praag.co.za

Selebi se persoonlike vleismes

Written by

in

Dis dikwels die klein besonderhede in nuusberigte wat meer interessant is as die berig self. Gister berig Talk Radio 702 oor Jackie Selebi se verhoor. Tydens die berig noem die verslaggeefster dat Selebi dikwels by ‘n restaurant in Melrose Arch gaan eet het, en dat hy sy eie persoonlike vleismes daar het. Melrose Arch is nou nie juis ‘n plek waar ek uithang nie, omdat ek ruiterlik sal erken die sekerheidswagte daar sal my op grond van beide my kleredrag en my banksaldo beleefd maar ferm toegang weier.

Dít weet ek, want Virgin Active stuur dikwels vir my SMS’e wat lui dat die krag by my eie gimnasium af is (dankie, Jacob Maroga), en dat ek welkom is om enige ander Virgin Active te gaan besoek, buiten die een by Melrose Arch. Dit het bes moontlik iets te make met die rampspoedige meting van my liggaamsvetindeks op een van Virgin Active se masjiene. Melrose Arch laat nie sommer enige hierjy toe nie. Jou liggaamsvetpersentasie moet hetsy onder die 8% wees, of jy moet ‘n lid van die ANC se Wabenzi wees en jou motor moet minstens ‘n miljoen rand kos, alvorens jy eens in die parkeerterrein toegelaat sal word.

Hoe geweldig kitsch is die vleismes egter nie. Kommisaris Selebi daag op, gaan sit by sy gewone tafel, en die kelner gaan haal sy vleismes met Selebi se naam daarop gegraveer. Al Capone tol in sy graf van pure jaloesie. Is dit nie egter tipies van die Wabenzi nie, hulle wat met persoonlike nommerplate (Sipho-1 GP) in hul swart motors jaag en vir wie die gewone reëls van die pad klaarblyklik nie geld nie? Daar is niks wat meer luidkeels skree “kyk na my, die BBP” as ‘n blouligkonvooi, persoonlike nommerplate, of dan inderdaad ‘n persoonlike vleismes nie.

Hoe swak kan iemand se selfbeeld wees as hy dit nodig vind om homself belangrik te laat voel deur sy naam op ‘n mes te laat graveer?

Dit maak my ook wonder watter ander foefies Selebi gebesig het om sy status as BBP te beaam, en om sy brose ego’tjie te gestreel het. Die ANC se Wabenzi is berug vir hul voorliefde vir Johnny Walker Blue Label. Het Selebi stellig ‘n whiskyglas met “Jackie” daarop gegraveer by een of ander modieuse kuierplek in Sandton?

Ek kon gespekuleer het oor die moontlikheid van Selebi wat Durex bel en vra of hulle persoonlike kondome vir hom kon vervaardig, met “Jackie – XXXL” op die pakkie, vir besoeke aan sy gunstelingbordeel, maar kom ek laat staan dit eerder.

 

методы пломбирования корневых каналовлобановский депутат

Comments

Leave a Reply