Die man wat minstens ’n deel van seker die bekendste Afrikaanse volksliedjie My Sarie Marais geskryf het, is op 18 November 150 jaar gelede gebore. Jacobus Petrus (Jepete) Toerien se 150ste verjaarsdag word toevallig gevier in dieselfde jaar wat die ander bekende Afrikaanse digter, Barend J. Toerien gesterf het.
Jepete is op 18 November 1859 in die Paarl gebore, en word op jong ouderdom subredakteur van De Patriot, maar lewer ook bydraes vir Ons Klyntjie, wat albei in die Paarl uitgegee is.
Hy was baie aktief betrokke by die eerste taalbeweging, en hoewel hy hoofsaaklik in Afrikaans gedig het, het ook Nederlandse en Engelse gedigte uit sy pen gevloei.
In 1884, ’n jaar nadat hy na die destydse Transvaal verhuis het, tree hy met Susara Margaretha Maré in die huwelik wat as inspirasie vir die titel van die lied My Sarie Marais gedien het.
Sarie was die dogter van die Volksraadslid Jacob Maré wat aan die Mooirivier by Potchefstroom geboer het. Vandag heet ’n straat in Pretoria nog na hom.
In 1890 stig Toerien in Middelburg die koerant De Republikein wat sterk pro-republiek was.
Hy het aan die Anglo-Boere-oorlog deelgeneem, maar sy geldelike posisie het in die proses kwaai agteruitgegaan, veral nadat sy drukpers afgebrand het. Hy is in 1920 aan malaria oorlede.
Sy pro-Afrikaanse gesindheid blyk uit die volgende verwysing van hom na Het Dagblad, ’n koerant wat ’n pro-Engelse beleid voorgestaan het:
Afrikaner syn blad met jingoe syn gees,
Kyk maat, dis fieslik, dis naar om te lees…
Sy oeuvre is egter gewoonlik veel dieper as ’n ligsinnige gespot, soos die snede uit ’n Nederlandse gedig oor die Anglo-Boere-oorlog getuig:
Gy hebt gesien de stromen bloeds, de lyken op den grond,
De pas gedolven graven,
En als gy weer komt, brengt Hem den vrede
’n voorspoed mee
Waar naar ons hart, ons siel verlangt
W’ zyn moede van dien stryd.
NÁ Jepete se dood het Sarie haar in Bloemfontein kom vestig.
In 1937, twee jaar voor Sarie se dood, word sy deur ’n ongenoemde verslaggewer van Volksblad besoek.
Sy erken teenoor hom dat sy inderdaad die Sarie van die liedjie is – iets wat destyds taamlik wyd betwis is.
Sy stem tot ’n berig in, op voorwaarde dat die berig voor publikasie aan haar voorgelê word. Twee dae later, toe die verslaggewer haar vir die goedkeuring besoek, het sy egter van plan verander.
Kort voor haar dood laat Sarie ’n trommel verbrand, wat heelwat van Jepete se skryfwerk bevat het, en volgens aanduidings ook die oorspronklike Sarie Marais. Volgens navorsing van ’n broerskind van Jepete, ook JP Toerien, was Sarie nie gediend daarmee dat ’n lied wat aan haar opgedra is “goedkoop” oral gesing word nie.
Sarie se graf in Bloemfontein was tot enkele jare gelede ongemerk, maar is deur ’n projek van veral me. Joan Abrahams, bekende inwoner van die stad, opgespoor en van ’n grafsteen voorsien.
Uit die relatief klein erfenis van Jepete se skryfwerk wat vir die nageslag behoue gebly het, is dit duidelik dat Jepete groter taalkundige erkenning verdien, selfs al sou hy nie die skrywer van My Sarie Marais, of dele daarvan, wees nie.
Barend J Toerien het die stukke wat hy vir die opstel van die Toeriens se stamregister bymekaar kon maak, na die voltooiing daarvan aan die Genealogiese Instituut geskenk. Dié “Sarie Marais-dossier” is weer aan Naln oorhandig. ’n Seleksie van Afrikaanse, Engelse en Nederlandse gedigte van Jepete is in die stamregister opgeneem.
Dit is dan ook ietwat interessant dat Barend Toerien, wat sedert die afsterwe van Elisabeth Eybers as die doyen van erkende Afrikaanse digters gereken is, juis vanjaar, met Jepete se 150ste herdenking, deur die SA Akademie met ’n medalje vereer is.
Jepete het van die eerste Toerien hier te lande se oudste seun afgestam, en Barend van die jongste.
Jepete en Barend was en is egter nie die enigste Toeriens met Afrikaanse ink in hul are nie. Die bekende Heine Toerien (van onder meer Die Mielieblaarklubfaam) het onder meer vir Groep Twee se Tussen Treine en Gé Korsten se Liefling gesorg, en het saam met nog ’n Toerien, Danie Toerien, vir verskeie van Beeld se Deurloop-rubrieke gesorg.
Heine se pa was die bekende Frank Toerien, wat onder meer assistent-redakteur van die Groot Afrikaanse Woordeboek was. Heine se seun, Blake, was weer bekend vir die musiekblyspele wat hy geskryf het.
Francois Toerien is nog ’n Toerien wat veral toneelstukke skryf, terwyl Ann Toerien, nou ’n impresario van Pretoria, bekendheid as kosresensent verwerf het.
Nog twee Toeriens skryf veral in Engels, Wendy veral oor wyn en Jane oor voëls.
Herman Toerien is ’n vryskutskrywer, joernalis en rubriekskrywer van Bloemfontein.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.