Hy besit sy woning en sy motor en hy het sy township verlaat om homself in ‘n hoofsaaklik wit woongebied in Kaapstad te vestig. Xala, 29 jaar oud en ‘n vrygesel, het voorheen in Gugulethu gewoon en sy familielede woon steeds daar. Hy het sy studies in bemarking en bestuur met die hulp van ‘n beurs voltooi en verdien vandag ‘n uitstekende salaris wat hom in staat stel om, soos hy dit stel, "baie pret en afleiding" te kan bekostig.
Xala was onlangs in die nuus omdat hy die Saru-tydskrif Fifteen se besluit om ‘n Bok van Blerk-advertensie in dié publikasie te verbied, ondersteun het. Kevin Ferguson en James Dunn, werksaam by Highbury Safika Media, het laat weet dat Xala nie van Bok se liedjie hou nie.
Xala het voorts gesê dat hy skuldig voel dat die stryd teen die wit minderheid nie tot voordeel van alle swartes strek nie. "Ons voel aanspreeklik. Dit is nie ons skuld dat almal nie beter daaraan toe is nie, maar ons weet dat daar ‘n tyd was toe ons (swartes) almal deelgeneem het aan die stryd."
Volgens ‘n verslag wat Unilever aan die Universiteit van Kaapstad bekendgestel het, het die aantal "swart diamante" met 30% toegeneem in 2006 en is daar 2,6 miljoen swartes wat aan die beskrywing voldoen. Hulle beskik tans oor 28% van die land se koopkrag. Meer as die helfte woon in wit woonbuurte en 12 000 gesinne, ongeveer 50 000 mense, verlaat die swart woongebiede maandeliks danksy swart bemagtiging.
John Simpson wat die studie gelei het, meen dat die groei in die ekonomie die sterkste faktor is. "Dit bewys dat hulle (swartes) baie in maatskappye opgang maak. Dit is nie net maatskappye wat meer mense aanstel nie. Dit is nie kunsmatig nie, dit is werklik," het hy gesê. Simpson het bygevoeg dat ‘n groot aantal "swart diamante" in bestuursposte aangestel word.
Xala is egter bekommerd dat die vinnige rykdom groot aanpassings gaan verg omdat die sin vir gemeenskap daardeur benadeel word. Hy meen dat die lewe op straat en die heerlike atmosfeer wat daar in swart woongebiede heers, nie in wit woongebiede aangetref word nie. Hy gaan graag Sondae terug Gugulethu toe om op straat te kuier. Xala het nie na misdaad verwys nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.