praag.co.za

Verkiesing van leiers in Afrika

Written by

in

In die Ivoorkus lol dit. In Zimbabwe lol dit. In Kenia en Madagaskar sukkel dit.

Cope wys hoe dit nie gedoen moet word nie.

In Suid-Afrika is die stryd om in die demokratiese bestel bo uit te kom, dikwels een van oorlewing. In ‘n nominasiestryd om ‘n kandidaat vir ‘n wyksverkiesing te kies, is die uitslag dikwels die verskil tussen werkloosheid met voortgesette armoede, en ‘n plekkie op die soustrein. Die versoeking om te konkel om bo uit te kom is groot.

Nominasietyd is ook wanneer kleiner en nuwe partye feitlik oorval word deur grootkoppe uit die groot partye soos die ANC. Elke keer word die ACDP bv ingeval deur onsuksesvolle ANC-aspirant-kandidate wat mekaar dan in hul Christelikheid probeer oortref – word genomineer, en as hulle dit nie maak nie, gewoon weer verdwyn. Of dit dalk gemaak het, maar in die destydse oorlooptyd sorg dat hulle weer by moeder ANC aanland.

Dit is egter die partyleiers self wat dikwels wys hoe sake nie gedoen moet word nie. Pas is genl. Bantu Holomisa onbestrede tot leier herkies. Dit is reeds goed bekend wat van iemand word wat bloot laat blyk dat hoofman Buthelezi as IVP-leier uitgedaag kan word. Die ACDP het ‘n ellelange lys slagoffers van senior lede wat met eerw. Meshoe haaks geraak het of wat as bedreiging vir sy leierskap beskou is.

En dan is daar Cope, waar die grense van smerige leierskapstryde tot oor die horison teruggeskuif is. As iemand gedink het die ANC se Polokwane-voorbeeld was die ergste vorm van wat kan gebeur, is hul persepsies na die maan.

In die proses word met die gewone kieser se stemreg gemors.

Gebreke in die grondwet word nou met die Cope-debakel aan die kaak gestel. Daar is in die grondwet geen voorsiening vir ‘n plan B as ‘n party as’t ware ophou bestaan nie. Ingevolge Cope se eie grondwet is daar ‘n voortbestaan- dilemma. Volgens sommige waarnemers het die tusssentydse leierskap ophou bestaan, en ‘n nuwe leierskap, ongeag Shilowa se verklaring, is nie verkies nie.

Maar buig of bars, die setels is tot die volgende provinsiale en nasionale verkiesings aan Cope toegeken, en Cope gaan staatsfondse kry, al is dit ‘n spookparty – al is dit moontlik ook nie meer ingevolge sy eie grondwet ‘n wettige party nie. Sonder strukture wat ‘n toets deur die howe kan deurstaan is daar ander vrae: Wat gebeur as ‘n Cope-parlementslid of wetgewerlid sterf of bedank – hoe gaan hy vervang word? Geld ou kandidatelyste nog? Kan iemand nog uit die party geskors word? En ten slotte, hoe gaan wettige kandidatelyste opgestel word vir die komende munisipale verkiesings?

By Cope handel dit oor meer as net leiers wat bots. Die leierskapstryd is grootliks die manifestasie van ‘n ideologiese stryd, wat onderstreep dat ‘n party eers ‘n beleid moet hê voor dit aan ‘n verkiesing deelneem. Dit is ‘n verleentheid vir die volwassenheid van die Suid-Afrikaanse kieserskorps dat partye wat nog nie beleid het nie, stemme trek. Cope was nie die eerste nie. Patricia de Lille se ID het eers lank na sy ontstaan besluit dat dit ‘n sosiaal-demokratiese party is – dus ideologies nader aan die ANC, maar is kort daarna deur die liberaal-demokratiese DA ingesluk. Geen wonder dat nie alle ID-lede DA toe is nie.

In skrille kontras hiermee staan die meeste Wes-Europese politieke leiers wat soms die kat goed uit die boom bekyk voor hulle by koalisiepraatjies, en dus ministerskappe of selfs premierskappe betrokke raak. Geert Wilders, wat die sleutel tot die vorming van ‘n Nederlandse regering hou, het selfs so ver gegaan om homself en sy party nie vir poste op te dwing nie, en ‘n regering moontlik gemaak deur gedoogde steun aan ‘n minderheidskabinet te verleen.

автоматикалобановский александр дочь

Comments

Leave a Reply