Die vrou se regsverteenwoordiger het die polisie laat in 2006 gekontak, het Michael Schrunk, prokureur-generaal van die distrik, gesê. Volgens Schrunk het die ongeïdentifiseerde vrou geweier dat speurders haar ondervra of dat daar met ‘n ondersoek voortgegaan word.
Sy het wel in Januarie verlede jaar ‘n verklaring by die polisie afgelê waarin sy beweer dat Gore gepoog het om met haar seks te hê tydens ‘n afspraak in die luukse Hotel Lucia in die middestad. Gore het na bewering as ene Stone by die hotel ingeteken.
Kalee Kreider, woordvoerder van die Gore-gesin, het gesê Gore wil nie kommentaar lewer nie.
Gore en sy vrou het op 1 Junie aangekondig dat hulle paaie gaan skei.
‘n Polisieverslag wat in 2007 voorberei is, lui dat die beweerde voorval omstreeks 14:00 op 24 Oktober 2006 plaasgevind het.
Die saak is in Januarie verlede jaar heropen en speurders het die vrou ondervra en vasgestel dat daar te min bewyse is om haar bewerings te staaf, het die Portland-polisie gesê. In ‘n transkripsie van die ondervraging wat die polisie uitgereik het, het die masseuse beweer sy het op versoek Gore se buikdeel gemasseer toe hy eis dat sy laer af masseer.
“Ek was geskok en het nie aan sy versoek voldoen nie. Hy het bly aandring en kwaad geword en hard begin praat. Ek was nog meer geskok toe ek besef hy eis seksuele gedrag van my.”
Volgens haar het Gore toe haar hand gegryp en dit na sy bekken probeer dwing.
Sy het voorts beweer hy het later gepoog om seks met haar te hê en het haar betas voordat sy uit sy greep losgekom het.
“Ek het nie dadelik die polisie gebel nie, want ek was bang daar word ‘n spektakel van my gemaak en dat my reputasie vernietig sou word. Ek was onseker wat om die polisie te vertel en was bekommerd dat ek nie geglo sou word nie omdat daar geen DNS-bewyse, soos van ‘n verkragting, was nie. Ek het nie eens geweet wat om dit te noem wat met my gebeur het nie.”
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.