Die Metodistekerk van Suid-Afrika het biskop Paul Verryn geskors. Dié omstrede biskop ontferm hom oor die Zimbabwiese vlugtelinge wat in die Sentrale Metodistekerk in Johannesburg skuil.
Die situasie by sy kerk is haglik en die Gautengse regering is bekommerd oor die swak omstandighede waarin die vlugtelinge woon.
Biskop Ivan Abrahams, leier van die Metodistekerk, sê Verryn het sonder die kerk se steun opgetree om voogskap oor swart kinders te probeer beding. Volgens kerkreëls het hy buite sy magte opgetree.
Dit kom nadat Verryn ’n aansoek gebring het dat daar ’n wettige voog aangestel word oor 56 kinders wat in sy kerk skuil. Dr. Ann Skelton, ’n kinderregtekenner van Pretoria, is toe as wettige voog aangestel.
Bongani Khoza, die Metodistekerk se prokureur, het bevestig Verryn is geskors en dat die saak intern in die Sentrale Metodistekerk ondersoek gaan word, maar het nie redes vir die besluit gegee nie.
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke asook die DA het Verryn ondersteun en hom onder meer vir sy “menslikheid” geloof.
Luidens berigte in die Star-koerant is die kerk se aktiwiteite ook deur die Nasionale Intelligensieagentskap ondersoek asook die Nasionale Vervolgingsgesag.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.