Polisielede wat verlede jaar afwesig was by die werk weens siekte, het die belastingbetaler meer as R550 miljoen (R551 073 000) gekos. ‘n Totaal van 1,2 miljoen (1 204 955) werksdae het hierdeur verlore gegaan. Dit is volgens die jaarverslag van die Polisie in die tydperk vanaf 1 Januarie 2009 tot 31 Desember 2009. Siekverlof alleen het R387,473 miljoen en permanente en tydelike onbevoegdheidsverlof het R163,6 miljoen beloop. Die kategorie waar afwesigheid weens siekte die meeste voorgekom het, was by hooggeskoolde lede (vlakke 6-8) en die tweede meeste by geskoolde lede (vlakke 3-5). Hooggeskoolde lede was 552 819 dae en geskoolde lede 513 198 dae afwesig.
“Wat meer kommerwekkend is, is dat hooggeskoolde en geskoolde lede die meeste siek is. Hierdie is juis die kategorie van lede wat die kern van die Polisiediens vorm en misdaad moet ondersoek. Die syfers toon dat daar ‘n ernstige probleem is wat aandui dat Polisielede in hierdie kategorieë of oorwerk is of onder te veel druk en spanning geplaas word. Deel van die druk en spanning is ook dat sommige lede nie behoorlik opgelei is vir die taak wat hulle moet verrig nie,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Polisie van die Vryheidsfront Plus.
Volgens die jaarverslag het 359 lede weens swak gesondheid afgetree waarvan psigologiese en mediese toestande die leidende oorsake was.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.