‘n Halfeeu gelede sien ‘n geamuseerde Afrikaanse ma deur die venster van hul Amerikaanse huurhuis hoe haar jongste knaap met net ‘n kortbroek aan, die straat afstorm met ‘n horde Amerikaanse speelmaats agterna. Anders as die vierjarige Suid-Afrikanertjie is die klein Yanks in langbroeke, hemde en sneakers geklee.
“Olog! Olog!” gil die knapie sy strydkreet aan. “Olog, olog!!” volg die Amerikaners.
As ‘n man nou nie Engels ken nie, leer jy eenvoudig die Yankees Afrikaans.
Net so min as wat die spannetjie Yankees verstaan het wat die kreet beteken wat hulle aanhef, net so min het die Malema-aanhangers ‘n begrip van die impak wat dit op mense het as op mekaar geskiet word.
Oorlog is altyd lelik.
Die oudste lid van die ANC se jeugliga was immers in die orde van tien jaar oud toe die destydse regering die Rubicon oorgesteek het.
Werkloos en verveeld voel hierdie groep verneuk omdat hulle die opwinding, soos wat onkundiges dit mag ervaar, van ‘n gewapende stryd ontneem is.
Soos die klein Yanks se lus vir “olog”-maak sou verdamp namate hul Viëtnambeurt nader kom, so sou hierdie grootmonde wat afbrekende lawaai en haatspraak opdis ook versigtiger met woorde omgaan sou hulle besef dat slagoffers soms terugskiet en dat doodskiet nie altyd ‘n eensydige affêre is nie.
Die rits plaasmoorde sedert die ANC se hofnar en kroonprins, Julius Malema, met sy singery dat boere geskiet moet word begin het, dui daarop dat dit nie geduld durf word nie. Die ANC se swye en selfs goedpraat hiervan is laakbaar.
Dit is goed en wel dat daar regsprosesse is wat eventueel sake kan stuit, maar baie onskuldige mense kan intussen sterf.
Daarom is die voorgenome interdik teen Malema, sou hy nie om verskoning vra en sy aanstigting staak nie, ‘n baie goeie idee.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.