Pas het ‘n belangrike ANC-kongres afgeloop. Die verrigtinge het die media ‘n week lank totaal oorheers, in der mate dat belangrike nuusgebeurtenisse uit die openbare oog gebly het. ‘n Uiters belangrike brief wat die gesaghebbende internasionale Verslaggewers Sonder Grense aan die ANC gerig, en gemaan het om te herbesin oor mediaplanne, is feitlik volstrek deur die groot media geïgnoreer, volkome in teenstelling toe Freedom House Suid-Afrika onlangs van mediavrye land tot gedeeltelik mediavrye land geherklassifiseer het.
Die feit dat die ANC-kongres so oorweldigend mediadekking geniet het is te verstane teen die agtergrond daarvan dat dié organisasie ook die land se regerende party is, en met basies ‘n twee derde meerderheid regeer.
Dit is egter ook so dat bitter min van die lesers van sommige van die koerante wat so ‘n groot ophef gemaak het, vir die ANC stem. Volgens die ANC self het wit steun van 4 na ses persent toegeneem.
Die rede is voor die hand liggend. Die amptelike beleid van regstellende aksie, ook deur kwotas, is regstreeks teen die manlike wit bevolking gemik, maar in die praktyk ook teen wit vroue, en alte dikwels teen bruin mense ook. Die ANC se effektiewe afwesigheid van die veroordeling van plaasaanvalle, ‘n hoogs emosionele kwessie omdat die vermoorde slagoffers hiervan by verre, volgens Interpol se syfers, die hoogste identifiseerbare groep ter wêreld oplewer, help ook nie om met die bewindhebbende party te identifiseer nie. Pleknaamsveranderings is nog ‘n emosionele kwessie. Liedjies soos: Maak dood die Boere, en die ANC se aandrang op die reg om dit te sing, help ook nie veel nie.
‘n Mens moet erg stiksienig wees om nie te verwag dat daar onder hierdie omstandighede in verskillende vorme versugtinge oor selfregering uitgespreek word nie. Die teenreaksie hierop is dat dit rassisties sou wees, dat dit outyds sou wees, en onprakties sou wees. In die plek daarvan word die deugde van Suid-Afrika se grondwet besing, en word gereeld opgegee dat dit ‘n moderne en goeie grondwet is.
In Staatsregtelike kringe is die entoesiasme hiervoor nie altyd ewe groot nie, en weinig stem saam dat die grondwet so volmaak is.
Trouens, die lande wat heterogeniteit die beste grondwetlik en staatkundig ondervang, is dikwels die mees stabiele lande. Nigerië het eers in ‘n mate staatkundige stabiliteit verkry na die land se federale streke se grense meer in ooreenstemming met die belangrikste bevolkingsgroepe, die Hausa, Yaroba’s en Ibo’s se verspreidingsgebied aangepas is. Indië is ook ‘n etniese federasie, baie soos België. Boonop maak die Indiese grondwet voorsiening vir ‘n aantal gewaarborgde setels vir die inheemse, pre-Indiese bevolking wat verspreid oor die land woon.
Indië is egter nie die enigste voorbeeld nie. In Nieu-Seeland is die aantal gewaarborgde Maori-setels geleidelik van 4 tot die huidige sewe uitgebrei. Hoewel die parlement uit 122 setels bestaan, is 62 hiervan proporsionele setels, en sewe Maori. Selfs al sou die Maori’s nie daarin kon slaag om geografiese setels in te palm nie, kan die sowat halfmiljoen Maori’s wel deeglik ‘n aantal proporsionele setels inpalm. In koalisievorming kan dit die Maori’s in ‘n belangrike bedingingsposisie plaas, en die neiging is dus om eerder die Maori-guns te probeer wen, as om teen hulle te diskrimineer.
Die vermoë om selfregering word egter meer spesifiek uitgedruk. Van 1892 tot 1902 was daar ‘n Maori-parlement, wat in 1962 deur ‘n Maori-raad opgevolg is. Op 13 Julie 1990 is die Maori-kongres in die lewe geroep. Dié kongres sien om na belange soos ekonomiese, maatskaplike, omgewingsake en politieke aangeleenthede. Dit word self gefinansier, onder ander uit uitgekontrakteerde werk, maar word grootliks gerugsteun deur ‘n Departement van Maori-sake.
Dit maak nie dat Nieu-Seeland ‘n primitiewe grondwet het nie. Sri-Lanka, wat ‘n soortgelyke grondwet as Suid-Afrika het, het uiteindelik Tamil-aspirasies met die swaardmag besleg.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.