Vanoggend, met iemand wat knaend ‘n fufuzela iewers in die omgewing blaas, aanhoudend en irriterend blaas, het ek al twee e-posse gekry waarin ek aangespreek word oor my negatiewe nuuskommentaar van vanoggend.
Ek moet my swaarmoedigheid los, en saam fees vier. Die land verdien dit, en so aan.
My gedagtes gaan terug na my kleintydse ervarings van atletiekbyeenkomste op Coetzenburg in Stellenbosch. Dicky Broberg, Danie Malan, Marcello Fiasconaro en Div Lampbrecht was almal manne wat skares getrek het.
Op die pawiljoen oorkant sit die bruin mense.
“Pa, hoekom bly sit hulle as ons die volkslied sing?” My hars bars amper uit my hempie soos dit van trots swel, en ek kiertsregop op aandag staan soos ons by die kadette en Voortrekkers geleer het.
In alle eerlikheid kan ek nie my pa se woorde onthou nie. Dit was iets soos hulle voel nie deel van Suid-Afrika nie, hulle het nie stemreg nie.
Van toe af het ek min of meer vrede daarmee, ook as dié manne amper uit Nuweland se suidpawiljoen geval het as besoekende spanne soos die All Blacks agter die doellyn gaan kuier. Was dit “Province” wat teen ‘n oorsese span op die veld is, was die lojaliteit meer verdeeld.
Toe kom die nuwe Suid-Afrika en ‘n bekende minister bly ‘n All Black-ondersteuner. Tot onlangs, minstens. Al lewer daai einste land van die silwer varing Maori-spanne op wat nie in Suid-Afrika welkom is nie omdat dit rassaamgestelde spanne is.
Toe kom speel ‘n Taiwanese span hier vlugbal, en die plaaslike toeskouers, bykans almal van Chinese herkoms, juig die besoekers toe. Dis volledig hul span. Niemand sê hulle is dislojaal.
Toe kom die krieketspanne van “die subkontinent” hier aan, en op velde soos dié van Durban, Johannesburg en selfs Pretoria klink dit kompleet of hulle voor ‘n tuiskare speel. Niemand sê hulle is dislojale Suid-Afrikaners nie.
Toe kom die Indiese president die parlement besoek, en die destydse speaker, Frene Ginwala loop byna bo-op die president soos sy as sy lofpryser optree.
Maar niemand sê sy is ‘n dislojale Suid-Afrikaner nie.
Intussen het twee van my familie in afsonderlike plaasaanvalle deurgeloop. Oom Wimmie is met ‘n mes gesteek, en lê die hele nag met doringdraad vasgebind voor hy die volgende oggend loskom, en omdat sy bakkie gesteel is, hy met ‘n trekker moet gaan hulp soek.
Oom Wimmie was daarna nie weer dieselfde nie.
Vandag sit hy in ‘n versorgingsoord na ‘n beroerte en wil met alle geweld terug plaas toe.
Of die buurseun met die hartletsel – wat klein grootgeword het. Toe gaan boer hy, en hy en sy swaer word met masjiengewere afgemaai – asof daai klein deurboorde lyfie enige noemenswaardige weerstand sou kon bied.
Die een sokkerstadion word vernoem na Peter Mokaba, die man wat “Kill the Boer, Kill the farmer” bekend gemaak het. Iets wat eers na ‘n appèl tot haatspraak verklaar is. Toe sit Julius Malema vers twee in met “Skiet die Boere” en die regering skop vas, gaan appelleer teen ‘n bevinding dat dit haatspraak is.
My oudste maak DV vanjaar klaar met sy landboustudies. Heel moontlik is hy oor net meer as ‘n halfjaar ook op ‘n plaas. Op ‘n plaas in ‘n land waar die regering dink ‘n mens is “onopgevoed” om ongelukkig te wees oor “Skiet die Boer” gesing word.
‘n Paar jaar gelede werk ek as vrywilliger by die Krieketwêreldbeker. Ek kom ontnugter daar uit oor alles wat verkeerd gegaan en as “sukses” beskryf is.
Miskien gaan dit nou beter, maar vanoggend voel dit al so half of die wind nog Wes waai.
Vandag, terwyl ‘n *&^%sem iewers hier in die omgewing elke nou en dan op sy fufuzela blaas, voel ek al te veel of ek op daai oorkantste pawiljoen sit. En hoe meer ek aangespreek word oor ek nie die euforie deel nie, hoe meer voel ek soos die mense op die oorkantste pawiljoen wanneer dit Volkslied-tyd is.
Ja, ek doen ook sokkerberiggewing vir ‘n Engelstalige publikasie. Om den brode want ‘n dikbek en sy gesin moet ook eet. Van iewers moet ‘n man die euforie aangeskakel kry. Afrikaanstalige publikasies is maar taai in die bek om iemand wat vroeg in die nuwe SA “oorbodig” geraak het ‘n tweede kans te gee.
“Ons almal hier in die (media-)kantoor) deel in die euforie,” lui die een e-pos waarin ek aangespreek word.
Ek voel lus en antwoord met: “Ja, maar hulle het nog nie die valbyl beleef – om in ‘n pos te sit wat vir ‘n maatjie geoormerk is nie. Weliswaar ‘n blanke, Afrikaansprekende man wat van klerk in die voetuigpoel tot adjunkdirekteur ekonomiese ontwikkeling “bevorder” is en later ANC-parlementsil geword het. En soos mens aan die Vrystaat se ekonomie kan agterkom het hy ‘n reuse sukses daarvan gemaak.
Dieselfde een wat my so aanspreek het al tevore by my gekla oor ‘n klomp ervare manlike (wit) joernaliste wat by verskillende media moes die pad vat.
Maar die mense wat al sedert hul aankoms in die land besteel en beroof is? Sommiges al meer as een keer. Voel hulle nie maar ‘n bietjie soos Volksblad se spotprent vandag nie?: “Steal it, it is here.”
Los my vandag op die oorkantste pawiljoen. Môre voel ek dalk anders, as ek die euforie weer moet aanskakel om oor die Bafana se eerste wedstryd verslag te doen. In Engels.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.