Voormalige Sowjetpresident Mikhail Gorbatsjof, 78, sê die VSA sal nie die konflik in Afghanistan baasraak nie en moet hulle soldate onttrek. Hy het verwys na Rusland se ervaring in die land gedurende die tagtigerjare.
Afghanistan, waar die VSA en NAVO ‘n Taliban-insurgensie probeer kortvat, is te verdeel in stamme om militêr te oorwin, het Gorbatsjof tydens ‘n onderhoud in Berlyn gesê.
Die eertydse leier het ook gesê hy twyfel of president Barack Obama sy raad sal aanvaar, maar daar is absoluut geen kans op suskses nie, nie eens met bykomende troepe nie.
“Ek glo daar is geen vooruitsig vir ‘n militêre oplossing nie.” Gorbatsjof het Russies gepraat met ‘n tolk aan sy sy. “Wat ons nodig het is die hereniging van die Afghaanse gemeenskap – en hulle [die VSA] moet gereedmaak om te onttrek eerder as om bykomende soldate te stuur.”
Die voormalige president wat in 1985 aan bewind gekom het as leier van die Kommunistiese Party, het ‘n beleid van perestroika, ‘n herstruktureringsprogram, ingestel wat gelei het tot die verbrokkeling van die Sowjet-Unie in 1991.
Rusland het in 1979 in Afghanistan ingegryp om ‘n Mrxistiese regime te red, maar moes die aftog blaas toe die Islamitiese moejahedien gesteun deur Pakistan, Saoedie-Arabië en die VSA, die oorhand gekry het.
Die oud-president het die onderhoud toegestaan nadat hy Kanselier Merkel en ander wêreldleiers in Berlyn ontmoet het om die val van die Berlynse muur te gedenk.
Gorbatsjof het ‘n beleid van detente met die VSA nagestreef terwyl hy Russiese troepe in 1989 uit Afghanistan onttrek het nadat sy land ‘n dekade lank onsuksesvol probeer het om militêr sy stempel af te druk.
Obama oorweeg tans ‘n militêre versoek om meer as 40 000 soldate na Afghanistan te stuur, bykomend tot die 68 000 wat reeds in die land is. NAVO-magte, wat personeel uit 42 lande verteenwoordig, tel ongeveer 36 000.
Die Taliban het intussen aanvalle verskerp en die omstrede verkiesing van Hamid Karzai plaas die VSA onder toenemende druk.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, het gister in Berlyn ‘n beroep op Karzai gedoen om teen korrupsie op te tree. Hy is op 2 November in sy amp heraangestel nadat Abdullah Abdullah, minister van buitelandse sake, onttrek het uit die verkiesing.
Die VN het 600 van hulle personeellede geskuif nadat vyf lede gedood is in ‘n Taliban bomaanval op 28 Oktober.
Gorbatsjof het gesê die verhoudinge tussen sy land en die VSA het verbeter onder Obama, maar vertroue bly maar ‘n proses. Hy het vertel dat hy gedink het president Ronald Reagan is ‘n regte “dinosouriër” toe hy hom die eerste keer in Geneva in 1985 ontmoet het.
Reagan het glo van hom gesê hy is ‘n regte, “keiharde Bolsjewis”.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.