{jathumbnail off}
Die persepsie bestaan dikwels dat padslagtings iets is wat tot die Kers- en Paastydperke beperk is. Sedert die begin van Desember vanjaar is byvoorbeeld reeds meer as 900 mense op die land se paaie dood. Dit lyk asof die sterftesyfer hoër as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar sal wees.
Die perspektief verander egter wanneer die nasionale departement van Vervoer daarop wys dat daar vanjaar reeds meer as 14 000 mense op die land se paaie dood is. Dit is aansienlik meer as gemiddeld ‘n duisend per maand.
Die kommer vergroot as die departement sê 90 % van die sterftes voorkom kon gewees het, en dat faktore soos inhaal teen blinde hoogtes, spoed en dronkbestuur belangrike voorkombare faktore is.
Dit is ook kommerwekkend dat lande met hoër bevolkingsdigthede as Suid-Afrika tot verhouding veel minder ongelukke oplewer. Beter padtoestande en minder onpadwaardige voertuie speel stellig ‘n rol wanneer Suid-Afrika met lande soos België vergelyk word, maar dat ‘n groot deel van die verskil verder aan hoë spoed, gevaarlike bestuurspraktyke en dronkenskap toegeskryf moet word, is ongelukkig ook so. Die meer as 3 000 mense wat sedert begin Desember vir dronkbestuur aangekeer, en meer as 280 000 wat vir spoed gevang is, onderstreep die stelling.
Die Departement van Vervoer wys nou ook tereg daarop dat motoriste moet kennis neem dat die probleem oor die hele jaar strek. Die talle mense wat met vakansie gaan laat noodwendig die gedagte ontstaan dat padsterftes ‘n seisoenale karakter het. Dit word verskerp deur verskerpte bewusmakingsveldtogte soos die Kom Veilig Daar-veldtog, en veldtogte van die bloeddiens om genoeg bloed te bekom. Die bloeddiens se probleem is egter meer een van gereelde skenkers wat weg is met vakansie as ‘n verhoogde aanvraag. Voor elektroniese nuus so vrylik beskikbaar was soos vandag, was gereelde verkeers- en bloedtekort-verslae belangrike krukke om joernaliste aan diens deur die komkommertyd te help.
Suid-Afrikaners is oor die algemeen familievas, maar families bly dikwels ver van mekaar. Wanneer daar ‘n wegbreekkans is, moet dikwels lang afstande afgelê word. Met padwerke, kruiende motoriste wat duidelik nie wettige rybewyse het nie en padvrag wat eintlik op die spoor hoort wat vreet aan kosbare tyd, is ongeduld ‘n immer teenwoordige ongewenste reisgenoot.
Die besluit om te jaag, om gevaarlik verby te steek of besope te bestuur is egter in die finale instansie die keuse van die persoon wat agter die stuurwiel inskuif. As hy dan nie vir sy eie lewe omgee nie, ag minstens die lewe van ander, of die wesies wie se ouers onskuldig in padongelukke sterf.
Die SAPD se misdaadstatistieke toon verder dat daar in sommige provinsies, soos die Vrystaat, Mpumalanga en veral Limpopo ruim ruimte vir verskerpte wetstoepassing vir dronkbestuur is. Dat die land se gemiddelde aankeersyfer vir dronkbestuur 115 per 100 000 per jaar is, maar dié vir Limpopo 31,5 skree luid dat iets nie pluis is nie. Die Vrystaat, ‘n deurryprovinsie, se syfer van 57, klop ook nie met die deurryrers se provinsies van bestemming of herkoms nie – 124,6 in Gauteng, 135,7 in die Oos-Kaap en 242 in die Wes-Kaap. Die provinsies met die lae aankeersyfers se moordsyfers uitgedruk per 100 000 is “toevallig” ook hoër as hul padsterftesyfers – en in baie moordgevalle speel drank juis ‘n rol.
Die ideaal is dat mense se opvoeding en hul respek vir ander lewens groter verantwoordelikheid tot gevolg sal hê, en dat opvoedkundige veldtogte belangrik is.
Tot so iets die gewenste effek het, lyk dit ongelukkig of verskerpte wetstoepassing die enigste opsie is – dwarsdeur die jaar.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.