Veral die politieke korrespondent van Die Burger en Beeld, Jan-Jan Joubert, tree op as selfaangestelde openbarebetrekkingekonsultant vir Pat Hill, Robin Carlisle en sommer elke ander geriatriese Prog wat nog droom van die dae toe mens spreekwoordelik “Prog gepraat het, VP gestem het en God gedank het dat die NP aan bewind was”.
Gerugte wil dit hê dat mnr. Tony Leon deur Zille uit die party gewerk is. Indien Leon nie bedank het nie, sou hy in elk geval sy leierskapspos kwyt gewees het, want Zille het ’n paleisrevolusie teen hom beplan. Hoe waar dit is, weet ’n mens nie.
Toevallig verskyn daar vandag ’n interessante artikel in Die Burger waarin die redakteur ’n sug van verligting slaak dat Leon nie meer leier is nie. Ons lees die volgende:
“Dat ’n regering en die opposisie verskillend oor sake dink, is vanselfsprekend en selfs gesond. Dat hulle ’n robuuste politieke debat voer, eweneens.
Tog is daar ’n grens wat liefs nie oorskry moet word nie. Te veel polarisasie is ongesond.
[…]
Mbeki en Leon pas albei in die Angel-Saksiese politieke kultuur, waar verskille op die spits gedryf en die politieke debat by wyse van spreke met die skerpte van die swaard gevoer word. Dit in teenstelling met die vastelandse Europese politieke kultuur, waar die ergste venynigheid vermy en daar makliker na konsensus gesoek word.
Tiperend van die Suid-Afrikaanse situasie is die feit dat Mbeki en Leon mekaar eers reg aan die einde van laasgenoemde se leierskap van die DA onder vier oë gespreek het. In die meeste demokrasieë is dergelike gesprekke gereeld op die agenda.
Daarom is dit verblydend dat Mbeki en Leon se opvolger, me. Helen Zille, reeds onmiddellik ná haar verkiesing ’n afspraak wil reël. Dis soos dit hoort.”
Behalwe dat die skrywer hiervan hom gruwelik misgis met die hewige woordgevegte wat daar op die Europese vasteland woed, die vele hofsake en venynige opmerkings wat daar oor en weer in Nederland, België, Frankryk, Duitsland en Italië gemaak word, om nie van die sluipmoord op Pim Fortuyn te vergeet nie, kan ons sien waarom Die Burger so baie van Helen Zille hou.
Zille soek konsensus, nie polarisasie nie. Hoor ons iewers die klokkies van ’n eenpartystaat lui? Jan-Jan Joubert het self enkele jare gelede ’n taamlike debat aan die gang gesit oor die verskil tussen die DA en die Vryheidsfront. Op daardie stadium het Pieter Mulder gepraat van “samewerkende opposisie” en dat sy party min of meer aanvaar dat die ANC vir altyd aan bewind gaan wees. Hierop het Koos Malan ’n insiggewende repliek gelewer wat destyds op die Praagwebwerf gepubliseer is. Dit word vandag geherpubliseer omdat hierdie kwessie nog steeds met ons is. Sekere mense in die land, veral diegene wat dweep met “demokrasie”, hou nie van demokratiese opposisie nie en wil eintlik hê dat ons in ’n soort eenpartystaat met ’n “mak” opposisie of sónder enige opposisie moet verval.
Dit bring my nou by ’n gesprek wat ek enkele jare gelede met Tony Leon gehad het by die Hyatt-hotel in Rosebank op die stadium toe die DA uitmekaar gespat en die NNP weer sy eie paadjie begin loop het omdat hy met die ANC wou saamwerk. Volgens Leon het hy eintlik destyds ’n goeie verhouding met Marthinus van Schalkwyk gehad, maar iewers het “groter magte” in die vorm van FW de Klerk en die base van Naspers besluit dat ’n sterker opposisie die ANC net verder gaan antagoniseer en die land gaan “polariseer”.
Vandag lees ons dit weer in Die Burger waar Helen Zille gelukgewens word met haar “sagte styl” van opposisie. Wat sê dit vir ons? Tony Leon moes padgee omdat hy wou opponeer en nie wou saamwerk nie.
Dus is die hele debat rondom die aard en funksie van parlementêre opposisie in ’n eenpartydominante staat soos Suid-Afrika nog lank nie uitgeput nie.
Hoe lyk die Suid-Afrika waarvoor Helen Zille haar beywer? wil ’n mens vra. In ’n onlangse radio-onderhoud op RSG se “Praat saam” het mnr. Jaco Mulder van die Vryheidsfront Plus haar die volgende vraag gevra:
Wat is u standpunt oor die DA se verhouding met ander opposisiepartye, gaan die DA homself/haarself beywer vir samewerkende opposisie of gaan die DA voort met sy "DA alleen"-opposisiestyl, inaggenome die feit dat Suid Afrika nie ’n homogene land is nie, maar wel ’n diverse land.
Hierop het Zille geantwoord:
"My posisie teenoor ander opposisiepartye is dit: Die DA is in koalisie met die VF Plus in Kaapstad, ons het vir mnr. Dirk Smit as Speaker en dit werk goed, baie goed. Mnr. Smit staan my by in woord en daad met baie goeie raad.
Die DA staan vir ’n opegeleentheid-gedrewe samelewing. Ons moet weg beweeg van identiteitspolitiek na ’n rigting van die politiek van aangeleenthede, knelpunte en issues. My boodskap aan alle minderhede is dat ons deel kan wees van iets baie groots, nie van ons klein groepies of laertjies nie.
My rol is ook nie om ander opposisiepartye te ondermyn nie, maar om met hulle saam te werk. Ek is baie in my skik oor hoe die VF Plus met my in Kaapstad saamwerk.”
Jacob Zuma se woorde aan ons Afrikaners by die onlangse braaivleis wat ons saam bygewoon het, was: “die Afrikaner is nie net nog ’n minderheid nie”. Wil Helen Zille die Afrikaner, sy taal, geskiedenis, identiteit, die totale geestelike bouwerk wat oor 350 jaar in dié land tot stand gekom het, reduseer tot ’n “klein groepie” of “laertjie”? Ek hoop nie so nie.
Wat sommige geskiedskrywers die “imperiale mistiek” noem, loop soos ’n goue draad deur die Engelse politiek in Suid-Afrika. Die gedagte om ’n groot ryk (“iets baie groots” in Zille se woorde) tot stand te bring met miljoene mense wat maar alte graag van hul identiteit sal afstand doen om hul lojaliteit teenoor die ryksideaal te bevestig, is nog altyd as byna vanselfsprekend geag.
Daarenteen verstaan die ANC egter baie goed hoe om etniese antagonismes en veral rassegevoelens te gebruik om sy kiesers by die stembus te kry. Deur etnisiteit as ’n politieke faktor in Suid-Afrika te ontken, ontneem die DA hom van ’n belangrike wapen in sy arsenaal as opposisieparty. Indien daar ’n land in Afrika bestaan waar etnisiteit geen rol in die politiek speel nie, sou ek graag die naam van daardie land wou verneem.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.