-taalplan verwelkom. Geen woord word gerep oor die verkragting van Jannie Marais se stigtingsvoorwaarde nie. Hierdie koerant is sekerlik nie meer ‘n bondgenoot van die Afrikaner en Afrikaans nie.
Vir my en my geesgenote bly daar net een eerbare grondslag oor. Wees met oorgawe altyd wat jy is: Afrikaner en Afrikaans.
In een van Naarspers se publikasies – Die (tweederangse) Burger – verskyn op 14 Februarie ’n onderhoud met Christi van der Westhuizen oor haar promosieondersoek na die moontlikhede wat die demokratiese (sic) Suid-Afrika vir Afrikanervroue kan bied om nuwe identiteite te ontwikkel.
Dit behoort eintlik nie te verbaas nie, maar die artikel wat volg wemel weer van haat en selfhaat soos ons nou eenmaal aantref by mense wat vervreemd geword het van die kulturele kragte wat hul lewens moontlik gemaak het. Die voortdurend terugkerende onderwerp is die “verdrukkende invloed van Afrikanernasionalisme” wat die ontwikkeling van die vrou belemmer het. Blykbaar is mevrou Van der Westhuizen ’n bewonderaar van die “legendariese intellektueel Susan Sontag”, daardie Joodse tannie wat beweer dat die wit ras die kanker van die geskiedenis is, en behoort dus tot dieselfde kamp as Afrikanerhaters en volksverraaiers á la Max du Preez. Sy het immers haar loopbaan begin by daardie rooi sikofant se Vrye Weekblad.
In hierdie artikel kan duidelik gesien word hoe sy haar begrip van nasionalisme oorgeneem van die Europeërs se model, wat juis in baie gevalle naskokke van die wetenskaps en industriële rewolusies was, en misgis dit met die uitgangspunte van Afrikanernasionalisme. Afrikanernasionalisme het sy eie verligtingsideale nagestreef soos wat ons kan sien in Tobie Muller se Belydenis van ’n Nasionalis wat hy in 1913 geskryf het. Die akkuraatheid van Muller se betoog vind ons elke dag terug in wankelende multikulturele gebiede in die wêreld se groter stede. Vir Muller was dit belangrik om die kragte binne jou eie kultuur te ontdek en te ontwikkel. As ’n mens versuim om dit te doen, loop jy gevaar dat jy ’n slaafse naloper van magtige kulture gaan word, wat jou gemeenskaplike identiteit net verder kan benadeel. Die politieke navorser Robert Putnam het in 2007 iets soortgelyks gevind dat in multikulturele woonwyke is mense minder aktief in buurtgemeenskappe, meer geïsoleer van mekaar (selfs al behoort hulle tot dieselfde etniese groep) en is die algemene gesondheid minder goed as dié van mense in homogene gemeenskappe.
As ons byvoorbeeld kyk na die Afrikaner Broederbond – in die jare toe hulle nog edel beginsels nagestreef het – het hulle hul kragte gebundel om universiteite vir Afrikaners op te rig juis om hul volk op te hef. Die destydse RAU was veral vir daardie doeleinde gestig sodat ’n einde gemaak kan word aan die armblankevraagstuk. Die ywer en Protestantse werksetiek van Afrikaners het uiteindelik daarvoor gesorg dat Suid-Afrika ’n formidabele speler op die wêreldtoneel geword het, en het selfs vrees en afguns ingeboesem by die groot Britse Ryk, wie se grondveste al begin wankel het. Waarom hierdie grootskalige ontwikkelinge afgemaak moet word as “totalitêr en verdrukkend” is iets wat sy seker beter sal weet as ek.
Die marxistiese redenering in terme van deprivasie word alweer rondgestrooi om die hoë syfer van geweld te verklaar: “Ons hele samelewing is omgedolwe deur die einde van apartheid en ons probeer om gewoond te raak aan demokrasie en die moontlikhede wat demokrasie skep, maar ons kom basies uit ’n totalitêre situasie waar die meeste van die moontlikhede toegemaak was. Skielik is daar meer keuses, daar is meer moontlikhede om jouself te aktualiseer as ’n mens”, meen Van der Westhuizen.
Ek wonder of hierdie selfde bewering geld vir die nuwe generasie armblankes wat weens hul verkleur geen werk kan kry nie.
In die artikel kom na vore – en ek hoop dit is as gevolg van slegte redaksionele werk – hoe die konsep van seksuele onskuld waar Afrikaners mee opgevoed is ’n drogredenasie is om seksuele geweld te verbloem. Daar word in soveel woorde weer vinger gewys na die identiteit van Afrikaners as moontlike oorsaak van hierdie vorm van geweld, so asof Afrikaners die nommer een verkragters in Suid-Afrika is. Weereens word twee verskillende belewenisse van twee verskillende volkere deurmekaar gegooi. Die konsep van seksuele onskuld sien ’n mens ook in Renaissanceskilderye. As ons kyk na die bekende skilderwerk van Bottichelli oor die geboorte van Venus, sien ons ook onskuld soos wat sy haar skaamdele probeer toehou. Is hierdie skildery ook oëverblindery omdat dit seksuele geweld wegsteek? Of is dit juis om vroulike skoonheid uit te beeld as iets esteties?
Die hele idee van onskuld is heelwat groter en substansiëler van menswees as wat sy beweer. Emanuel Swedenborg beskryf onskuld as die hoogste goddelike eienskap wat daar is. Die hoogste vorm van onskuld is wysheid. Hoe meer wysheid iemand het, hoe meer onskuld het daardie persoon. Hierdie uitinge van Swedenborg is kenmerkend van die Westerse Christelike tradisie wat ons huidige lewens, ons kuns, wetenskap en literatuur bepaal het. Ons begrip van onskuld het sy oorsprong in ’n metafisiese waarheid en is dus geen patologie van Afrikanerwees nie.
Ek dink, soos Dan Roodt al genoem het, dat waar apartheid ’n metoniem vir Afrikaners is, is Afrikaners op hul beurt ’n metoniem vir die Christelike Weste.
As Van der Westhuizen ’n verklaring wil vind van seksuele geweld sal sy beter af wees om te kyk na daardie kulture en subkulture waar seksuele geweld aangemoedig word. Dit is juis die verval van tradisionele ordes wat sulke geweld veroorsaak. Dit is ook die rede waarom baie mense wat genoeg gehad het van hierdie anargie terugkeer na ’n wêreld van tradisie. Om Afrikanernasionalisme hiervan te beskuldig is nou wraggieswaar ’n geval waarin die medisyne met die siekte verwar word.
Duidelik kom na vore dat Van der Westhuizen weg wil breek uit die ou bedeling maar weet tegelyk dat die nuwe bedeling nie eintlik iets beters aan te bied het nie. Die “meer moontlikhede” waarvan sy praat stel nie veel voor nie, aangesien in baie samelewings interne verskuiwings plaasvind soos wat die tyd aanstap. In lande wat kenmerkend vroue verdruk soos Saoedi-Arabië en Iran sien ’n mens snaaks genoeg meer vroue met hoër onderwysgrade en selfs meer professore onder hulle as mans, terwyl in die Weste is die enigste persoon ooit wat twee keer die Nobelprys gewen het ook ’n vrou. Interessant genoeg het hierdie mevrou – Marie Curie – juis geleef nog lank voor die sestiger jare ’n karikatuur begin gemaak het van vroueregte.
Aan die einde van alle groot politieke kenteringe kom ’n mens tog maar weer terug by die begin en moet van oor af aan weer begin om op te bou wat hulle verlore laat gaan het.
In hierdie verband haal ek die volgende stuk aan van geskiedkundige Carroll Quigley, geskryf het:
For more than a century, from 1830 to after 1940, Catholics in America lived in a ghetto. When American Catholics decided to leave their ghetto (right after the Jews and just before the Italians and Negroes), they did what any people fleeing a ghetto do: they uncritically embraced the outside world, without seeing that that world was moving rapidly toward increased chaos, corruption and absurdity. They abandoned completely a basic principle of the Christian West: that salvation is to be found, either for the individual or for the community, only in slow growth in terms of one’s own traditions and background. If Catholic education had been willing to do that, it could have made a great contribution to American education and to American life, because the only thing which can save America or our world is to get back to the abandoned traditions of the Christian West and to resume the process of growth and development of our society on the basis of those traditions […] And now young people all over the country are trying desperately to get back to some kind of real, if primitive, Christianity, with little real guidance from their so-called teachers and clergy. What is even more ironical is that they, and the more progressive of their teachers, in their efforts to get back to the mainstream of Western Christian growth are trying to work out, by painful application, all those things (like multi-valued logic, or the role of daily good-works in Christian life) which were worked out within the Christian West long ago, but are now forgotten, and now have to be re-discovered as something new.
Aangehaal uit: Is Georgetown University Committing Suicide? Uit The Hoya, April 1967.
Waar Quigley op wys is trouens een van die belangrikste redes waarom kulturele integrasie voortdurend misluk. Sodra mense gekonfronteer word met ’n milieu wat te vreemd is, te bedreigend aanvoel of waarvan iemand ’n gevoel het dat sy bestaan in die wêreld nie tot sy reg kan kom nie, keer hulle na binne en gaan op soek na hul innerlike, metafisiese waarhede. Vanuit hierdie innerlike bron van kennis gaan hulle hulself opnuut heruitvind en hul direkte leefomgewing indeel soos wat hulle dit gewoond is om te doen.
Ofskoon baie mense in vreemde kulture dalk oor die vermoëns besit om redelik soepel in te skakel by die vreemde kultuur, gaan hulle tog iewers merk dat die kolossale gewig van reëls, kodes, uitdrukkingsvorms ensovoorts geen weerspieëling van hul innerlike belewenisse is nie, wat vervreemding veroorsaak. Uit vervreemding ontstaan ’n bose kringloop van verwarring en verdere vervreemding, aangesien vanuit die huislike omgewing ’n bepaalde stel verwagtings vereis word wat nie inskakel by die vreemde, dominante kultuur nie.’n Verlore jeug met afwykende bendekulture word hierdeur veroorsaak, wat ’n resultaat is van jarelange sluimerende onbegrip en frustrasie wat later omslaan in apatie en haat.
Om hierdie proses terug te keer is uiters moeilik, en ’n mens wonder of die hoë moordsyfer op die Kaapse Vlakte, met sy uiters diverse gemeenskap nie die resultaat is van integrasie en amalgamasie wat te ver gegaan het nie. Daar is geen bindende tradisionele kultuur om die groepe sin en rigting te gee nie maar slegs fragmente van vergane kulture wat geen bindende werking op die bevolking meer het nie.
Soos CJ Langenhoven destyds gesê het is die verskil tussen ’n indiwidu en ’n volk dat die indiwidu kyk terug en sien ’n wiegie en kyk na die toekoms en sien ’n graf. By ’n volk is dit andersom: ’n Volk kyk terug en sien ’n graf en kyk na die toekoms en sien ’n wiegie.
Met hierdie herinnering van Langenhoven ontstaan ’n volk se sedewette, gewoontes, kultuur, geloof en diverse hoër kultuurfunksies om te sorg dat hierdie aaneenskakeling gesond kan bly funksioneer van geslag tot geslag.
Dit is uiteraard belangrik dat samelewings moderniseer en eksperimenteer met nuwe kultuurgoedere. Die skade bestaan egter wanneer die gevestigde orde in sy geheel verwerp word en mense rigtingloos gelaat word. Mense begin dan te leef vir die tydelike, die lelike, vulgêre en uiteindelik gaan beskawings ten onder hieraan.
Kom ons hoop dat die jonger generasie ’n bietjie meer verstand het as die huidige een. Dit is al erg genoeg dat hulle vir hierdie gelag moet betaal.
Om kultuur en tradisie te herstel sal myns insiens goeie materiaal wees vir ’n waardige doktorsgraad.