Die dertigjarige Amerikaner het “honderd keer” skuld beken op al tien aanklagte teen hom, waaronder die gebruik van wapens van massavernietiging.
“Ek beskou nie wat ek gedoen het as ‘n misdaad nie,” het Shahzad gesê. “Ek wil honderd keer skuldig pleit sodat Amerika sy troepe uit Afganistan en Irak sal onttrek.”
Shahzad is op die John F. Kennedy-lughawe in hegtenis geneem, twee dae ná sy mislukte bomaanval op 1 Mei in New York se vermaaklikheidsgebied. Volgens die aanklagte het hy ‘n ploftoestel in ‘n Nissan Pathfinder geplaas, wat hy toe om 18:30 in Times Square geparkeer het. Sy poging het egter misluk toe straatsmouse rook uit die agterkant van die Nissan sien stroom en die polisie in kennis gestel het.
Shahzad sal nie verhoor word nie omdat hy reeds skuld beken het. Hy sal na verwagting in Oktober gevonnis word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.