In Malta het ‘n 60m luukse jag gereed gestaan om die vakansie in te lui. Dié jag behoort ook aan Bolloré. Dit het dus nie te lank geneem vir ‘n span nuushonde om die vasmeerplek en kaptein op te spoor nie. Die Sarkozys hou op die oomblik vakansie op die jag in die Middelandse See met ‘n helikopter wat danksy die onverpoosde mediagesnuffel oor die vaartuig hang.
Wat die prominente gesin die graagste wou vermy, het hulle nou getref: ‘n vloed vakansiefoto’s gisteroggend op die voorblaaie van Franse poniekoerante. Sarko, soos die Franse na hom verwys, is op die foto’s te siene op die dek van die Paloma in ‘n donkerblou t-hemp en oranje swembroek geklee. ‘n Weeklange verblyf op die skip, moes Franse daarna uitvind, kos ongeveer 200 000 Euro.
Lesers het behoorlik na hul asems gesnak vir dié rojale spandabelheid. Vergete is die vrae oor die samestelling van die kabinet en wie die beste Eerste Minister sal wees. Hulle wonder tans waarom die oordadige vrygewigheid nodig sou wees. Ségolène Royal se segsman, Vincent Peillon, beskryf Sarko se vakansie as ‘n "belediging vir Franse wat vroeg opstaan".
François Fillion, moontlike kandidaat vir Eerste Minister, het gou gister na die kleurvolle voorbladverslae tot Sarko se redding gekom: "Hy het ‘n vreeslike stresvolle veldtog agter die rug. Ek dink dat hy ‘n bietjie rus, privaatheid en vrede verdien het." Die Paryse media-eggo moes selfs tot by die Middelandse See getrek het want Woensdagoggend het Sarko sy drafroetine onderbreek om aan ‘n groot Franse radiostasie, Europe 1, sy vakansie te regverdig. Hy het onder meer gesê dat hy homself nie hoef te "versteek of te lieg of te verontskuldig" nie.
"Ek ken my gasheer Vincent Bolloré al 20 jaar lank en my vakansie kos die belastingbetaler nie ‘n sent nie," het hy bygevoeg. "Ek het ‘n klein pouse nodig wat ek saam met my gesin wou deurbring. More vroeg is ek weer terug op kantoor."
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.