Rugby is harde werk en dit is goed so want niemand werk harder as ‘n begeesterde Afrikaner nie en rugby in Suid-Afrika is, na alles, ‘n begeesterde Afrikaner-bedryf. Niemand het dit beter besef as Jake White nie en dit is hierdie doelgerigte, fieterjasielose arbeidsaamheid wat hy as die grondelement van sy Wêreldbekerverowerende span gemaak het. Hy het ‘n span geërf wat ‘n paar skoolkoffers se notaboeke oor fieterjasieryke rugby al opgeskeur het. Vergeet van “dapper rugby,” of “taktiese rugby,” of wat die vorige afrigters ook al vir ‘n kernfilosofie vir die span geformuleer het. Bly by eerlike, hardwerkende rugby. Dis die Afrikaner-manier en dit is hoe die Springbokke toetse wen.
Maar ‘n voetballer kan nie net konsentreer op sy eie vermoëns en homself bloot rig volgens sy eie rugbyinstinkte nie. Hy moet ‘n nugter oog op die opposisie hou, en dit is juis hier waar afrigter na afrigter misgetas het oor die Springbokke se teenstaanders van vanaand – die Franse. Die Springbokke het vir jare al ‘n wanbegrip oor die Franse rugbykultuur. Miskien is dit juis omdat die Franse hulleself uitgee as die Galliese Hane. Die Springbokke sien die pronkerige hoendermannetjie op die Franse se diepblou truie geborduur en vereenselwig dit met Franse rugby.
Hulle is nie die enigste rugbyland om hierdeur van die wal af tot in die sloot verlei te word nie. Die misverstand kom omdat flair as die grondbeginsel van Franse rugby gesien word. Daar is natuurlik ‘n hele videoteek van filmgrepe om dié gedagte te staaf; beeldmateriaal van Franse agterspelers wat uit diepte aanval met verbluffende vaart teen onmoontlike invalshoeke, wat die telepatiese vermoë het om die bal lukraak weg te gooi tot in die hande van ‘n spanmaat wat teen ‘n splinternuwe verbysterende hoek hardloop. Hulle weet hoe om onmoontlike drieë soos hase uit ‘n verhooggoëlaar se hoed te diep. Vra maar die 1999 All Black Wêreldbeker-span.
Afrigters neig om planne te beraam om hierdie voetbaluitspattigheid te smoor voor dit behoorlik vonk. Eerlike Afrikaner-rugby lyk soos net die styl om die Franse gevaar te ontlont. Meerderheidsaandeel van bal uit die vaste fasette, onwrikbare verdediging en ‘n sielsknakkende lugaanval lyk na net die resep om die Franse rugbylus te demp. In praktiese terme beteken dit die Springbokke se strydplan is om die Franse in hulle kwartgebied vas te keer, uit te mergel en te verslaan.
Dis ‘n eenvoudige plan en ‘n eenvoudige plan is dikwels ‘n goeie plan. Maar hierdie eenvoudige plan berus daarop dat die Springbokke eerliker en harder as die Franse in die eerlike en harde afdelings van die spel sal werk. Eerlike, harde werk versus flair? Dis juis hier waar soveel goeie Springbok-planne die afgelope tien jaar ontrafel het. Keer op keer word die Springbokke geskok deur die ontdekking dat die Franse ewe hard en eerlik in die skrum, in die lynstaan, op verdediging en op jag vir die losbal kan werk. Vra maar die All Blacks se Wêreldbeker-span van 2007.
En eerlike, harde werk sukkel om eerlike, harde werk én flair te troef.
Om vanaand te wen, sal die Springbokke haarfyn moet skop, vas staan in die skrums, oor die losbal moet krioel en onverbiddelik moet verdedig. Dit is juis in verdediging waar die Bokke se strategie kan uitrafel. Peter de Villiers, van ‘n volk wat meer bekend vir opportunisme as eerlike, harde werk is, het van sy volksgenote op binnesenter en regtervleuel gekies. Adrian Jacobs en JP Pietersen het albei ‘n redelike CV op die aanval, maar is nie die rugbyfirmament se dodelikste of skranderste verdedigers nie. Pietersen is geneig om teen sy buitesenter op te bondel wat ‘n wye laning aan sy buitekant laat wat hierdie jaar al met groot uitgelatenheid benut is deur Springbok-teenstaanders. Jacobs is net te klein en ondoeltreffend om die kritieke kanaal langs die losskakel te verdedig. Dit is juis hier waar die Franse se nuwe agterlynsensasie, die jong senterknewel, Yann David gaan mik om ernstige strukturele skade aan die Bok-agterlyn aan te rig.
Dit gaan vanaand waarskynlik sopnat in Toulouse wees. Die Springbokke het hulle slagplan hierdie week in ‘n droë, harde Johannesburg fyngestel. Miskien sal die Franse flair verdof wees in die koue en die modder. Die vraag is of die Springbokke die stoomkrag het om teen die Franse hardebaarde mee te ding. My raaiskoot is die teendeel. Die Springbokke het in 1997 laas in Frankryk gewen. Hulle sou graag aan die einde van ‘n legendariese seisoen hier ‘n oorwinning wou kry om nog ‘n kerfie op die spanpistool se greep te maak. Nou ja, jy kan nie alles wen nie.
Ek sit my kop op die blok: Die Franse wen vanaand met meer as vyf punte.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.