Wanneer die Paastyd gedenk word, staan die kruis baie pertinent.
Of dit toeval is, en of die simboliek bedoel is, die vorm van die kruis bied aan die Christen ‘n waardevolle verwysingsraamwerk – ‘n langer vertikale “been” en ‘n korter horisontale “arm.”
Vanjaar se gebeure rondom die Paastyd het inderdaad ruim preekstof voorsien. Suid-Afrikaners is beproef deur ‘n emosionele tydperk waartydens die bekende mnr. Eugene Terre’Blanche in ‘n plaasmoord vermoor is, die ANC se jeugleier wat in effek aanvanklik aangemoedig is om voort te gaan om ‘n liedjie, “Skiet die Boere,” te sing, en ‘n eskalasie in die reeds hoë getal plaasmoorde.
Staatsmanskap aan regeringskant het waarskynlik die laagste vlakke ooit in Suid-Afrika bereik.
Ondersteuners van die huidige grondwet se voortgesette vesekerings dat dit ‘n goeie grondwet is, is deur die gebeure so vertroebel dat dit doodgewoon na gepoogde Boereverneukery geklink het.
Teen hierdie agtergrond vra die bedienaar van die Woord: “Wat dan van ons verhouding met die Here? Wat van geloofsvertroue?” Die langer, vertikale been van die kruis, dus.
Word hierdie been weggeneem, val die dwarshout – die arm wat mense se onderlinge verhoudinge versinnebeeld, op die grond.
Dit is teen hierdie gebroke intermenslike verhoudings waarteen ons ons blind staar en wat ons na menslike oplossings laat soek.
Gister was daar ‘n lang artikel in ‘n Sondagkoerant oor wat ‘n mens kan lees in die tipe uitlatings wat ‘n mens op die internet kan lees. Op die oppervlak erg geniepsig, dikwels selfs besonder gemeen, onfatsoenlik, totaal gestroop van liefde vir die medemens – hetsy of dit die naaste of die vyand is. Dieper onder die oppervlak versinnebeeld dit ‘n verlies, dikwels moedeloosheid, frustrasie…
Dit handel nie net oor die politiek nie. In hierdie tyd het geleerdes die ontdekking van die Australopithecus sediba in Suid-Afrika aangekondig. Soos ‘n mens teen hierdie tyd kan verwag, was daar op die internet onmiddellik ‘n smeerveldtog waartydens mense “namens” die Here die wetenskaplikes as die vreeslikste bedrieërs uitmaak.
Omdat hierdie mense daarop aanspraak maak dat hulle namens die Christendom optree (al word hulle standpunte nie deur die vernaamste hoofstroomkerke gedeel nie) duur dit gewoonlik ook nie lank nie, of die nie-deïstiese evolusioniste trek in soortgelyke taal op die Christendom los al is die bedoeling om eintlik die selfaangestelde eietydse Inkwisisie by te dam. Die Here is heel duidelik nie betrokke by hierdie woordoorlog wat in, en om Sy naam gevoer word nie.
Omdat die Christen aan sy vrug geken word, is die gebeure op die horisontale arm van die kruis nie irrelevant soos so maklik opgegee word nie. Die mens se Godgeskape arm bevat immers die hand en vingers. Dit simboliseer immers doen – naamlik om die Wil van die Here te doen. Om Sy Lig te dra, om in die donker wêreld te skyn en ook die Lig na die heidennasies te neem.
Met die opstandig van die Kruis het die Here die dood oorwin. Hy het ook ons arms losgemaak om vir Hom te kan werk.
Sonder die been van die kruis, die vertikale verhouding tussen mens en die Here, is die lamp stilstaande, en as die olie op is, gaan die vlam dood. Met ons bene kan ons beweeg, kan ons by die plekke uitkom waar ons teenwoordigheid tussen mense nodig is.
Die simboliek van die kruis kan baie ver getrek word. Ons tong is die skerp instrument waarmee ons baie kwaad, maar ook goed kan doen. Aan die kruis, toe Jesus dors geword het, is hy ‘n spons met asyn gegee, al het sy tong vir ons soveel mooi nagelaat. Hoeveel te meer verdien ons, wat gereeld kwaad praat, gereeld ander oordeel, gereeld die wag voor ons mond die trekpas gee, nie om ons tonge met asyn te ontsmet nie?
Hoeveel te meer verdien ons nie dat spykers deur ons hande wat so verkeerd doen gedryf word, en deur ons voete wat soveel afdwaal gejaag te word nie?
In hierdie Paastyd is dit so nodig dat ons die vertikale verhouding met God herstel en in plek stel, sodat ons die Lig van Bo sal hê om met ons vrygelate hande God se wil te kan doen. Nie net in die Paastyd nie. Die Here bly immers opgestaan – tot in ewigheid.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.