Die vakbond Nehawu sê hulle verwerp die aanbod van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, SAID, van 9% tot 11% aan nie-vakbondlede wat nou in werking gaan tree.
SAID het in ’n verklaring gesê sy aanbod is redelik en finaal. Die verhoging gaan van 11 September af terugwerkend tot 1 Julie aan alle nie-vakbondlede toegestaan word.
Nehawu se staking van nagenoeg 6 000 lede, byna die helfte van die SAID se personeel, gaan egter voort.
Sizwe Pamla van Nehawu sê hulle staan by hulle eis vir ’n verhoging van 12,8% vir al die werkers en het die regering gewaarsku dat hulle die mense se geduld toets..
Die Vereniging van Staatsamptenare, VSA, het sy lede opdrag gegee om terug te keer werk toe, maar sal glo eers Donderdag by 'n nasionale bedingingsraadvergadering aankondig of die aanbod aanvaar of verwerp word.
Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID, sê gevalle van intimidasie in Kaapstad, Soweto, Mthatha, by die Lebombo-grenspos en die Durbanse hawe. Videomateriaal van gevalle van geweld en intimidasie deur vakbondlede sal deur SAID bestudeer word.
Die geen-werk-geen-betalingreël sal geld vir stakende werkers, het Lackay gesê.
RSG het berig dat talle mense onverrigter sake omgedraai het by SAID-kantore.
SAID het belowe dat die nodige bystand verleen sal word in die geval van ’n uitgerekte staking.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.