praag.co.za

Tag: Cromwell

  • Dan Roodt: Verontengelsing: om aan die Afrikaner se Engelse probleem te ontkom

    Dan Roodt: Verontengelsing: om aan die Afrikaner se Engelse probleem te ontkom

    As ‘n mens na ons geskiedenis kyk, is dit helder dat Suid-Afrika sonder Engelse veel beter daaraan toe sou gewees het. Sonder liberale en/of kommunistiese Engelse wat konstant die swartes teen ons opsweep, sou ons en die diverse stamme rondom ons baie goed klaargekom het. Dit hou selfs vandag nog aan: skakel net soggens Radio 702 aan, en u sal besef dis ‘n suiwer wonderwerk dat ons nie voor die voet deur swartes uitgewis word nie, want dis wat die propaganda wil hê.

    Iewers op my rak het ek ‘n boek deur ‘n Ier genaamd T.B. Floyd: The Boer nation’s English problem: The story of a small white nation in Southern Africa and its struggle to exist. Maar dit gaan oor ons geskiedenis, wat min of meer bekend is. Of dalk juis nie! Want daar het mos nou ‘n hele geslag op die skoolbanke grootgeword wat slegs aan Engelse propaganda blootgestel is, en nie eens weet van die Groot Trek of die Vryheidsoorloë nie.

    Maar ek is meer begaan oor die hede, die hier en nou. Ek dink nie daar was al ooit ‘n tyd toe Afrikaners so onder Engelse invloed — nee, Engelse oorheersing, Engelse hegemonie — verkeer het as juis tans nie! Luister maar hoe Afrikaners praat: “Ek hardloop my besigheid”; “die show was awesome“; “ons moet die probleem aanspreek”… In die Afrikastyl word geen probleem ooit opgelos nie, jy “spreek hom net aan”. Goeiedag, mnr. Die Probleem, sal u koffie of tee neem? Die enjin is klaar Engels, dis net dele van die bakwerk en die plakker op die agterbuffer wat nog so ‘n bietjie Afrikaans is, of voorgee om dit te wees.

    Vergeet van “verlig” en “verkramp”: die enigste twee politieke begrippe wat vandag saak maak, is verengelsing en veral sy teenoorgestelde: verontengelsing. In die vroeë dae ná 1948 het die Afrikaner (in ‘n mate) verontengels. Dis omtrent die enigste tyd in ons geskiedenis dat ons werklik vooruitgegaan het. Die res was maar net oorlewing, die gekreun van die galeislaaf onder die sweepslae van ‘n Engelse lord.

    Gepraat van “verlig” en “verkramp”, wat blykbaar deur FW se broer Wimpie uitgedink is, dis so tipies Engels. Dit druip van die snobisme, die neerbuigendheid teenoor die “hairyback Boer”! Wie wil in elk geval “verkramp” wees? Dis ‘n belediging, en Engelse spesialiseer in beledigings, bedek of onbedek. Omdat Engeland ‘n eiland is, hoef sy nog nooit ‘n oorlog op eie bodem te geveg het nie, behalwe miskien teen die Noormanne. Daarom voer sy ‘n woorde-oorlog, ‘n semantiese oorlog. Nodeloos om te sê, het die Afrikaner in die onlangse verlede elke semantiese veldslag loshande verloor. Ons is deur die BBC en die linkse, skynheilige Guardian oorwin. Want, hoe links en marxisties die Guardian-joernaliste ook al mag wees, hulle stuur steeds hul bloedjies na private skole… Die sogenaamde Britse “public schools” wat juis nie openbaar is nie. Dit lees ek onlangs.

    Willem de Klerk, die vader van die verlig/verkramp-digotomie, was ‘n Engelsman, net soos sy broer FW wat vir die Engelse hul “multikulturele” droom en Endlösung der Afrikanerfrage bewaarheid het.

    Die hele gedoente rondom Zuma en die Guptas irriteer my nameloos. Goed, waarskynlik het hulle geld gesteel of korrupsie gepleeg. Maar hoeveel geld het die Engelse nie al in Suid-Afrika gesteel nie? Want vir elke transaksie wat ‘n swart politikus in dié land pleeg, is daar iewers ‘n Engelse bankier of verkoopsman of swendelaar wat insgelyks sy miljoene sáám verduister. En die arme Afrikaner werk net harder en betaal meer belasting, want sien, “ons probeer net oorleef”. Die galeislawe kreun en smeek om genade.

    Die hele Afrikanerelite van ons tyd is so te sê reeds Engels. Al die senior Naspersjoernaliste — wit en bruin — het hul kinders Engels grootgemaak. Dan praat ek nie eens van skepsels soos Max du Preez, Adriaan Basson en Christi van der Westhuizen nie. Eintlik, as mens mooi die logiese gevolge van hul standpunte ontleed, bepleit hulle Afrikanervolksmoord, net soos Julius Malema. Dis net ‘n effense stylverskil.

    Maar wat nou van Soliforum, Flip Buys en Kallie Kriel, die volk se “redders” soos hulle hul dikwels voordoen (solank jy ‘n debietorder teken)? Kallie Kriel is meer Engels as Peter Bruce van die Business Day wat omtrent “God Save the Queen” in die stort neurie. Dis vir my interessant dat Kallie na Afriforum as ‘n “burgerregte-organisasie” verwys. Dit klink na ‘n direkte vertaling vanuit die Amerikaanse Engels, “civil rights organsation”, ‘n flou poging om jou as Engels en polities korrek voor te doen. En natuurlik “beveg” Afriforum kliphard “rassisme”! Hoe meer die Engelse media Afriforum as “rassiste” uitskel, hoe harder gaan Kallie Kriel en Ernst Roets soos egte Amerikaanse “kloekserwatiewe” poog om hulle verkeerd te bewys en harder as enige swart Engelsman op rassiste jag te maak. Dis skynheilig, dis Engels.

    Sommige Engelse in Suid-Afrika praat net slegter Engels as ander…

    Om rassisme te beveg, verteenwoordig vandag die apoteose van Engelsheid. Hier is ‘n videogreep vanaf die BBC waarin ‘n kleurlingtransgeslagpersoon hom of haar (want “sy” dra vroueklere) soos volg oor “die wit ras” uitlaat:

    “The uncomfortable truth is that the white race is the most violent and oppressive force of nature on earth.”

    As ek terugdink oor my lewe, dan lyk dit asof ek gedurig probeer het om, soos Andries Hendrik Potgieter, van Groot Brittanje en Engelsheid af weg te trek. Ek onthou toe ek jonk was, het ek baie Engelse boeke gelees, maar dit was alles vertalings van Europese boeke. Engels was vir my ‘n manier om van Engels af te probeer wegkom. Toe ek eers Frans kon lees, was dit vir my ‘n groot verligting dat ek nie meer Engels hoef te lees nie. Op my besoeke aan Nederland en Vlaandere het ek ontdek dat ‘n geweldige hoeveelheid boeke uit ander Europese tale ook in Nederlands vertaal is. As dit maar net in Suid-Afrika beskikbaar was, of in die Nasperspublikasies geresenseer en bespreek sou word. Maar ons weet dat Naspers deesdae ‘n Engelse maatskappy is wat hom nie eens aan Afrikaanse publikasies steur nie, wat nog te sê Nederlandse publikasies.

    A.H. Potgieter het op 28 Augustus 1841 aan Pretorius geskryf:

    “Nou oor die Brit … terwyl u wel my daarom vra, ek wil my in regverdigheid onder geen Brit, nog onder geen moondheid in die wêreld onderwerp nie, en is geen Brit nie en hoop en vertrou dat ek dit ook nooit mag word nie … en wil liewers tien tree voorwaarts gaan as een agteruit.”

    Of dit nou die DA of die ANC is, verkeer die hele Suid-Afrika tans onder Engelse regering. Die feit dat die Kaap tans sonder water is, is vir my die grootste grap van almal. In weerwil van hul louwarm Afrikaansheid, het die vorige NP-regering darem nooit ‘n hele provinsie sonder water gelaat nie. Iewers was daar darem Afrikanerbeplanners en ingenieurs wat na sulke dinge omgesien het.

    Toenemend word die georganiseerde Afrikaanse kultuur — in die mate waartoe dit nog bestaan — onder kleurlingbestuur geplaas. Ek dink dit pas ook die Engelse. Hulle het nog altyd Afrikaans as ‘n mindere inboorlingkultuur en -taal gesien. Male sonder tal het Engelse teenoor my al na Afrikaans as ‘n “vernacular” verwys, iets wat jy nie in die hof of op universteit behoort te gebruik nie. Die kleurling hunker na Engels soos ‘n hert na waterstrome, as ek die psalm reg onthou. Leon Lemmer het dit elders hier op PRAAG geboekstaaf, hoe elke kleurling wat in ‘n gesagsposisie aan ‘n universiteit of elders verkeer, alles voor die voet verengels.

    Terloops, ek dink nie Soliforum het al ‘n enkele hofsaak in Afrikaans gevoer nie; Engels is vir hulle goed genoeg. Maar hulle “veg baie hard vir Afrikaans”!

    Wat my betref, het ek my suksesvol verontengels. Hoewel ek hoofsaaklik in Johannesburg tussen Engelse grootgeword het, kon hulle my nooit assimileer nie — anders as menige ander Afrikaner wat na slegs enkele jare se verblyf hier volkome integreer en verengels. Dit klink seker net beter by die werk as jy sê: “Ek het Kosie nou by St. Stithians ingeskryf.”

    “Verlig” en “verkramp” was sulke onnosele, klakkelose clichés wat deur die Engelse De Klerks uitgedink is. Of nie eens uitgedink nie, dis so half uit Engels vertaal, soos “burgerregte” of “om jou besigheid te hardloop”. Dis bloot in naam Afrikaans; die denke (of gebrek daaraan) is suiwer Engels: Afrikaners moet beledig word, saggemaak word, daarom noem ons hulle “verkramp” of “reaksionêr” of “konserwatief” of “Calvinisties”, “rassisties”, ens.

    Daareenteen is “verontengelsing” ‘n magtige begrip. Dit laat ‘n mens byna terugdeins. Hoe kan ons ons van die empaaier bevry? Of selfs net, soos A.H. Potgieter en die ander Voortrekkers, daarvan wegtrek? Op ‘n stadium toe die polities korrekte Kaapse skrywer Etienne van Heerden nog met my gepraat het, het hy my iewers in ‘n kafee in Kaapstad vertel dat Albie Sachs aan hom gesê het: “English is the language that you breathe, Etienne.” Waarmee Sachs aan hom wou oordra dat Suid-Afrika eintlik nou Engels is en dat alles waarvoor ons voorouers getrek en gestry het eintlik tevergeefs was. Waarop Van Heerden hom geantwoord het: “No, Albie, English is the language that you breathe, not me.”

    Verontengelsing, soos ek reeds hier bo gesuggereer het, begin by jouself. Jy moet elke gewoonte, elke gedagte, elke woord wat jy uiter, ontleed om te bepaal of dit nie dalk Engels is nie. Afrikanerskap gaan oor egtheid. In die meeste Noord-Europese kulture, waarvan ons afstam, is egtheid verskriklik belangrik.

    Van my studentedae af het ek my van politieke korrektheid en kommunisme probeer bevry. In ons tydvak is die Anglo-Amerikaanse kultuur deurdrenk van politieke korrektheid en kultuurmarxisme. Dis omtrent al waaroor dit gaan: wees swart, wees gemeng, wees gay, wees trans, wees anti-blank. Bowenal: wees dekadent. Saam met die verengelsing van die Afrikaner het ‘n groot stuk dekadensie gekom. Ons het nog nie eens begin praat oor hoe dekadent ons geword het nie. Trouens, vir Naspers en Media24 is dekadensie iets positiefs: hoe meer losbandig, gesuip, bedwelm, verward, verdom die Afrikaner kan raak, hoe beter. Want dan aanvaar ons mos die Engelse oorheersing soveel makliker, nie waar nie?

    Moenie ‘n Engelse ontbyt eet nie: dis ongesond! Spek en eier is gif. Bly weg van die Wimpy en die Spur, veral die Spur, die Mugg & Bean en elke Engelse of pseudo-Amerikaanse eetplek.

    Ken jy my nou?
    Het jy die spieël gesien
    en ken jy jou?
    Wanneer jy wil vlug
    uit die stad wat brand,
    dan vlug ek saam
    soos ‘n vrou aan jou hand.

    Só het NP van Wyk Louw in “Ballade van die bose” gedig. En Engels, veral in hierdie land, is boos. Dis vernietigend. Sekerlik is dit nie toevallig dat die koms van Engeland na die Noorde van die land in die negentiende eeu met volksmoord saamgeval het nie, ewe seer as wat die huidige intense verengelsing weereens met ‘n tweede volksmoord op ons mense saamval nie.

    Ons sal van vooraf moet begin. Die postmoderne filosoof by wie ek in Frankryk gestudeer het, Gilles Deleuze, het iewers in ‘n heel ander konteks geskryf: “maak tabula rasa”. Vee die lei skoon. Ons lei is ‘n Engelse lei, vol Engelse woorde en begrippe: “verlig”, “verkramp”, “rassisme”, “laer trek”, en someer. ‘n Engelsman wat in sy belang optree, bevorder menseregte. ‘n Afrikaner wat dit doen, “trek laer”; ons ken dit mos.

    Ons moet aan maniere dink om ons te verontengels. Ons voorouers het Afrikaanse skole en kerke begin, die Bybel vertaal en ‘n letterkunde geskep. Ons teer steeds op hul reusebydrae. Maar dis nie meer genoeg nie. Ons sal self veel méér moet doen. Een manier waarna ek reeds verwys het, is ‘n soort geestelike terugkeer na die oorsprong, na Europa. Die feit dat Engeland hom aan die EU onttrek het, is eintlik ‘n bedekte seën vir ons. Dit bring vanself ‘n verwydering tussen die Europeërs en die Engelse mee. Hopelik begin Europa meer selfstandig na Suid-Afrika ook kyk, en nie net deur die bril van die Boerehaat-BBC en –Guardian nie.

    Die stryd teen Engels in Suid-Afrika moet na Europa uitgebrei word. Ek verstout my om te sê dat Afrikaans eintlik ‘n beter lingua franca vir Europa sou kon wees as Engels, veral in die huidige identitêre tydvak! Ons taal bevat steeds iets van ‘n oer-Europa, van die Hanse, toe vele Germaanse dialekte ook vermeng en vereenvoudig geraak het. As ‘n mens boeke uit Europese tale, veral Duits, Nederlands, Sweeds, Deens, ens., in Afrikaans begin vertaal, besef jy dit. Afrikaans is ‘n produk van die Nederlandse Goue Eeu, die sewentiende eeu, die eeu van Jan van Riebeeck en 1652. Ons beskik oor ‘n trotse geskiedenis, eeue lank al. Ons moet dit net deur die mis van verengelsing herontdek.

    Engeland is besig om, soos onder die bloeddorstige en fanatiese Cromwell, heeltemal kranksinnig te raak. Hulle smyt mense deesdae in die tronk vir polities inkorrekte twiets. Dis die nuwe Sowjetunie. Dit kan gevaarlik wees net om Engeland te besoek, as jy nie die nuwe geloof van politieke korrektheid en kultuurmarxisme aanhang nie. En natuurlik werk die plaaslike Engelse en hul Afrikanermeelopers kliphard om ook van ons land ‘n soort goulag à l’anglaise te maak…

    Die keuse is onverbiddelik: óf ons gaan verontengels óf ons gaan omkom.

  • Dan Roodt: Rhodes-standbeeld en Afrikaner se Engelse probleem

    My aanvanklike reaksie toe die petalje rondom die Rhodes-standbeeld op die kampus van die Universiteit van Kaapstad rugbaar raak, was dieselfde as dié van Manfred Delport: dat die Engelse kultuurmarxiste op die kampus nou hul eie medisyne proe. Jare lank het die links-liberale Engelse en Joodse establishment in Suid-Afrika op ‘n sluwe manier die swartman teen Afrikaners opgesweep, net om nou self die teiken van antiblanke woede te raak. Vandeesweek is Rhodes omtrent erger deur jong swartes verguis as Verwoerd of Malan.

    roodt_fbfotoEintlik was dit logies dat dit vroeër of later moes gebeur. Om antiwit haat in ‘n land met ‘n swart meerderheid te saai, is omtrent die domste politieke “strategie” wat daar is. En tog is dit presies waarmee “slim” Engelse al jare lank mee besig is. Nie jare nie, dekades! Selfs eeue. Want sedert die dae van die Oosgrens en die hatige Engelse sendelinge van die vroeë negentiende eeu, het daar niks wesentliks aan Engelse politiek verander nie. Voeg daarby die Engelse identiteit wat so nou met dié van Groot Brittanje verbonde is, en ons kan sien dat Suid-Afrika eerder oor ‘n Engelse probleem as ‘n swart probleem beskik.

    Van die tyd van die Xhosa-oorloë af het Afrikaners instinktief begryp dat dit geen sin maak vir blankes om mekaar in dié land te lyf te gaan terwyl hulle so dikwels self ‘n bedreigde minderheid is nie. Uit vele van die vertellings rondom die veldslae van die twee vryheidsoorloë kom ‘n mens agter dat die gesig van Engelse lyke ons mense kwalik met vreugde vervul het. “Waarom moet witmense mekaar doodskiet?” was die algemene gevoel onder die Boere.

    Hierteenoor word die Engelsman deur geld en mag gedryf en wat agterna volg, maak nie saak nie. Van die ergste gruweldade in die geskiedenis – soos die konsentransiekampe by ons – is deur hoogheilige Engelse gepleeg. Trouens, terwyl die Engelse elke dag gal braak oor apartheid, het hulle stil-stil hul koloniale argiewe vernietig om die getuienis van Britse marteling en moorde op swartes in Afrika uit te wis.

    Deel van die probleem met Engelse is natuurlik die Britse klassestelsel: die elite voel niks vir hul eie mense nie en beskou hulle óf as kanonvoer óf as skorriemorrie waarmee hulle liefs nie wil meng nie. In Suid-Afrika het die Engelse elite jare lank Afrikaners as ‘n natuurlike “Engelse werkersklas-in-wording” gesien terwyl hulle hulself as verteenwoordigers van die koloniale elite beskou het, terwyl hulle lelike Engelse huise in Parktown of Rondebosch gebou het.

    Sedert 1994 het Suid-Afrika natuurlik meer Engels as ooit geword en is die links-liberale, “veelrassige” utopie met groot fanfare aangekondig. Die meerderwaardigheid van Anglo-Amerikaanse metodes sou aan ons gedemonstreer word deur middel van regstellende aksie, gedwonge integrasie en maniese verengelsing van die howe, die universiteite, die skole, die kerke en elke denkbare instelling.

    Twintig jaar later verstaan ons waarom die Groot Trek plaasgevind het: nou weet ons hoe lyk die gemors waarop Engelse metodes en fanatisme oor rasvermenging afstuur. Ons voorouers het verkies om oor die Drakensberg te trek eerder as om langer Engelse regering, tesame met moreel histeriese Engelse kerklikes, te verduur.

    Engelse (en Joodse) morele histerie is natuurlik die politieke petrol van Suid-Afrika. Terwyl die Britte en die Amerikaners in die onlangse verlede miljoene mense in hul oorloë gedood het, hoor ons elke dag watter “misdaad teen die mensdom” apartheid was. Tydens daardie Britse marionet, biskop Desmond Tutu, se lieg-en-biegkommissie is bevind dat daar oor 40 jaar van sogenaamde “apartheid” net meer as 500 mense in onluste en ander openbare geweld deur ons veiligheidsmagte gedood is. In die meeste gevalle was dit waarskynlik uit noodweer of selfverdediging. Dis nou die “misdaad teen die mensdom” waaroor die histeriese Engelse en hul swart marionette elke dag skuim-om-mond gil. Die skynheilige Engelse het, soos James Bond, ‘n “lisensie om dood te maak”, maar beoordeel die res van die wêreld volgens ‘n engelagtigte kode wat net op ander van toepassing is en nie op hulself nie.

    In my onlangse essay, wat spesiaal in Engels geskryf is sodat die Angel-Saksers dit ook kan lees, verwys ek na ‘n frase deur Churchill, “Cromwell se vloek”, waarmee hy die fanatiese, puriteinse moordlus van Cromwell beskryf wat nie-Engelse soos die Skotte en die Iere voor die voet uitgemoor het. Dit was ook Cromwell wat die verbod op Jode in Engeland opgehef het en sedert sy bewind het die alliansie tussen die Rothschilds en die Londense finansiële distrik, die City, in die negentiende eeu tot Britse wêreldoorheersing gelei.

    NOU OOK OP PAPIER!

    Raidersblad2

    Rhodes, oor wie se standbeeld daar nou in die Kaap geredekawel word, was so min of meer ‘n huurling van die Rothschilds en ander Londense finansiers. In Cecil John Rhodes is Cromwell en Rothschild verenig, want hy was sowel die Britse puritein met sy fanatisme en drome oor die wêreldoorheersing van die “Britse ras” as die geldhonger magnaat wie se sug na geld hom tot oorlog, verraad en elke oneerlike set (soos die Jameson-inval) sou verlei.

    Dis seker eie onkunde oor die Universiteit van Kaapstad waarin ek geen besondere belangstelling koester nie, maar ek besef vandeesweek eers dat die “Jameson Hall” aan dié universiteit juis na Leander Starr Jameson vernoem is! Die Nasionale Party, wat op tipies Afrikaanse manier bewus was van die behoefte aan “blanke solidariteit” het feitlik nie ‘n enkele naam verander nie en Rhodes se standbeeld en die Jameson-saal met ‘n verdraagsaamheid behandel wat eenvoudig verstommend is. Milnerton in die Kaap, asook Milnerpark, Empireweg en die Koningin Elizabeth-brug is toegelaat om hul aanstootlike simboliek oor die hele Johannesburg uit te straal, alles om die Engelse te behaag.

    Die oomblik toe die Engelse elite egter via hul surrogaat-terreurbende, in die vorm van die ANC/SAKP, mag bekom, is Afrikaans en Afrikaanse name egter met wortel en tak uitgeroei. Selfs “Kerkstraat” in Pretoria is uitgewis met dieselfde ywer as waarmee die Britse soldate in 1900 kerke afgebrand het.

    Ek wonder dikwels: Wat het 200 jaar van “blanke solidariteit” ons gebaat? Behalwe die armer tipe middelklas- of laermiddelklas-Engelsman wat in elk geval oor geen politieke of ekonomiese invloed beskik nie en dalk ‘n soort Afrikanerbondgenoot kan wees, het Engelse hul nog nooit oor die lot van blankes in ons land verknies nie. Die elite-Engelsman, wie se enigste lojaliteit teenoor Brittanje en die Geldmag van Londen is, het geen erg aan enige plaaslike kultuur, geboue, name of selfs die hele landboubedryf nie. Selfs al misluk Suid-Afrika geheel en al soos Zimbabwe, sou dit hom geen duit skeel nie, want hy beskik oor ‘n hele spyskaart van Engelssprekende lande waarheen hy kan emigreer en waar hulle, met die uitsondering van Amerika en Kanada, óók krieket en rugby speel. Daarom, dít wat vir die Afrikaner van kosmiese en lewensbelang is – die toekoms van Suid-Afrika – is iets wat hy gemaklik in ‘n dobbelspel of ‘n beurstransaksie sou verwed. Ek het nog geen Engelsman, behalwe miskien ‘n paar gesoute oud-Rhodesiërs, teëgekom wat enige spyt of jammerte uitspreek oor die lot van Zimbabwe nie. Trouens, Baron Robin Renwick, die Britse argitek van die Lancaster-beraad, is vandag nog trots daarop dat hy die land aan Mugabe kon oorhandig om op te mors! Al verval Suid-Afrika in hiperinflasie, geweld en anargie, sal geen haan daaroor in Engeland kraai nie.

    Terug by die Rhodes-standbeeld. Dis seker Rhodes se verdiende loon dat sy standbeeld vandag afgebreek word en dat ‘n stukkie van die Engelse tradisie in dié land daarmee saam gaan verdwyn. Miskien kan ons vir ‘n paar sekondes bly daaroor voel. Wat my betref, voel ek dat die hele land eintlik van Engels en Engelse name gesuiwer moet word. Wat het die goed in elk geval hier kom soek, behalwe goud en diamante? Die onreg wat die Engelse ons al tweehonderd jaar aandoen, skrei ten hemele. En dan dink ek veral aan die meer onlangse onreg: hulle leuens en morele histerie wat vanuit Londen, Johannesburg en Kaapstad op ons uitgegiet word. Hulle onbekookte revolusie wat ons land sedert 1994 in toenemende chaos en geweld dompel. Hulle verskoon diskriminasie teen Afrikaans en Afrikaners, asook plaasmoorde, maar raak berserk van woede as iemand die woord “Bantoe” iewers gebruik, soos in “Bantoetaal”.

    Net gisteraand sien ek toevallig hoe daar weer ‘n ellelange program op die SAUK-TV uitgesaai word waarin ‘n klomp dom en waarskynlik ongewaste, onwelriekende Britse sangers kraai oor hoe hulle met hul Londense konserte in die tagtigerjare die ANC aan bewind geplaas het. Wat wéét ‘n Engelse takhaar met ‘n kitaar van ons land, en wat gee hom die reg om hier te kom inmeng? wil ek vra.

    Ongelukkig verteenwoordig die debakel rondom Rhodes se standbeeld in Kaapstad geen kritiek op Engelsheid of selfs die Britse kolonialisme in dié land nie. Die spul rumoerige swart studente, wat ook hier en daar deur linkse kleurlinge en blankes ondersteun word, het geen probleem met Rhodes se Britse Ryk wat ons land met geweld kom plunder het en ons volk erger as diere uitgeroei het nie. Van ons geskiedenis van die laat negentiende eeu, waaronder die politieke stryd tussen Rhodes en Kruger, weet hulle niks en verstaan daarvan nog minder.

    Nee, waaroor dit vir die gepeupel op die kampus van daardie kultuurmarxistiese instelling, die Universiteit van Kaapstad, gaan, is dat Rhodes iewers nog ‘n vergange blánke orde verteenwoordig. As Rhodes ‘n Portugees of Duitser of selfs Afrikaner was, sou die gejil nie minder gewees het nie.

    Soos my vrou vanoggend vir my sê: “Indien Rhodes vandag gelewe het, is daar geen twyfel aan wie se kant hy sou gewees het nie.” Ek moes haar gelyk gee. Indien Rhodes vandag gelewe het, sou hy op die voorpunt van die internasionale beweging teen die blanke en Europese beskawing gewees het. Eintlik behoort daardie verwarde, aangehitste “studente” in aanbidding voor Rhodes se standbeeld neer te kniel, nes voor al die aaklige Mandela-beelde wat ons stede ontsier, want albei verteenwoordig die antinasionale, die internasionale, die globale. Of soos ek dit ‘n paar jaar gelede genoem het: die “Ryksgedagte“.

    Daarom, die ironie is: Rhodes se standbeeld is tans die slagoffer van Rhodes se sukses. Die Ryk leef voort, met dié verskil: die Ryk is nie meer blank nie, maar mezisto of gekleurd of swart of wat mens dit ook al sou wou noem. Dis ook waarom die antiblanke rektor van die UK, Max Price – saam met wie ek destyds op die studenteraad van Wits was – min deur die relletjie gepla is. Om Rhodes se standbeeld te “verskuif”, soos hy dit noem, is ‘n klein prys om te betaal vir die multikulturele projek van rasserevolusie en “transformasie” waartoe hy en ander fanaties verbind is.

    Die rasserevolusie gaan ons vernietig op ‘n manier waarvan Rhodes, Milner en Chamberlain, wat bloot handperde van die Londense Geldmag was, net kon droom. Toe Milner – wat later insgelyks ‘n bankier in Londen geword het – gesê het: “We must eliminate the last vestiges of Afrikanerism from South Africa”, het hy dit moontlik nie so voorsien nie, maar dit sou uiteindelik  beteken dat die Europese beskawing aan die suidpunt van Afrika saam met die Afrikaner sou verdwyn.

    Daardie jillende “studente” wat ontlasting oor Rhodes uitgesmyt het, bring so min of meer die boodskap, wat deur die Boerehaat-spotprentkunstenaar, Zapiro, beaam is.

    zapiro_rhodes

    By alles wat ‘n mens oor Rhodes kon sê, het hy blykbaar ‘n klomp Latynse boeke in rooi Marokkaanse leer laat bind en taamlik gereeld daaruit gelees. Ek haat Rhodes en alles waarvoor die man gestaan het, maar dié brokkie wek so een persent simpatie by my.

    Rhodes het van boeke gehou. Dieselfde kan nie van die ontlastingstrooiers van die Kaap gesê word nie. Die Ryk het ons tot digby Conrad se “donker hart van Afrika” gebring.

    Volg Dan Roodt saam met 29 000 ander op Twitter!