Met die onlangse heengaan van Chris Louw het dit my – en ongetwyfeld baie ander – se aandag weer hervestig op daardie somber, introspektiewe eienskap van die Afrikaner, naamlik om ‘n mens se eie lewe te neem.
Vir vele jare was Afrikaners ‘n groep mense met ‘n hoë selfmoordsyfer. Wanhoop en uitsigloosheid was dikwels gemeld as vernaamste redes om oor te gaan tot hierdie ekstreme daad. As gevolg van die algemeenheid van hierdie verskynsel, en die feit dat die selfmoordsyfer onder swart Suid-Afrikaners verdrievoudig het sedert die Nuwe Suid-Afrika, kan ons konkludeer dat hierdie verskynsel nie soseer ‘n persoonlike of psigiese oorsaak het nie, maar ‘n sosiale oorsaak.
Sekerlik die mees toonaangewende denker op hierdie gebied is die Franse sosioloog Emile Durkheim (1858 – 1917) wat ‘n uitgebreide studie oor selfmoord gedoen het net so voor die begin van velede eeu.
Durkheim het die voorkoms van selfmoord geneem oor vier verskillende geloofsgoeperings, te wete Jode Katolieke, Protestante en ateïste, en sy bevindings het uitgewys dat die aantal selfmoorde respektiewelik toegeneem het onder hierdie groepe, met Jode die laagste en ateïste die hoogste. Interessant genoeg het Jode die hoogste persentasie geestessiektes gehad vanwee jarelange, sluimerende Jodehaat, maar desondanks was hul selfmoordsyfer die laagste.
Om hierdie verskynsel te verklaar het Durkheim gekyk na die mate van samehang in hierdie groepe en het inderdaad gevind dat die mate van sosiale steun die belangrikste bepalende faktor was. Jode se steun vir mekaar en ateiste se min steun vir mekaar was die belangrikste bepaler van selfmoord.
Durkheim het sy studie uitgebrei na die struktuur van die samelewings en nog verdere interessante gegewens ontdek. Ons kan die voorkoms van selfmoord op twee verskillende asse plaas, te wete integrasie en regulasie.
Die mate waartoe iemand geïntegreerd is in ‘n samelewing kan bepalend wees vir selfmoord. Waar persone te min geïntegreerd is, is hul kans op selfmoord hoog. Dink byvoorbeeld aan die eensames en buitestaanders. Hierdie tipe selfmoord het Durkheim ‘egoïstiese selfmoord’ genoem. Waar integrasie te hoog is, neem die kans op selfmoord eweneens toe, hoewel in hierdie geval speel idealisme ‘n rol hierby, soos die Japanese Kamikaze vlieëniers of Al-Kaida selfmoordmartelaars; ‘n verskynsel van Durkheim ‘altruïstiese selfmoord’ genoem het.
In die geval van regulasie sien ons dieselfde verskynsel na vore tree. Waar die mate van regulasie in ‘n samelewing te swak is, is die selfmoordsyfer hoog. De swak regulasie, dienslewering en derglike kenmerke van die nuwe Suid-Afrika wat wys op ‘n verval in maatskaplike regulasie, veroorsaak ‘n verhoging in die selfmoordsyfer, wat Durkheim ‘anomiese selfmoord’ genoem het (‘anomie’ beteken wetteloosheid). Waar regulasie egter te streng toegepas word, neem die aantal selfmoorde weereens toe.
Goeie voorbeelde hier is kommunistiese lande, veral onder Stalin en Mao se heerskappye het mense ervaar dat hul eie lewens geen waarde meer het nie, en dat alles wat hulle doen in diens is van die hoër ideaal, vreemd aan hul direkte belewenisse; ‘n verskynsel wat Durkheim ‘fatalistiese selfmoord’ genoem het.
As ons die psige van die volk wil red is dit ‘n goeie idee om hierdie bogenoemde paradigma wat Durkheim aan ons gebring het te begryp en te gebruik as moontlike riglyn. Net soos die Jode wat al 2000 jaar van aanvalle jeens hul groep moes afweer en oorlewingstegnieke versin, is dit tyd dat Afrikaners aan dieslefde tegnieke moet begin dink, hoewel hierdie tegnieke al eerder in die verlede toegepas was in die vorm van kerke, onderwys en taal. Ek dink dit is eerder ‘n kwessie van nuwe lewe inblaas en pogings daarstel om die rykdom van skrywers en denkers van weleer te herrys vir die jonger geslag.
Ek dink ‘n goeie begin sou wees om die woorde van Vader Kestell uit te roep, naamlik: “‘n Volk red homself”.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.