praag.co.za

Orwell se lys

Die Potsdam-ooreenkoms het Europa in ’n Kommunistiese Blok onder Stalin en ’n Westerse gedeelte onder Amerikaans-Britse leiding, verdeel. Duitsland is in twee geskeur, en Westerse en Kommunistiese magte het mekaar uiteindelik oor die muur in Berlyn aangegluur. Die ontploffing van atoombomme deur Rusland in 1949 het ’n histeriese reaksie in die VSA ontlok: Hoe het die Russe, in net vier jaar nadat die Duitsers hulle so verniel het, dit reggekry om atoomwapens te bou? Vandag word dit erken dat hulle inderdaad hulp uit die VSA gekry het. Julius en Ethel Rosenberg, lede van die Amerikaanse Kommunistiese party, het atoomgeheime aan die Russe oorhandig (iets wat Kroestjof in sy memoirs beaam het). Julius en Ethel is in 1953 tereggestel vir hulle moeite, te midde van groot omstredenheid.

Joseph McCarthy was ’n produk van dié paranoïse klimaat. Teen 1950 het McCarthy reeds ’n swartlys opgestel van individue in Amerikaanse staatdepartemente wat hy as simpatiseerders met kommuniste beskou het. Op sy oorspronklike lys was daar 205 name, wat later tot 57 verminder is. Dosyne mense is voor sy senatoriale kommittee gedaag om uitgevra te word oor hulle aktiwiteite.

“Are you now or have you ever been a member of the Communist Party or a member of any organization that is or was affiliated with the Communist Party or have you ever attended an event sponsored by the Communist Party, or signed a Communist Party petition, or attended a Communist Party rally, or read a Communist book?” het McCarthy se komitee gevra, en ’n positiewe antwoord was ’n skulderkenning. Prominente Amerikaners het deurgeloop, hulle werk verloor en is selfs van hulle vriende vervreem, soms net deur ’n vermoedelike assosiasie met ’n derderange kommunistiese organisasie. In die histeriese reaksie teenoor die kommunistiese bedreiging was selfs net ’n skramse assosiasie genoeg om die einde van ’n professionele loopbaan te beteken en om uit beskaafde geselskap verban te word. Dit is wat vandag met “McCarthy-isme” bedoel word.

Maar is dit so eenvoudig?

George Orwell (die skrywersnaam van Eric Arthur Blair), die skrywer van Animal Farm and 1984, was sy hele lewe lank ’n linksgesinde politieke aktivis. Nieteenstaande dat Orwell ’n Eton-matrikulant was, kon sy familie nie bekostig om vir sy tersiëre onderrig te betaal nie. Weens dié omstandigheid, sluit Orwell aan by die Indiese Imperiale Polisie in 1922 en doen hy diens in Burma. Gedurende dié tydperk leer hy om Britse Imperialisme te verafsku en in 1927, met sy terugkeer na Brittanje, bedank hy uit die polisie en word hy ’n skrywer en vryskutjoernalis.

In 1928 vertrek hy Frankryk toe en daar misluk sy vryskutloopbaan. Brandarm werk hy onder andere as ’n arbeider in ’n hotel om geld te verdien. In 1929 trek hy terug Engeland toe en hy baseer sy boek Burmese Days (1934) en sy essays A Hanging (1931) en Shooting an Elephant (1936)) op sy ervaringe as ’n polisieman in die Imperiale polisiediens in Burma. Teen 1936 kry hy ’n kommissie van die “Left Book Club” om armoede in die werkersklas in die noorde van Engeland te beskryf. Dit verskyn in 1937 as The Road to Wigan Pier. Terwyl die eerste helfte van die relaas handel oor die maatskaplike omstandighede onder die armes in die Noorde van Engeland, verteenwoordig die tweede helfte ’n essay deur Orwell waarin hy onverantwoordelike elemente onder linksgesindes skerp veroordeel.

Dit is moeilik om vandag te verstaan in watter mate politieke ideologie veral gedurende die 1930’s onder die invloed van linkse intellektuele was. In Engeland was dit ’n reaksie op die verskrikking van die Eerste Wêreldoorlog, en die woorde “never again” was ’n simptoom van ’n oortuiging dat enigiets beter is as oorlog, selfs ’n versagtende houding teenoor fascistiese leiers soos Hitler en Mussolini. Die intellektuele vaandeldraers van die idee was die “Bloomsbury Group”, ’n groep Engelse intellektuele wat Bertrand Russel en Virginia Woolf ingesluit het. Die groep het Churchill verafsku en het die “paaibeleid” met betrekking tot Hitler ondersteun en intellektueel aanvaarbaar gemaak.

Nieteenstaande die hersiening van geskiedenis sedert die Tweede Wêreldoorlog, het ’n groot meerderheid Engelse intellektuele, en selfs Amerikaanse en Franse intellektuele, ’n beleid van versoening met fascisme bepleit en sterk ondersteun. ’n Uitsondering op die reël was Orwell, wat verstaan het dat fascisme uiteindelik verslaan sou moes word en sy idees rondom revolusies (beide fascisties en kommunisties) het uiteindelik uiting gekry in sy twee beroemde werke: Animal Farm en 1984.

In die 1930’s bevind Orwell hom dus intellektueel ’n uitgeworpene in linkse politiek, maar hy bly deurgaans ’n opponent van fascisme en vertrek selfs Spanje toe, primêr om teen Generaal Franco se fascisme te gaan veg, eerder as om net daaroor verslag te doen. Daar word hy deur die nek geskiet, gaan ses maande Marokko toe om te herstel, en bevind homself eindelik terug in Engeland voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Orwell sterf in 1950. Hy was toe 46 jaar oud.

In 1949 besoek Celia Kirwin, ’n werknemer in die Britse buitelandsesakedepartment, Orwell met ’n versoek om ’n lys op te stel van skrywers en ander aktiviste wat nie geskik sou wees om vir die regering te werk nie. In die besonder wou die Britse regering skrywers huur om anti-kommuntiese propaganda te skryf. Orwell se lys is saamgestel ongeveer op dieselfde tyd as wat McCarthy in die Amerikaanse Senaat met sy anti-kommunistiese veldtog bedrywig was.

Orwell se lys is eers in 2003 gepubliseer en bevat 37 name, meestal dié van joernaliste en ander kunstenaars soos byvoorbeeld Michael Redgrave (vader van Vanessa Redgrave) en Charlie Chaplin. Daar word vandag algemeen aanvaar dat sy lys akkuraat was. Elke naam op die lys het behoort aan ’n individu wat op een of ander stadium pro-kommunistiese posisies ondersteun het.

Orwell het egter dieper insigte in die menslike kondisie gehad, in vergelyking met McCarthy. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, word dit beweer, het Orwell en sy vriende ’n speletjie gehad: Noem die name van bekende Britse politici en sakemanne wat met die Nazi’s sou saamwerk in die geval dat Engeland soos Frankryk beset sou word.

Die houding bewys dat Orwell die politieke instinkte van mense baie goed verstaan het – die mate waartoe mense met ’n vyandige invaller saamwerk, is dikwels verbasend, en is ’n taamlik algemene verskynsel. Individue wat voor die besetting soms hard baklei om dit te verhoed, is dikwels gretig om met die nuwe heersers tydens okkupasie saam te werk. In dié opsig is persepsie van die vyand belangrik. Osama bin Ladin het eenkeer opgemerk dat mense van ’n wenperd hou. As die wenperd jou inval, dan word samewerking met hom maklik gerasionaliseer. Daar is baie voorbeelde hiervan. Die saamwerkers tydens die Nazi’s se besetting van Frankryk, die National Scouts gedurende die Anglo-Boereoorlog, die samewerking wat die wenperd ANC uit Afrikanergeledere in die tydvak 1990-1994 verkry het, en vandag ook in die oorloë in Irak en Afghanistan, waar sommige inwoners van die twee lande gretig met die Westerse alliansie werk, dikwels teen hulle eie mense wat elders besig is om die besetters, wat hulle as Kruisvaarders beskou, aan te val.

Met die Nazi’s se besetting van Frankryk in 1940 het baie bekende Franse besluit om hulleself met die nuwe omstandighede te versoen en om met die Duitsers saam te werk. Die argument onderliggend aan hulle houding was universeel en is wesentlik utilitêr: Vrede is beter as oorlog en samewerking (selfs met die vyand) spaar lewens en hou ’n ekonomie aan die gang wat hongersnood en ander ellendes verhoed.

Dat enige vrede beter is as oorlog, is ’n argument wat die Bloomsbury Group reeds gemaak het en dit het versoening met fascisme gerasionaliseer. In dié opsig staan die Bloomsbury Group se argument lynreg teenoor die houding van ’n Joseph McCarthy gedurende die Koue Oorlog. Hy het enige versoening met kommunisme as verraad beskou. Ook Orwell het versoening met fascisme as ’n groot fout beskou en sy geheime lys bewys dat hy ook versoening met kommuniste met afkeur bejeën het. Maar hy het ook ’n meer siniese houding teenoor diegene gehad wat versoening bepleit het. Gedurende ’n besetting raak dit baie maklik om ’n versoeningsbeleid te rasionaliseer; selfs in Suid-Afrika gedurende die Anglo-Boereoorlog het National Scouts aan die Britse kant hulleself geregverdig deur te pleit dat hulle optrede die oorlog verkort en lewens spaar.

Samewerking met ’n besetter verg dikwels dat saamwerkers gruweldade pleeg teen hulle eie mense of blindelings opdragte uitvoer wat dodelik is vir hulle eie mense. In die Anglo-Boereoorlog het National Scouts aktief gewerk om Boerevroue en kinders in die konsentrasiekampe te sit. In Frankryk het samewerking met Nazi’s beteken dat Franse Jode bymekaar gemaak moes word om na Duitse konsentrasiekampe vervoer te word. Net soos National Scouts die Boerekommando’s as die vyand geïdentifiseer het, het saamwerkers in Frankryk die Franse Weerstandsbeweging as ’n vyand geïdentifiseer en het soms aktief gewerk om die beweging te ondermyn. Terwyl gewone Franse burgers die Duitse besetting meestal verdra het, het hulle nietemin passiewe ondersteuning aan die Weerstand verleen. In dié geval was hulle net soos gewone burgers elders: Die Engelse burgery het die Bloomsbury Group se linkgesinde idees onderliggend aan die “paaibeleidt” verwerp en het oor hulle koppe vir Churchill as eerste minister gekies om teen die Nazi’s te veg.

Soms verstaan gewone mense wanneer dit nodig word om aktief weerstand te bied, eerder as om passief beset te word. Die Franse Weerstandsbeweging het die Duitse besetters aanhoudend aangeval en het ook onthou wie met hulle saamgewerk het. Met die bevryding van Frankryk is Nazi-samewerkers tereggestel; selfs Franse vroue wat met Duitse soldate romantiese verhoudings aangeknoop het, is opgehang of summier doodgeskiet.

Daar is skynbaar geen parallel tussen bostaande historiese gebeure en Suid-Afrika se 1994-verdrag met die seëvierende ANC nie. Sover ons weet, het Afrikaners nooit soos Orwell ’n speletjie gehad om te voorspel wie met die ANC sou saamwerk na ’n oorname nie. Nog minder het niemand soos Orwell of soos McCarthy ’n lys saamgestel om saamwerkers te teiken nie. Maar daar is nietemin ’n paar verrassings. Wie sou kon raai, gemeet aan hulle houdings in die 1970’s en 1980’s, dat soveel Afrikaners vandag versoening sou bepleit en rasionaliseer? En wie sou kon raai dat soveel hulle uiteindelik aan die ANC se kant sou skaar? In dié opsig wonder mens wat versoening dan beteken? Is dit dalk net ’n siniese oorlewingstrategie?

детектор лжи в судеданильченко юрій Харків

Comments

Leave a Reply