praag.co.za

Lojaliteit en ‘n bisarre Suid-Afrika

Written by

in

Opposisiepartye is oor die algemeen nie konstruktief nie, en by implikasie nie lojaal nie. Dit is ‘n veralgemening dat Suid-Afrikaners nie positief oor die land is nie.

Dit is min of meer die kernagtige samevatting van pres. Jacob Zuma oor wat in die land aan die gebeur is – ‘n president met toenemende kenmerke van iemand wat homself in ‘n ivoortoring toesluit.

Terwyl dit blykbaar ‘n baie ernstige oortreding is om Zuma met oud-pres. Thabo Mbeki te vergelyk, word die ooreenkomste hieroor duideliker. Mbeki sal lank onthou word vir sy oogklap-optrede toe hy gemeen het peilings oor werkloosheid en armoede is oordrewe, want hy sien dit dan nie.

Zuma is ontevrede omdat die ANC nie soveel krediet kry vir prestasies as waarop die ANC aanspraak maak nie.

Die soort aansprake wat die ANC graag maak is die hoeveelheid gedienste persele wat beskikbaar gestel is, die hoeveelheid HOP-huise wat gebou is, en die hoeveelheid mense wat nou welsynstoelaes ontvang.

‘n Mens hoef nie die hulp van ‘n “negatiewe” opposisieparty te hê om te verstaan dat die instroming van miljoene onwettige immigrante – danksy onbeskermde grense en korrupte amptenare – die beskikbare werksgeleenthede dreineer, die dienste uitput en sommer op die koop toe Suid-Afrikaners op ‘n ongekende skaal aan dwelm- en prostitusiesindikate blootstel nie. Derduisende goed-opgeleide Suid-Afrikaners werk oorsee.

Pas het dit bekend geword dat die Vrystaat se haglike paaie eers na die komende sokkertoernooi aandag gaan kry. Intussen het die agterstand in finansies vir padinstandhouding tot ongeveer R75 miljard aangegroei. Klinieke sit gereeld sonder medikasie en hul erwe groei toe onder onkruid.

‘n Minister gaan verkla Skoor by die Speaker, haar broer, oor die parlement wat so ongeskik met haar is om hul grondwetlike oorsigplig oor haar te wil uitoefen.

Die land se komende waterkrisis blyk groter te wees as die kragkrisis, maar die minister sien geen krisis nie. Munisipaliteite is aldus die Ouditeur-generaal byna voor die voet in tamatiestraat, en heelwat hiervan in die rioolstraat.

Die terugtrek van die mees ernstige klagtes teen Julius Malema sal nog lank as ‘n klad teen die ANC staan.

Hierdie is maar enkele aspekte.

Teen hierdie agtergrond is dit pikant om opposisiepartye van dislojaliteit te beskuldig asof hulle onpatrioties is. Het dié toestande argumentsonthalwe in Nederland ontstaan, sou ‘n regerende party se ore veel meer getuit het, en bowendien sou so ‘n party se tassies al lankal gepak gewees het. ‘n Party met genoeg patriotisme, wat byvoorbeeld erns sou maak met die uitroei van korrupsie en onbevoegdheid, sou aan bewind gestel word.

Volgens Zuma jaag opposisiepartye net koerantopskrifte na.

Vandag is een van die treffendste opskrifte, sonder dat dit aan ‘n opposisieparty toegeskryf kan word Tim du Plessis se Brandpunt in Volksblad: “Onthul: ANC se nuwe DNS. Korrupsie en verryking die gom wat hulle deesdae bind.”

Mnr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse leier van die DA, wel buite konteks aangehaal, verklaar in vandag se Volksblad: “Ek dink in ons demokrasie het partye nog nie die nodige politieke volwassenheid bereik nie en kiesers stem nog met hul emosies.” Die standpunt word lankal deur beginselgedrewe partye gehuldig.

Dié standpunt word blykbaar gedeel deur pres. Zuma gedeel in sy oproepe op swart kiesers dat hulle moreel verplig is om vir die ANC te stem.

Peilings en feite soos die emigrasie toon dat Suid-Afrikaners, en nie net die minderheid Afrikaners nie, oor die algemeen nie baie positief oor die land is nie. Die fout hiervoor lê nie voor die minder positiewe mense nie. Dit is gewoonlik juis mense wat trots op hul land is en skaam kry vir die misdaadkoers, die agteruitgang van die padnetwerk, HOP-huise wat gesloop moet word, riool wat in die strate afloop en ‘n onderwysstelsel wat nou as van ‘n laer standaard as dié van verskeie Sub-Sahara-Afrikalande insluitende dié van Zimbabwe beskou word.

Dit is mense wat graag deur arbeid en hul hardverworwe kwalifikasies vir hul gesinne wil sorg, maar wat weens hul velkleur nie geleentheid kry nie.

Dit is nie hulle wat nie hul dag in die hof gekry het nie, en dit is nie hulle wat ritse vroue aanskaf en dan nog boonop buite die huwelik gaan kinders verwek nie.

Dit is ook nie hulle wat vra dat die land se morele kodes opnuut bespreek en geformuleer word sodat ander waardes ook staanplek kan kry nie.

‘n Ware demokrasie is robuus en Zuma moet verlief neem dat ‘n ivoortoring die ideale teiken vir kleilatgooi is.

name slot machine selectorлобановский александр фото

Comments

Leave a Reply