Die heradvertering sal oneindig meer kos as wat dit sou kos om die posbus betyds te betaal.
In dieselfde stad, soos in verskeie ander munisipaliteite, dra staats- en provinsiale departemente se wanbetaling van munisipale rekeninge ruim by tot die munisipaliteite se noustrop-trekkery.
Talle klein sake-ondernemings trek noustrop oor staats- en semi-staatsinstellings wat eenvoudig voete sleep met die betaling van diensverskaffers. Die vreemde is dat van hierdie ondernemings, met hul onbetaalde fakture in die hand, nie by banke oorbruggingsfinansiering kan bekom nie. Dit het ‘n aardskuddende rimpeleffek deur die ekonomie as die staat se skuld nie as sekuriteit vir oorbruggingsfinansiering beskou word nie.
Op die makro-skaal het die wêreldmarkte pas ‘n loesing gekry oor die Griekse ekonomiese krisis. Boonop het Griekeland, vergeleke met ‘n land soos Spanje wat dalk volgende witpens boontoe kan dryf, ‘n piepklein ekonomie.
Herstel was gou, toe ‘n reddingsboei deur sterker ekonomieë aangebied is, maar die belangrike was dat hierdie reddingsboei voorwaardes bevat soos ‘n perk op salarisverhogings en die alte ruim bonusse, en dat belasting verhoog moet word. Die Griekse staatsdienswerkers het nog vir oulaas met gewelddadige betogings aan die illusie van ‘n Utopia probeer klou, wat bloot die hulpverleners se skeptisisme oor die regruk verhoog het.
In Suid-Afrika is die begrotingstekorte by minstens sommige van die departemente van gesondheid – selfs met reuse vakaturelyste – nie goeie nuus vir die ekonomie nie. Die land se vergrote werkloosheidskoers toon immers dat daar ‘n groot behoefte is om elke denkbare pos te vul.
Die tekorte op die paaiebegroting het ‘n regstreekse impak op die land se makro-ekonomie.
Dit is duidelik dat die land hom in ‘n posisie bevind waar hy die sente moet omdraai, en terselfdertyd geld in omloop moet plaas om die ekonomie te stimuleer. Die Reserwebank speel ‘n belangrike rol, maar daar is tog ‘n paar lesse wat uit die Griekse tragedie te leer is:
– Sorg dat produktiwiteit in pas is met jou land se handelsvennote, wat in effek die hele wêreld is. Wanneer produktiwiteit te laag daal, word dit relatief goedkoper om dieselfde vervaardigde produkte van oorsee in te voer as om dit plaaslik te vervaardig.
– Daar is geen plek vir korrupsie en onbekwaamheid nie. Die wêreldbank beskryf korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms. Selfs al is die betrokkenes nie in staat om die skadelikheid van hul optredes te begryp nie, is dit geen rede om die blinde oog daarop te draai nie, en nog minder om die onderliggende etiek hieraan te herdefinieer sodat sekere skadelike praktyke hier te lande aanvaarbaar word nie.
– Ekonomies maak dit sin om die produktiewe werkskeppingsektor ryk te laat word, omdat daardie sektor as enjinkamer vir die ekonomie dien. Die bottel bars egter as die onproduktiewe sektor op dieselfde wyse beloon word, en veral hierdie ruim, gewoonlik staatsbesoldigings – benut om luukshede soos peperduur vuurwaens in toe voer. Suid-Afrika is nou die land met die grootste meetbbare inkomstegaping ter wêreld.
‘n Korrupte en parasiet-gedrewe kultuur sal enige ekonomie laat sukkel, ongeag hoeveel myne so ‘n land het – genasionaliseer of andersins. As Zuma in sy tweede jaar meer vertroue as in sy eerste wil inboesem, sal hy korrupsie en onbekwaamheid, moet aanspreek. Dan is daar geen ruimte vir kaderontplooiing nie. Politiek-wetenskaplikes meen egter so iets sou te veel van pres. Zuma se styl tot dusver afwyk om ‘n ‘n realistiese verwagting te wees.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.