‘n Ongelooflike aantal kontemporêre gebeurtenisse maak dat die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche veel ingrypender is as wat die geval met die meeste ander lede van die publiek sou wees.
* Die moord het op Terre’Blanche se plaas plaasgevind, wat dit deel van die land se ontstellende plaasmoordstatistiek maak, al was dit geen gewone plaasaanval nie. Volgens Interpol is die moordkoers onder Suid-Afrikaanse boere in die orde van 300 per 100 000 per jaar, teenoor Suid-Afrika se gemiddelde moordkoers van net onder die 40 per 100 000 per jaar. Die wêreldgemiddeld is 5 per 100 000 per jaar, en dié vir Wes-Europa ongeveer een per 100 000 per jaar. Daar was die afgelope drie maande ‘n merkbare toename in plaasmoorde.
* Dit kom te midde van ‘n ongelooflike losmaak van emosie oor die ANC-Jeugleier se volharding met die sing van ‘n liedjie waarin gevra word die Boere moet geskiet word, verder aangeblaas deur die ANC steun vir die sing van die liedjie, en kennis dat appèl aangeteken word teen hofbeslissings wat impliseer die liedjie kom op haatspraak neer, en dat dit juis kan lei tot ‘n toename in plaasmoorde. Daar was juis ‘n hele aantal sulke moorde sedert Julius Malema met die sing van die liedjie begin het, verskeie waarvan die uitsluitlike motief skynbaar moord was.
* Polarisasie, en spesifiek rassepolarisasie, is volgens opnames op die hoogste vlakke sedert apartheid afgeskaf is. Baie meen die vlakke is nou hoër as tydens apartheid.
* Dit kom te midde van onverklaarbare presidensiële leiding waar ‘n dawerende swye gevoer word oor sake wat gebiedend ter wille van versoening aangespreek moet word. Op ministersvlak is ‘n bontpratery van die eerste water oor sake soos nasionalisering, en meer spesifiek, die nasionalisering van landbougrond. Malema was juis nou op ’n solidariteitsbesoek aan Robert Mugabe, die ergste eietydse grondrampokker, terwyl die regering ook aangedui het dat dit teen ‘n hofbevel gaan appelleer wat dit vir Suid-Afrikaners wie se grond in Zimbabwe geroof is, moontlik maak om op nie-diplomatieke eiendom van Zimbabwe in Suid-Afrika beslag te lê. Die regering se voorneme om te appelleer het ook eers gekom na met die beslagleggingsproses begin is wat die indruk skep dat die regering onder druk van Mugabe geswig het.
* In ‘n sekere sin is die moord op Terre’Blanche die kersie op die koek van ‘n rits uiters negatiewe berigte oor Suid-Afrika wat in buitelandse koerante begin verskyn het. Hieronder tel berigte oor plaasmoorde, die rekordaantal burgers wat verlede jaar deur die Suid-Afrikaanse polisiediens doodgeskiet is (meer as 500), munisipale dienslewering wat in duie stort en veral rioolprobleme wat gesondheidsgevare skep. Onder die mense wat vanjaar reeds in plaasmoorde gesterf het tel ‘n Belgiese en ook ‘n Kanadese burger. Dat die ANC-regering elektrisiteitspryse skerp laat styg het, en die organisasies sowat ‘n R1 miljard wins gaan maak uit ‘n transaksie met Eskom, gaan ook nie deur die buitelandse pers misgekyk word nie.
* Morele waardes en vlakke van etiek in die land is so in die grond getrap dat selfs die ANC daaroor bekommerd is, maar dit wil bespreek om ‘n nuwe waardestelsel te skep waarbinne baie van die huidige vergrype skynbaar nie meer as verkeerd beskou sal word nie. Baie kenners bring hierdie gebrek aan morele waardes met die land se misdaadkoers, en meer spesifiek die geweldsmisdaadkoers in verband.
* Die land staan op die vooraand van die aanbied van die volgende Wêreldsokker-eindtoernooi. Die oë van die wêreld gaan binnekort soos nog nooit tevore nie op Suid-Afrika gerig wees, en dit is reeds duidelik dat die vergrootglase op die land gerig gaan wees.
Die lysie kan baie langer gemaak word, soos om na die Silemane-kwessie, ministers se tenderpreneurskap, opgeskorte vervolgings, die wurms wat steeds uit die wapentransaksie kruip, en vele meer te verwys. Minder as 24 uur na die moord, oor die Paaslangnaweek wanneer baie nuusmedia en meningsvormers nie beskikbaar is nie, het die moord, met die spesifieke woorde “murder of Eugene” reeds meer as 100 000 trefslae op Google opgelewer. Dié sinsdeel is gebruik weens die verskillende vorme waarmee Terre’Blanche se van gespel word. Terwyl sommige van die opgelewerde trefslae na moorde op ander Eugene’s verwys, kan nog baie ander trefslae met ander woordkombinasies en in ander tale verkry word. Dit is nie vergesog om af te lei daar sal waarskynlik reeds ‘n miljoen berigte op die internet wees wat in die een of ander taal na die moord verwys nie.
Die punt is egter dat die fokus eensklaps oneindig skerper op Suid-Afrika val. Suid-Afrikaners kan hulle maar vetsmeer dat joernaliste wat na invalshoeke vir stories soek, nou weer, soos onlangs die geval was, weer mediaverwysings na pres. Zuma se Suid-Afrika as ‘n terugkeer na die donker eeue sal verwys, en dat Zuma se poligamie en buite-egtelike kroos opnuut onder die vergrootglas gaan val.
Gister en eergister is mense wat teen dié ontvouing gewaarsku het as alarmiste, reaksionêre, blikkieskosopgaarders en vele meer uitgeskel.
Met een moord is die reëlboek herskryf. Dit gaan ‘n rukkie neem om die nuwe grense tussen realiste en naïewelinge te trek. Oorreaksie gaan aan die orde van die dag wees.
Die land vereis nou staatsmanskap van die eerste orde. Nie net van pres. Zuma nie, maar van leiers oor die hele spektrum. En liedjies soos dit wat Malema so graag aanhef hoort in die vullisdrom. G’n ‘n ge-maar hieroor nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.