Die oorlog teen die Taliban in Afganistan het reeds die Nederlandse regering tot ‘n val laat kom toe een van die koalisievennote voet dwars neergesit het oor voortgesette Navo-deelname, die Britse verkiesing is daardeur geraak, en oud-pres. George Bush se aansien het ‘n knou weg.
Maar die spook van Afganistan wil maar nie gaan lê nie.
In waarskynlik die jongste verwikkeling is die Navo-magte in Afganistan se bevelvoerder, genl. Stanley McCrystal, na Washington ontbied. Dit volg na McCrystal negatiewe opmerkings oor pres. Barack Obama en van sy topmense gemaak in ‘n onderhoud met die tydskrif, Rolling Stone, gemaak het.
In die onderhoud het McCrystal duidelik laat blyk dat hy nie veel van die president dink nie, onder meer omdat die president hom te veel deur militêre leunstoel-adviseurs laat voorsê. Die generaal het onder meer ook na die nasionale veiligheidsadviseur, genl. James Jones as ‘n nar verwys.
Later vandag is die McCrystal op die rooi tapyt.
Navo-magte in Afganistan is na ‘n 100 000 man uitgebrei, hoofsaaklik op advies van McCrystal wat daarop roem dat hy op die toneel is, en dat hy sy ore op die grond het. Min mense verskil daarvan dat sy advies strate beter as dié van leunstoel-adviseurs is, maar die praktyk wys nog dat sake ook maar nie vlot nie.
McCrystal is gefrustreerd oor die remskoen-uitwerking van die leunstoel-adviseurs op die implementering van sy plan. Daar word in die proses selde by tydsraamwerke gehou, wat kritiek belangrik is. Die opbou van ‘n Afgaanse weermag, die hoeksteen van Navo se onttrekkingstrategie, vorder nie na wense nie.
‘n Skynbaar onoorkomelike probleem waarmee beide McCrystal en die leunstoel-adviseurs te make het, is dat die korrupsie in die Afgaanse regering maar net aanhou groei en groei. Dit skep nie net vir Navo ‘n morele dilemma nie, maar dit speel ook in die hande van die Taliban.
Intussen groei die ongevallesyfer onder die Navo-magte, en tekens dat die Taliban onder die knie gekry word, lyk nie baie rooskleurig nie. Die Amerikaanse pers spekuleer ook kliphard oor watter lot hul, soos hulle hom gedoop het, “Runaway General” vandag te beurt gaan val. Almal is dit min of meer eens – McCrystal het nie ‘n slim loopbaanbesluit geneem met die onderhoud nie.
Die waarheid maak te seer – al is dit ook McCrystal se weergawe van die waarheid.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.