Oud-kmdt. Willem Ratte is reeds ‘n week lank op ‘n hongerstaking in die Witbankse gevangenis omdat hy voel dat hy onregmatig aangehou word. Vriende en mense na aan hom vrees vir sy lewe aangesien sy gestel reeds verswak is en die gevangenisowerheid weier dat hy elektroliete ontvang wat die verhongeringsproses sou vertraag.
Dr. Dan Roodt van Praag en ‘n vriend van Ratte was Donderdag by die gevangenis waar hulle op tegniese gronde toegang tot Ratte geweier is. Hulle het elektroliete by hulle gehad wat hulle aan Ratte sou kon oorhandig.
Die handelsnaam van die elektroliete is Rehidrat en kan oor die toonbank en selfs in supermarkte gekoop word. Terwyl die gevangenisowerheid geweier het dat die elektroliete aan Ratte oorhandig word, word gevangenes wel toegelaat om kitskos soos Nando en Kentucky Fried Chicken te ontvang, asook tandepasta en ander toiletware.
Ratte se vrou Zanzi het bevestig dat sy van ‘n medegevangene verneem het dat Ratte ‘n hongerstaking uitvoer. Hy het reeds twee keer vantevore toe hy in die gevangenis aangehou is dieselfde gedoen. Toentertyd het hy egter vrylik toegang tot elektroliete gehad.
Volgens Ratte het hy “hoegenaamd niks” met enige wapens of dagga wat op die plaas gevind is te make gehad nie. Hy ontken ook dat ‘n koperkabel wat op die plaas gevind is, gesteel is. Hy voel dat hy onmiddellik vrygelaat behoort te word.
Intussen het dit geblyk dat die polisie aanvanklik deur ‘n werknemer van die sweisskool op die plaas, mnr. Mike Hough, ontbied is nadat ‘n sakkie dagga en 9mm-patrone op die perseel van die sweisskool gevind is. Daar is ‘n slegte verhouding tussen Ratte en Hough en blykbaar het hulle vantevore reeds rusie gemaak.
Hough het oor die afgelope weke toegelaat dat vragmotorbestuurders van buite by die sweisskool oorslaap vir herstelwerk aan swaar vragmotors, wat tegelyktertyd die “volkseie” reël van die stigting waaraan die plaas behoort oortree het en ‘n veiligheidsrisiko geskep het. Hough is daarna aangesê om dié praktyk te staak.
‘n Vriend van Ratte wat anoniem wil bly, meen: “Ek vind dit vreemd dat die sakkie dagga en patrone direk ná dié voorval daar gevind is. Die plaas funksioneer reeds nege jaar lank met die rehabilitasieprogram vir hawelose seuns waarvan sommige al daggarokers was. Waarom word die sakkie dagga en patrone skielik ontdek net nadat die onderonsie met Hough oor die vragmotorbestuurders ontstaan het? Aan wie behoort die dagga en wie het dit daar geplant?”
Mnr. Mike Hough het volgens bronne op die plaas die polisie twee keer oor die sakkie dagga gebel. Aanvanklik is twee swart polisiemanne na die plaas gestuur, maar hul ondersoek het nie veel opgelewer nie en geen klopjag is op Ratte en die jongmans uitgevoer nie. Daarna het Hough weereens die polisie gekontak en aangepor om ‘n klopjag op die hele plaas uit te voer. Hough wou blykbaar “wit polisiemanne” op die plaas hê om die klopjag uit te voer. Blykbaar het ambulanse die taakmag vergesel, wat die indruk gewek het dat die polisie nie sou skroom om op Ratte en die hawelose seuns te skiet nie.
Ratte en sy mede-aangehoudenes verkeer reeds langer as ‘n week in die gevangenis op Witbank. Hulle sal Maandagoggend in die landdroshof in Witbank verskyn waar moontlike borgaansoeke aangehoor sal word. ‘n Groot groep ondersteuners en simpatiseerders word by die hof verwag.
Volgens ‘n medegevangene is Ratte egter so swak omdat hy reeds ‘n week lank nie eet nie dat hy beswaarlik kan staan. Of hy dus in ‘n toestand sal wees om Maandag in die hof te verskyn, is ‘n ope vraag. Intussen weier die gevangenisowerheid dat Ratte elekroliete ontvang.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.