Die Grondwet self maak voorsiening vir (taal, godsdiens, kultuur en ander) Rade vir die bevordering en beskerming van taal-, godsdiens- en kultuurregte (sien a. 185). Artikel 185 word verder toegelig deur Wet 19 van 2002. Artikel 185 en Wet 19 is op alle gemeenskappe van toepassing, en nie net op die Afrikaner nie. Ook maak die Grondwet voorsiening vir die reg op selfbeskikking (a. 235). Artikel 234 open die deur dat taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe – naas individuele menseregte, soos in Hoofstuk 2 van die Grondwet – taal, godsdiens en kultuuraktes kan formuleer.
Die bevordering en beskerming van etniese Afrikanerregte in ‘n instelling met die akroniem die BOER, kan en behoort by die bg. artikels aan te haak. Maar wat belangrik is, is dat die navorsing en “finale verslag” van die Volkstaatsraad, soos beliggaam in die veelvuldige verslae daarvan, nog nooit deur die owerheid in die parlement ter tafel gelê is nie, en dus as onafgehandel te tipeer is. Dit is nie net nie afgehandel nie, maar allermins in werking gestel. Gevolglik lê dit op die weg van BOER om ook die aktiwiteite van die Volkstaatsraad oor te neem en uit te voer.
Die groot vraag is natuurlik hoe so ‘n orgaan van die burgerlike Afrikaner-samelewing saamgestel sal word. Daar is ten minste twee oorhoofse maniere:
– Die liberale Westminsterstelsel
– Die konsosiatiewe model
In die liberale metodiek sal daar diegene wees wat die buiteparlementêre raad deur ‘n een-mens-een-stem metode, ingevolge en aan die hand van ‘n kieserslys van geregistreerde Afrikaners verkies sal wil sien. Dit sou beteken dat persone deur instellinge en/of ander persone genomineer word en dat die geregistreerde kiesers die kandidate sal aanwys. Alhoewel hierdie model ‘n mate van legitimiteit aan die verkose orgaan sal gee, mag daardie legitimiteit gemeet word aan die aantal stemme wat uitgebring was by ‘n verkiesing. Dit kan sy legitimiteit bevraagteken. Hierdie liberale metode hou die volgende verdere nadele in:
– Die uitkoms daarvan sal analoog kan wees tot die parlementêre stelsel dat die sterkste party die regering uitmaak.
– Die numeries-sterkste organisasie van die burgerlike samelewing kan sy kandidate benoem en verkies kry en so die instelling vir homself kaap.
– Die verteenwoordigheidskarakter van die veelvuldige organisasies van ‘n moderne Afrikaner gaan verlore.
– Die liberale metode sal ‘n stryd tussen die organisasies ontketen wat nie vir volkseenheid bevorderlik is nie.
– Indien ‘n radikalistiese meerderheidsgroep die stelsel oorheers en beheer, kan dit tot grootskaalse konflik met die binneparlementêre owerheid lei en aweregse gevolge inhou.
– Die vraagstuk van bekwaamheid en bevoegdheid van kandidate wat in leiershoedanighede moet dien kan daaronder ly.
Dit is duidelik dat bg. liberale model die dood in die pot is vir die bestaan en werking van ‘n burgerlike owerheid wat die regte van etniese Afrikaners moet bevorder. Die Afrikaners is nie ‘n ongedifferensieerde stam nie, maar ‘n moderne gedifferensieerde gemeenskap met diepgaande verskille oor die “pad vorentoe”.
Die tweede model is die van konsosiatiewe demokrasie. Elke deelonemende kultuurorganisasie van die burgerlike samelewing benoem een of twee verteenwoordigers tot ‘n verteenwoordigende leiersraad van afgevaardigdes na die BOER.
– Hierdie model is dus nie een van meerderheidsoorheersing nie, maar van aansluitende samewerking.
– Dit sluit die diktatuur van ‘n heersersgroep uit.
– Dit verdeel mag.
– Dit laat ruimte vir debat en vir verskille.
– Dit open die moontlikheid dat die knapste persoon of persone van ‘n burgerlike instelling na BOER afgevaardig word.
– Dit is ‘n model wat uiting gee aan die gedifferensieerde karakter van die Afrikaner as etniese gemeenskap.
Dit kan egter so wees dat die afgevaardigdes die sienings van hul onderskeie organisasies voorop stel. Hulle mag ook probeer om hul organisasies se doelstellings in die Raad te bevorder en nie die belang van die Afrikanergemeenskap as sulks nie. Latente interne konflikte mag ook lei tot ‘n skeuring in die BOER wanneer besluite geneem moet word waarmee organisasies ongemaklik voel. Hierdie nadeel kan egter tot groter betrokkenheid deur deelnemende organisasies by die Boer se sake tot gevolg hê.
Desnieteenstaande is dit werklik van kardinale belang dat die Afrikaner in sy gedifferensiëerde gestalte nie weer met die slapriem van ‘n liberaal-demokratiese model om die enkels gevang word nie. Doen dit verkeerd en die gevolge sal katastrofies wees.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.