praag.co.za

Is Airbus veilig?

Written by

in

Image

Dis byna 'n maand en 'n Airbus stort weer in die see. Die wêreld se voorblaaie dra die donker nuus van nog 'n lugramp met waarskynlike swaar lewensverlies. Is dit hoegenaamd nog veilig om in 'n Airbus te vlieg?

In die ongeluk naby die kus van Brasilië is al 228 passasiers dood en terwyl die soektog na nog oorlewendes van die jongste vliegramp steeds voortduur, is dit reeds duidelik dat vertroue in Airbus besig is om vinniger te sink as die wrakstukke van Vlug IY626.

Die moedermaatskappy EADS se aandeelprys het in een dag, met die nuus, met 3,6% gedaal. Nie net 'n ramp vir lugvaart nie, maar ook die maatskappy. Ten spyte daarvan hou Airbus vol dat hulle gerekenariseerde stelsels grotendeels menslike foute uitskakel.

Alhoewel dit nie dieselfde model straler is nie – die een in Brasilië was 'n Airbus 330, terwyl die mees onlangse ongeluk 'n Airbus 310 was – heers daar skeptisisme by reisigers oor die veiligheidstandaarde van die betrokke vliegtuie.

Nie veel is nog bekend oor die oorsake van die jongste ongeluk nie, maar kenners sê swak weersomstandighede en 'n laatnaglanding kon bygedra het tot die ramp. Ook was die vliegtuig glo nie gereeld nagesien nie volgens Franse lugvaartowerhede.

In 2007 het Franse nasienpersoneel by Charles de Gaullelughawe in Paris 'n hele paar foute uitgewys en is die vliegtuig verbied om die Franse lugruim te gebruik.

Volgens Jemen se minister van vervoer, Khaled Ibrahim al-Wazeer, is die nasienwerk beslis daarna onderneem onder die streng toesig van Airbusspesialiste. Hoe dit ook al sy, is Jemen se lugdiens nie op die swartlys van lugdienste wat deur die EU verbied word nie.

Kon dit weereens 'n tegniese fout wees, soos wat tans beweer word met die Basiliaanse ramp? Kenners het daardie ongeluk toegeskryf aan Airbus se foutiewe rekenaarloods, maar dié keer sê David Learmount, veiligheidsredakteur van die tydskrif Flight International, kon 'n menslike fout die moeilikheid veroorsaak het.

'n Loods wat moeg is en teen 'n sterk wind moet kom land, het dalk nie radar gebruik nie maar sy oë. Indien 'n loods só besluit, sê Learmount, staan hy drie uit die vyf keer 'n kans om beheer te verloor.

Die twee gebeure verskil in die opsig dat die Airbus 330 in vlug verongeluk het, wat 'n tegniese fout meer waarskynlik maak, terwyl die mees onlangse ongeluk gebeur het toe die straler die aanloopbaan begin nader het.

Die verantwoordelikheid vir veiligheid berus by die eienaar van die vliegtuig as dit eers verkoop is, en nie by die vervaardiger nie, alhoewel vervaardigers soms veiligheids- en tegniese bystand verleen.

Die A310 is 'n ouer model wat in 1986 ontwerp is en die een wat gister ondergegaan het is in 1990 gebou.

Wat bekommerde lugpassasiers egter sal opval is dat die Boeing 767, die hoofmededinger vir Airbus, 'n beter veiligheidsrekord het en in minder ongelukke betrokke was asook minder van outomatiese stelsels gebruik maak as Airbus.

best 10 online gamesДанильченео

Comments

Leave a Reply