Bush is skynbaar onder die indruk dat hy ‘n tweede na-oorlogse Amerikaanse segetog in Europa kan laat herleef met behulp van lande wat moeilik met Duitsland kan meeding. Sy taal en verwysings was tipies van die konteks wat ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog geheers het.
Pole word deur ‘n konserwatiewe regering gelei. Die identiese tweelingbroers, Lech en Jaroslaw Kaczynski is onderskeidelik tot president en eerste minister verkies. Die Kaczynski’s is, in navolging van die Republikeinse Party in die VSA, bekend vir hul onverdraagsaamheid teenoor homoseksuele huwelike en hul aanmoediging van die doodstraf. Die Gay Pride-optogte is in 2004 en 2005 in Pole verbied.
Alhoewel albei broers uitgesproke homofobe is, het die koerant die "Rzeczpolita" berig dat die Poolse geheime diens in 1992 ‘n ondersoek teen Jaroslaw gelas het om sy seksuele voorkeur te probeer bepaal. Jan Lesiak, die ondersoekbeampte, was van mening dat dit raadsaam sal wees aangesien Jaroslaw steeds by sy moeder gewoon het en oënskynlik nie veel in vroulike geselskap belang gestel het nie.
Die Kaczynski’s het ook ‘n berugte naamgenoot in die VSA, bekend as die Unabomber wat kampusse en lughawens vir ongeveer 20 jaar lank met briefbomme geteiken het. Ted Kaczynski, ‘n talentvolle wiskundeprofessor van Berkeley, is uiteindelik deur die FBI aangekeer. Kaczynski wou deur sy terreurveldtog die oorheersing van tegnologie verhoed omdat dit blykbaar teen die menslike natuur sou wees.
Bush is met ope arms Vrydagaand deur die Poolse leier in die geskiedkundige hawestad ontvang. Hy het die Pole vir hul ondersteuning van die missielafweerstelsel op hul grondgebied tydens ‘n gesamentlike perskonferensie bedank. "Ons wil ‘n regverdige uitkoms onderhandel, wat die veiligheid van Pole en die veiligheid van die hele kontinent sal verhoog teen skurkbewinde wat in die versoeking kom om vrye nasies te wil onderdruk."
In Tsjeggië het die ongewilde Amerikaanse leier gesê: "Die Koue Oorlog is oor. Dis verby. Die mense van die Tsjeggiese Republiek hoef nie te kies tussen vriendskap met die VSA of vriendskap met Rusland nie, julle kan altwee kies." Hy het nietemin vroeër by ‘n konferensie vir demokrasie wat deur oud-president Vaclav Havel en Nathan Sharansky gereël is in dieselfde vertrek waar die Warskou-pakt ontbind is, Rusland en China weens ‘n gebrek aan demokrasie gekritiseer.
Op hul kenmerkende sikofantiese manier, het Naspers se Pieter Malan vandeesweek in ‘n patetiese rubriek in Beeld ook gepoog om die Russe op dieselfde wyse as Bush te kritiseer. Dit kom nadat Mbeki tydens sy besoek aan Heiligendamm homself soos ‘n handpop vir Bob Geldof gedra het en hy woordeliks clichés oor Afrika herhaal het wat sy Britse meesters van hom verlang het.
Bush beplan ook om in Albanië en Bulgarye aan te doen wat die VSA se belangstelling in Rusland se agterplaas nog verder sal beklemtoon.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.