Dié beskuldiging volg nadat Buys, volgens AfriForum Jeug, eers gepoog het om lede van AfriForum Jeug te verhoed om ʼn meningspeiling onder studente te doen rakende die universiteitsbestuur se besluit om God se naam uit die instelling se leuse te verwyder, en daarna gedreig het om AfriForum tot verbode organisasie op UV te verklaar, sou die meningspeiling se uitslae aan die media bekendgemaak word. Buys het ook gedreig om lede van AfriForum Jeug te laat arresteer, sou hulle op kampus of selfs buite die kampus met die media oor die meningspeiling praat.
Volgens Ernst Roets, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, behoort universiteitskampusse juis plekke te wees waar menings vryelik gewissel kan word en oop demokratiese debatvoering aangemoedig word. “Wat ons egter nou sien, is die ZANUfisering van die UV-kampus deur die Mugabe-agtige optrede van die universiteitsowerhede,” het Roets bygevoeg. Volgens hom is die feit dat daar tans geen verkose studenteverteenwoordigers bestaan nie (nadat die UV-bestuur verlede jaar die Verteenwoordigende Studenteraad by dié instelling ontbind het), maar slegs studentestrukture wat op ondemokratiese wyse deur die universiteitsowerhede aangewys is, ʼn simptoom van die UV se ondemokratiese optrede.
In die meningspeiling, waarvan die deelnemers verteenwoordigend van die studentesamestelling met betrekking tot ras, geslag, fakulteite, koshuise en dagstudente was, het 93,2% aangedui dat hulle ontevrede is met die verandering van die UV se leuse. Die peiling is volgens Roets juis gedoen, omdat die UV nie studente direk geraadpleeg het nie, maar slegs met studentestrukture wat op ondemokratiese wyse deur die universiteit aangewys is, gesprek gevoer het hieroor.
Met verwysing na Buys se pogings om die uitslag van die meningspeiling te bevraagteken, het Roets gesê indien die UV eerlik is met pogings om die uitslag van die peiling verkeerd te bewys, sal die UV ʼn amptelike referendum oor die saak uitroep om te wys waar studente se sentimente lê. “Dit is egter onwaarskynlik dat die UV ʼn referendum onder studente sal hou, aangesien die uitslag daarvan sal bevestig dat die UV-bestuur eensydig en sonder enige geloofwaardige studente-inspraak besluit het om die UV se leuse te verander,” het Roets bygevoeg.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.