Maar om die Bybel net figuurlik te lees skep probleme vir Christene, selfs al haal dit die angel uit bostaande argument. As die Bybel figuurlik gelees word, wat kan ons dan skryf oor Christus as ‘n historiese figuur? Het Hy bestaan? Was sy wonderwerke net figuurlike gebeure wat nie histories waar is nie? Indien so, wat sê dit oor Christus as deel van ‘n Drie-Enige God? Predikante en Filosowe het al baie eeue lank oor die kwessies geworstel, en die laaste woord is nog nie hieroor geskryf nie.
Mens moet ook in die opsig oplet dat fundamentele Christene wel ‘n letterlike interpretasie van die Bybel verkies, wat hulle die hoon van ateïsme en selfs ander Christene op die hals haal. Christene in hoofstroom sektes verkies soms ‘n figuurlike interpretasie van die Bybel, en worstel daarna oor die Goddelikheid van Christus en ander belangrike vrae tot so ‘n mate dat selfs basiese eksplisiete uitsprake in die Bybel ondermyn word (vandag word daar oor homoseksualiteit en die huwelik geargumenteer).
‘n Belangrike argument (wat self ateïste soms toegee) is dat die Bybel en die Christelike geloof ‘n fondasie bied waarop moraliteit gevestig kan word. Die aanvaarding dat ‘n toornige en alleswetende Opperwese mense wat afdwaal sal straf, dissiplineer mense oor die algemeen, en skep sosiale kapitaal in die vorm van eerlike en opregte mense wat beskawing beter laat werk tot almal se voordeel. Daar word egter ook skerp aantygings gemaak dat alle godsdiens gevaarlik is, oorloë veroorsaak, en mense indiwidueel onderdruk. (Dit idee dat godsdiens dalk beter soldate lewer eerder as om oorloë te veroorsaak, word skynbaar nie ondersoek nie).
Sommige ateïste wil wetenskap gebruik om die Opperwese in Westerse kultuur te verplaas – dit kan kwansuis gebruik word om mense die voordele van religie te gee (gesondheid en ‘n gevoel van ontsag en vrees vir die grootheid van die skepping en die kortstondigheid van indiwiduele bestaan) sonder om die logiese fondamente van Westerse kultuur te ondermyn. Mens kan veronderstel dat ‘n gemeente die Son, die Melkweg, Lewe op Aarde en dies meer, met eerbied en ontsag kan bejeën, min of meer soos sommige gelowe wat planete as Gode bejeen het, dit eeue gelede gedoen het. Daar is derhalwe niks juis oorspronklik in die idee nie, behalwe dat die bestaan van ‘n spirituele wêreld onafhanklik van die fisiese heelal ontken word.
Daar is natuurlik baie meer probleme met bostaande voorstel – Omdat wetenskap net ‘n paradigma wat gebaseer op die beginsels soos Okkam se Lem is, is dit nie volmaak nie, en het dit tekortkominge: dit kan byvoorbeeld nooit gebruik word om Geluk, of indiwiduele bestaan, of selfs die fisiese wêreld volmaak te beskryf nie.
Verder is daar baie logiese stellings wat nie wetenskaplik is nie. Besin byvoorbeeld oor die stelling “Daar is nie ‘n God nie”. Daar is geen manier om die stelling wetenskaplik te toets nie. Dit is konsekwent met fisiese wette, kan dalk korrek wees, is soms emosioneel aanvaarbaar, en daar is baie slim mense wat glo dat dit waar is.
Die negatief van die stelling, naamlik “Daar is ‘n God”, is om dieselfde redes aanvaarbaar. Met ander woorde, daar geen toets, logies of eksperimenteel, wat gedoen kan word om absoluut te bewys, dat die stelling, of sy negatief, waar is of nie. Derhalwe is ons beskrywing van beide die fisiese en geestelike wêreld onvolmaak, en kan ons dit nooit vervolmaak nie. (Selfs fisiese wette, waaroor ons baie seker is, is nie volmaak nie, maar is bloot wiskundige beskrywings van die heelal).
Maar wat kan ons oor wetenskaplikes soos Dawkins skryf? Hier is die ironie: Dawkins is ‘n bioloog en ‘n erkende spesialis wat evolusie-teorie betref. Daar is geen kwessie dat Darwin se evolusie nie net ‘n teorie is nie, maar wel ‘n proses is wat duidelik, wetenskaplik bewysbaar, onderliggend is aan die ontwikkeling en geskiedenis van lewe op aarde. Die meganisme werk op ‘n prinsiep van survival of the fittest. Dit kan beskryf word as ‘n proses wat “goeie gene” selekteer as die gene sy draer ‘n beter kans op oorlewing en voortplanting gee. Dit erken ook die bestaan van meme, hierdie is idees en kultuur wat in die brein gedra word, en voortplant in geslagte. Taal, resepte, musiek en natuurlik godsdiens, sovel as ateïsme, is sulke meme, en Dawkins besef waarskynlik goed dat ‘n meem geselekteer kan word as dit ‘n voordeel aan sy draers in ‘n gemeenskap gee.
Dus, as die meem “Christendom” sy draers beter laat oorleef en voortplant (beter laat veg in oorloë, beter laat saamwerk in nood, beter kinders grootmaak en sosiale kapitaal laat oordra van geslag tot geslag), sal dit geselekteer word, en alle getuienis is skynbaar dat die meem “ateïsme” nie ‘n voordeel aan sy draers gee nie (daar is geen suksesvolle ateïstiese gemeenskap wat honderde of duisende jare oorleef het nie).
Die grappie is dus op Dawkins, en ek dink hy moet dit besef – hy maak seker goed geld met sy boek, maar as sy idees ‘n meem is wat nie ‘n voordeel as sy volgelinge gee nie, is dit bestem om op die ashoop van geskiedenis te beland, dit terwyl Christendom steeds sal oorleef in een of ander vorm.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.