“Hulle pla nou die goeie mense wat wet en orde probeer handhaaf,” het Meiring voortgegaan. “Dis ’n tipiese Zimbabwe-reaksie wat toon dat ons land insgelyks gedestabiliseer gaan word.”
“Is die SA grense nou oop vir almal?” wou Meiring weet. Ook mnr. Dries Joubert, voorsitter van die distrikslandbou-unie van TLU-SA in die Noord-Transvaal het “met kommer” kennis geneem van die polisiehoof se standpunt dat Zimbabweburgers nou maar vrylik oor die grens mag kom.
In ’n verklaring wat intussen n.a.v. die burgerlike arrestasies van Zimbabwiese insypelaars deur die SAPD in Limpopo uitgereik is, word sulke arrestasies as “onwettig” bestempel en die boere as “vigilantes” afgemaak. Dieselfde woord is op Sky News gebruik om die boere se aksies te tipeer, hoewel die TV-snit nie in die geheel as negatief teenoor die boere getipeer kan word nie.
In reaksie hierop het mnr. Gideon Meiring vanmôre telefonies verklaar: “Ek hoop dis by gebrek aan ’n beter woord. ’n Vigilante neem die reg in eie hande, hy vang, verhoor, veroordeel en straf mense op die plek soos in sommige gemeenskappe in Suid-Afrika gereeld gebeur. Ons, daarenteen, is wetsgehoorsame burgers. Ons vang hulle (die onwettige Zimbabwiërs) en oorhandig hulle aan die polisie.”
In ’n verdere onderhoud wat gister op Sky News uitgesaai is, is die broer van Thabo Mbeki, Moeletsi Mbeki, vir sy mening rondom die Limpopokrisis uitgevra. Volgens hom is “die situasie tiperend van ’n regering wat totaal en al beheer verloor het en wat die boere nou doen, is korrek. Hulle het geen ander uitweg as om hul eiendom te probeer beskerm nie.”
Teenoor diegene wat meen dat daar binnekort verandering in Zimbabwe gaan kom, het Moeletsi Mbeki gesê dat “dit duidelik is dat hulle nie die Afrikakonteks goed verstaan nie. Mugabe is in beheer van die veiligheidsmagte. Solank as wat hy hulle beheer, sal hy aan bewind bly.”
Dat daar nou konfrontasie aan die oplaai is tussen Afrikanerboere in die Limpopoprovinsie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat blykbaar onwettige immigrasie vanuit Zimbabwe toenemend goedkeur, is gewis. Op ’n mediakonferensie gister het die polisiekommissaris van Limpopo, Calvin Sengani, verklaar dat boere geensins onwettige immigrante mag arresteer nie – totdat hulle misdade soos verkragting, plaasaanvalle of roof gepleeg het.
Boere soos Gideon Meiring en sy span wat dit wel doen, is met inhegtenisneming gedreig. Sengani het ook vorige uitsprake van sy eie polisielede weerspreek deur te beweer daar geen toename in onwettige immigrante vanuit Zimbabwe is nie. Dít, terwyl die polisie onlangs verklaar het dat tot 15 000 onwettiges binne ’n periode van twee weke in die Limpopoprovinsie gearresteer is.
Sengani het voorts gesê: “Hier is geen krisis in Limpopo of aan die land se noordelike grens met Zimbabwe, soos wat die afgelope tyd in die media berig is nie.
“Wanneer daar ’n toename in plaasaanvalle en rooftogte is, dan is daar ’n krisis, maar nie nou nie.”
Weereens in direkte teenspraak met sy vorige verklaring dat enigeen die grens mag oorsteek, het Sengani tydens die perskonferensie gesê dat dit die polisie se werk is om onwettige immigrante aan te keer en nie die boere s’n nie.
“Ons sal optree teen diegene wat onwettiges in hegtenis neem sonder dat hulle ’n misdaad gepleeg het, want diegene wat dit doen, maak hulself aan ’n misdaad skuldig. Indien ’n onwettige immigrant kla omdat sy hande en voete vasgebind is wanneer hy deur boere aangekeer word, kan hulle ’n klag van aanranding by die polisie indien.” Aldus Sengani.
Maar volgens Gideon Meiring en sy plaaswag gaan hulle “nie ophou om patrollies te ry, die onwettiges aan te keer en ons eiendom te beskerm nie. Die minister (Charles Nqakula) het mos gesê ons moet self iets doen om misdaad te bekamp, so nou doen ons dit.”
Daar heers ongekende buitelandse mediabelangstelling in die Limpopokrisis en al die groot nuusagentskappe, asook die BBC, is in die omgewing ontplooi om te berig oor hoe die Zimbabweramp besig is om na Suid-Afrika oor te spoel.
Intussen het die SAUK-TV, wat die onderhoud met Gidoen Meiring en kommissaris Sengani “weens tegniese redes” nie kon uitsaai nie, berig dat die Metodistekerk in die middestad van Johannesburg onderdak aan onwettige immigrante uit Zimbabwe verskaf. Dit verteenwoordig ’n oortreding van artikel 42 van wet 13 van 2002 wat “enige hulp, ondersteuning of huisvesting van onwettige immigrante” verbied.
Volgens Paul Verryn, die Metodistebiskop van Johannesburg, verskaf sy kerk tans slaapplek aan duisende onwettige Zimbabwiërs, sowel in Johannesburg as in Marabastad in Pretoria, met openlike minagting van Suid-Afrika se immigrasiewette.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.