praag.co.za

Springfloppe vreet van Wembley se vloer af

Written by

in

Gisteraand se toerwedstryd van die Springbokke teen die Engelse klubspan, Saracens, in die gewyde Wembley-stadion was ‘n taai, harde besigheid. Dit was taai vir die toeskouers om te moes dophou en hard om te sluk. Dié keer was daar nie net vyftien Suid-Afrikaners wat op ‘n slag aanjaag op die voetbalveld nie, maar amper ‘n dosyn meer, met Saracens, onder breierskap van oud-Bok Brendan Venter, wat tien Suid-Afrikaanse huursoldate op hulle sterkte het. En weereens is ‘n wedstryd teen die Springbokke nie deur geïnspireerde keuses van spelers nie maar van skeidsregter gewen.

Saracens is tans die topspan in die plaaslike Britse kompetisie, maar eerlikwaar, dis nie ‘n span wat in die Super 14-kompetisie, of die Curriebeker, sal oorleef nie. Tog het hulle die Springbokke se skrum, nou al roetinegewys, gerangeer soos hulle wou. Boonop, met skeidsregter James Jones se seën daarop, het hulle die losbalstryd gemaklik gewen.

Ewe voorspelbaar het die Springbokke ‘n ryk oes lynstaanballe op hulle eie ingooi én Saracens s’n gewin. Dít het hulle in staat gestel om vir lang dispensasies in die wedstryd ‘n uitgebreide rits aanvalle binne die Engelse se kwartgebied te loods. Met Suid-Afrika se beste binnesenter, Wynand Olivier, wat kant gebring het, het hulle selfs dreigend gelyk. Uit dit alles het hulle wel twee drieë, een deur Juan de Jongh en Jongi Nokwe vervaardig. Dit het ruim bygedra tot hulle rustydtotaal van 18 punte. Saracens het self maar net ses punte gehad, uitgepons deur die stewel van Loftus se verloopte liefling, Derick Hougaard.

Met ‘n TV-onderskrif wat lees “Moet dit nie by die huis probeer nie,” wat op die kyker se skerm vanpas sou wees, het die Springbokke in die tweede helfte gedemonstreer hoe om ‘n wedstryd weg te gooi. Eers het plaasvervanger skrumskakel Francois Hougaard probeer om ‘n bal dwarsdeur ‘n aanstormende Ernst Joubert te skop, maar die oud-Leeukaptein se gestel het dit oorleef en hy het die afgeskopte bal toegeval vir ‘n drie.

Die skeidsregter, wat maar net sowel in ‘n Saracens-trui op die veld kon verskyn het, het sy span op die voorvoet gehou deur ‘n vorentoe-aangee te sien waar daar nooit een was nie. Maar hy kan nie krediet kry vir die manier waarop die Saracens ‘n snelweg deur die Bokskrum geploeg het nie. In die gevolglike chaos het nog ‘n Suid-Afrikaanse uitgewekene, Bradley Barritt, die bal gekry en die Springbokverdediging het om hom gevou soos ‘n tafeldoek om ‘n boerbok en hy het Saracens se tweede drie gedruk. Hougaard het die twee kersies op die koek geplaas en die telling was gelyk.

‘n Vernuftige Nokwe-drie, gekonstrueer deur Earl Rose van alle mense, het die Springbokke weer vyf punte voorgestoot maar ‘n Hougaard-stelskop en ‘n skepskop het die Saracens se neus met een punt voor gekry en 24-23 was die eindtelling.

In ‘n aand van efferige voetbal, het die twee losskakels tog uitgestaan vanweë die keldervlakke wat hulle spel gepeil het. Ons weet nou al almal dat Ruan Pienaar ‘n begaafde voetballer is – kan sy afrigters nou maar afsien van die idee dat hy ‘n losskakel is? O, hy skop dodelik pale toe – as dit reg voor die stokke is. Andersins is die bal en die ruimte tussen die pale blykbaar magnete wat mekaar afstoot. Hy het ten minste tien punte op die veld agtergelaat.

Teenoor hom lyk dit asof Derick Hougaard se topvorm so ver van hom is as wat Wembley van Loftus is. Hy het ‘n Charlie Chaplineske vertoning gelewer, met strafskoppe wat nie uitgaan nie, met aangeë wat die bal laat lyk het of dit met voëllym oorgetrek is, ten minste een stelskop wat skaars die kwartlyn gehaal het en drie skepskoppe wat heel allergies vir die pale was.

Nul uit drie, vir hierdie Springboktoer. Ons kan nie wag vir Saterdag wanneer hulle teen Italië speel nie. Al is dit net hom te sien watter gedrog dié keer Nkosi Sikelele sing.

 

 

crystal tiarasпрокурор Фильчаков

Comments

Leave a Reply