In Hamilton het hulle weereens vroeg opgedaag vir werk, die puntefabriek oopgemaak, teen ‘n bekwame tempo geproduseer, fabriek gesluit en toe die knuppels opgeneem om hulle opgepotte punte teen ‘n horde alswart maaifoedies te beskerm.
Die verstommende verskynsel van hierdie Bokspan is hoe maklik hulle punte kry wanneer hulle dit wil hê. Hulle het ‘n hele versameling puntestropers in hulle implementestoor. Gister, byvoorbeeld, het hulle ‘n opraap-en-skoert drie deur Fourie du Preez en ‘n onderskepdrie deur Jean de Villiers ingeoes. Daar was twee verdoelings, ‘n strafskop of twee en ‘n skepskop deur Morné Steyn. En, o ja, twee interkontinentale strafskoppe deur die ongepoetste Frans Steyn. Die ongelowige uitdrukking wat Richie McCaw se gesig verwring het toe die wilgerkop Bethlehemiet sy vernietigingswerk met ‘n 63-meter skop begin het, was prysloos.
Daar was ‘n ander oomblik wat ‘n duidelike wending in die wedstryd aangekondig het: Brad Thorne was die eerstelinieontvanger van ‘n bal uit ‘n losskrum. Dit is dieselfde Thorne wat so manhaftig was om voor die tyd vir Bakkies Botha uit te nooi om “dit hiernatoe te bring.” Die All Black-slot het sy blik oor die situasie laat gly en, nadat hy gesien het dat Bakkies besig was om opstote te doen met die res van die All Black-voorspelers op sy rug, momenteel ontspan. Hy het die moontlikhede begin oorweeg en in daardie oomblik het ‘n groenoorgetrekte, rooi baksteenblok hom uitgemeet, hom bymekaargemaak, deur die lug gebom en oor die groen gras gesmeer. John Smit. Die All Black-voorpak het hierna duidelik afgeblaas.
Hierdie was Smit se 80ste toets en die eerste een waarin hy Man-van-die-Wedstryd louere verdien het. Hy het waansinniglik verdedig, soos ‘n kamikaze aangeval en totaal berserk in losgemale en –skrums ingedonder. En daarby het hy geskrum! Wie ook al deur die week die minagtingsveldtog teen Smit begin het, het die Springbokkaptein met die beste steroïede – vasbeslotenheid – behandel. In die 65ste minuut het die All Blacks ‘n strafskop weggewys ter wille van ‘n skrum voor die Springbokke se pale, omdat McCaw en breintrust besluit het die Suid-Afrikaners is “op die agtervoet.” Smit en Kie het hulle nou maar eenmaal vermorsel, die bal afgerokkel en die bedreiging se vlammetjie gesnuit.
Al het al die All Blacks se ruiters en al die All Blacks se manne probeer om hulle Hompie Kedompie weer op die wal te kry, was dit bestem om nooit genoeg te wees nie. Dan Carter het skoppe met gebruiklike betroubaarheid afgevuur en Sivivatu en McCaw het drieë gedruk. Dit het by hulle die illusie gewek dat die Springbokke ‘n noue ontkoming gehad het. Na die tyd het McCaw geweeklaag dat hulle nie hard genoeg in die eerste helfte gespeel het nie. Maar natuurlik is daar net een bal in ‘n wedstryd en dié het die Springbokke in daardie tyd gebruik om punte mee te maak.
McCaw het in onderhoude ook nagelaat om die All Blacks se beste speler – die skeidsregter, Nigel Owens – te prys vir sy bydrae tot Nieu-Seeland se kordaat poging. Die Wallieser is duidelik ‘n toegewyde student van die Internasionale Rugbyreëls vir Opponente van die Springbokke. In die eerste paar minute het hy twee strafskoppe teen die Suid-Afrikaners toegeken; strafskoppe wat geen ander toetsnasie sou toegekom het nie. As dit nie vir sy stoere ondersteuning van die All Blacks was nie, het hulle nog oeseriger van die veld afgestap.
So, die Drie Nasies-trofee is by sy regmatige tuiste, gewen deur ‘n span wat snoep is om punte te maak en nog snoeper om punte weg te gee. Daar gaan ‘n heerlike siddering by ‘n mens op as jy dink dat hulle, wie weet, eendag kan besluit om die bal vir tagtig minute te gebruik om mee punte te maak. As hulle dit doen, dán begin ons van legendes in groen truie praat.
Ons mag mos droom, of hoe?
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.