Suid-Afrika en Lesotho is een van die top tien lande ter wêreld wat die minste teen vrouens diskrimineer, het die Wêreld Ekonomiese Forum, WEF, gesê.
Suid-Afrika het vanaf nommer 22 na ‘n sesde plek geklim, terwyl Lesotho vanaf nommer 16 na ‘n tiende plek gevorder het.
Die WEF se Globale Geslagsgapingsindeks baseer dié resultate op ekonomiese deelname en geleenthede, politieke bemagtiging en die gesondheid en oorlewing van vrouens oor 134 lande.
“Die data toon dat Suid-Afrika geweldig baie gevorder het,” het die WEF gesê. Daar word volgens die forum baie meer vrouens in die regering en ministerie van die land aangestel.
Lesotho het ook daarin geslaag om onder die top tien lande te val as gevolg van “die aanstelling van meer vrouens, asook om die gaping tussen salarisse te verklein.
Nordiese lande is egter bo aan die lys wat geslagsgelykheid betref.
Ysland pronk in eerste plek, Finland is tweede, Noorweë is derde en Swede volg in vierde plek.
Die Filippyne is die enigste Oosterse land wat onder die top 10 beland het.
Jemen het egter laaste geëindig met Tsjad en Pakistan onderskeidelik tweede en derde laaste wat die swakste beleid vir geslagsgelykheid volg.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.