Voormalige president Thabo Mbeki het Maandag sy medelye teenoor oud-minister Ronnie Kasrils betuig nadat Kasrils se vrou Eleanor, die naweek oorlede is.
Mbeki het Eleanor Kasrils se rol in die totstandkoming van ‘n “nie-rassige, nie-seksistiese en demokratiese Suid-Afrika” geloof.
Mbeki se woordvoerder, Mukoni Ratshitanga, het ‘n verklaring namens die hom uitgereik.
Die Independent Online berig dat Kasrils se vrou, 73, Sondag ná ‘n beroerte oorlede is. Volgens Ronnie Kasrils het sy by die Constantiaberg Medi-Clinic in Kaapstad ineengesak.
Die egpaar sou volgende maand hulle 45ste huweliksherdenking gevier het.
“Kameraad Eleanor se dood is nie net tragies vir kameraad Ronnie en sy gesin nie. Dit is ‘n tragedie vir ons almal wat aan haar sy vir vryheid geveg het,” het Mbeki gesê.
“Dis treurig, nog ‘n vegter van die edele weermag van vryheidsvegters, het geval.”
Eleanor Kasrils is in 1936 gebore en het in 1960 by die Kongres van Demokrate aangesluit na die Sharpeville-insident.
Sy het in Durban aan Umkhonto we Sizwe se aktiwiteite deelgeneem en is in 1963 gearresteer. Sy het daarna by Ronnie Kasrils in ballingskap aangesluit nadat sy uit aanhouding ontsnap het.
Sy het vir die ANC in Tanzanië en Brittanje gewerk asook vir die ANC-president Oliver Tambo vanaf 1990 tot sy dood in 1993 waarna sy teruggekeer het na Suid-Afrika.
Eleanor word oorleef deur haar man en dogter Bridgette en seuns Andrew en Christopher.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.