praag.co.za

Burgeroorlog en die Pienk Frikkie-debat

Written by

in

“Kortom: ‘n Burgeroorlog is ons voorland.”

Dit is nie die woorde van ‘n regse Afrikaner of ‘n heethoof Malema nie, maar van dr. Michael le Cordeur, ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

Le Cordeur se opmerking kan nie werklik net teen die agtergrond van sy artikel in Rapport waar hy dié term gebruik het, geëvalueer word nie, maar ook teen ‘n rubriek vroeër die week in die Nasionale Pers dagblaaie. Dit is duidelik hy het die saak diep bepeins, en dat dit waarvan die hart vol is, die mond nou van oorloop.

Hy staan nie geïsoleer onder die bruin intellektuele nie. Hy haal dr. Allan Boesak, dr.Franklin Sonn, prof.Richard van der Ross en mnr. Ebrahim Rasool aan.

Le Cordeur se pennevrug volg ook op nuwe klankies wat al ‘n rukkie uit bruin geledere kom – byvoorbeeld dr. Jakes Gerwel wat geskryf het dat die ANC wel ‘n vrotsige regering mag wees, maar toe beswaard was dat die ANC so dikwels as landsvyand voorgehou word. Sedert die Annelie Botes-insident het besonder baie bruin meningsvormers, soos nou Le Cordeur, maar vroeër ook Heinrich Wyngard en Zelda Jongbloed, bietjie buite die geykte raamwerk begin dink.

Op die gevaar af om te oorvereenvoudig, was die Botes-insident, hoe onbedoeld ook al, ‘n waterskeiding tussen ‘n era waar liberaliste (wat hulself optimiste of selfs as objektief beskryf het) bang was tussengroepverhoudinge gaan tot skadelike vlakke versuur, en ‘n era waar dieselfde mense openlik besef dat die land wat gesindheidsvlakke betref, reeds in die moeilikheid is.

Dié gewaarwording word onder meer weerspieël in die menings van kenners en ‘n ”kenner” wat Rapport vandag ingespan het om bietjie in die 2011-kristalbal te kyk. Prof.Pierre de Vos verwys na spanning tussen die regering en howe wat verder kan oplaai. Christi van der Westhuizen verwys na die “groter diskoers van onverdraagsaamheid wat geweld moontlik maak”, Flip Buys verwys na die probleem van “groeiende gaping”, Piet Croucamp verwys na die “deksel op drukkoker van destruktiewe politiek” en prof. Albert Venter verwys na die gebrek aan “’n geloofwaardige opposisie na wie ontevrede kiesers hul kan wend.”

Selfs Jan-Jan Joubert wat hom ‘n week tevore as optimis bevestig het, verwys na ‘n aspek van die grondkwessie wat ruimte vir korrupsie skep en vir hom onoplosbaar lyk.

Die debat oor gesindhede staan in skrille kontras met die oorhoofse beeld van euforie wat enkele maande tevore wyd in die media gedra is.

Die huidige vlaag van pessimisme val ook nou vierkantig in die periode van post-euforiese trauma wat kenners voorspel het.

Die nuwe denke is nog te los en ongeaksentueer om etikette te kry en behoorlik beskryf te word. ‘n Paar elemente kan dalk oorweeg word:

  • Die geneigdheid om apartheid vir die huidige spanningsvlakke te blameer, neem selfs in populistiese kringe af. Le Cordeur het vroeër die week nog apartheid probeer betrek deur na die babelas daarvan te verwys, maar ook hy kyk na die huidige, die nou, om oorsake te vind. Selfs in swart akademiese geledere word bietjie “weg” gedink, maar helaas, politici, soos die Vrystaatse premier Ace Magashule, blaas nog verwoed lewe in die spook van apartheid.
  • Dit blyk ‘n baie moeilike denke-Rubicon vir bruin mense te wees om nou openlik te vermaan teen die ontwikkeling van denke uit die verlede, en vermanings dat, soos Le Cordeur dit stel, ‘n nuwe apartheid in die land posvat. Dit gaan gepaard met ‘n versugting na die era toe Mandela die politieke toneel oorheers het. Hierdie era word naatloos en kritiekloos geïdealiseer. Die punt waar die gety vir gesindhede en bruin mense gedraai het word gewoonlik geïdentifiseer in Mbeki se “I a man African”-toespraak. Op voetsoolvlak, buite die kring van bevoorregting, bestaan die persepsie lank reeds dat bruin mense nou, dalk meer as in die verlede, die kort lootjie getrek het.
  • Opvallend is dat die geteem oor die wonderlike grondwet nou baie stiller is – en dalk buite die swart gemeenskap – doodstil. Selfs prof. De Vos se verwysings is na die howe wat sal rug styfmaak, eerder as ‘n verheerliking van die grondwet. Uiteraard kan die howe dit net onder die beskerming van ‘n minstens afdoende grondwet wat dié aspek betref, doen. Sy verwysing na hoe, volgens hom, die SABC die ANC in die komende verkiesing gaan steun, is dalk ‘n aanduiding dat hy meen daar is ‘n verskil tussen ‘n grondwet op papier en ‘n grondwet in die praktyk.

Die geskiedenis sal leer of die Botes-insident die denke-oorsteek van die Rubicon moontlik gemaak het – dat Realpolitik (‘n term wat Jan-Jan ook vandag inspan) nou sterker momentum gaan kry. Dit sal natuurlik verregaande wees om die inhoud van die Botes-insident te koppel aan die inhoudelike van die nuwe debat. Al wat die Botes-insident gedoen het was in wese om aan die kaak te stel hoe ‘n situasie onder die oppervlak (selfs die deksel van die drukkoker) kan ontaard as die algemeen erkende en aanvaarde debat te diep in die dryfsand van politieke korrektheid vasval, en Realpolitik aan die eietydse Inkwisisie van politieke korrektheid uitgelewer bly. Dit is nog so vroeg in die verwikkelings dat dit nog net die deurswem van die “mighty Apies” is.

Minstens het die debat bietjie in die dryfsand geroer.

Juis omdat elemente van Realpolitik na vore kom, sal dit die Afrikaner oor sy ganse politieke spektrum loon om kennis te neem. Realpolitik staan immers nader aan beginselpolitiek as aan die idealismes wat baie rubriekskrywers se pennevrug so lank gekenmerk het.

Die Afrikaner se politieke pad (nog lank voor ‘n mens eens die staatkundige neerslag in berekening bring) dra net soveel indien nie meer traumatiese letsels nie as dié van die bruin gemeenskap. Dis letsels van misdaad – sodat selfs die term volksmoord ingespan word, diaspora, politieke verdeeldheid sodat selfs die term “verraad” algemeen gebruik word, ontneming van geleenthede en aktiewe nasionale vervreemding soos in onder meer pleknaamwysigings gemanifesteer.

Binne die raamwerk van Realpolitik is daar sake waaroor besin moet word – presies hoe ver kan volgens die de facto –beginsel politiek en staatkundig gehandel word voor die de jure –legitimiteitskwessie wat vir sommiges ‘n absolute beginselsaak is omgeploeg word? ‘n Praktiese voorbeeld: As die geleentheid gebied word en sprekers uit die volkstaatdampkring na die FW de Klerk Stigting se komende konferensie genooi word, die geleentheid benut om ander staatkundige opsies op die tafel te plaas, of gaan die Pienk Frikkie-debat en ‘n afkeer daaraan om legitimiteit aan die beraad te verleen, ‘n afwesigheid verseker en die alternatiewe opsies dan nié gestel word nie? Gaan aan die VVK-verkiesing deelgeneem en die munisipale verkiesing geboikot word, of gaan aan beide deelgeneem word?

Gaan die hoofstroommedia dieselfde geleenthede aan Afrikaner-analiste gee wat die Realpolitiek begin ontleed as wat bruin rubriekskrywers nou voel-voel begin betree?

Of gaan die gemiddelde leser weer weekliks, wanneer die post-euforiese depressie afgewerk en idealisme weer bietjie speelruimte kry, ‘n keuse tussen die Maxipers en kokende bloed,of niks kry?

купить пазлы украинаОлександр Васильович Фільчаков

Comments

Leave a Reply