Saterdagaand is ‘n 18-jarige kleurling uit Frans-Guyana, Alicia Aylies, as mej. Frankryk aangewys, wat onmiddellik tot verwoede kommentaar op Twitter en ander sosiale media aanleiding gegee het. Nie minder nie as 3 uit die 5 finaliste was van gemengde ras. In ‘n flou poging om polities korrek te wees, het ‘n vorige (blanke) mej. Frankryk uit 2003, Lorphelin Marine, getwiet: “Asemrowende jong vroue in die finaal. Rasvermenging is ‘n krag!!!! Sterkte julle meisies!!!”
Die Franse woord “métissage” beteken rasvermenging en daar word gewoonlik na kleurlinge as “métis” verwys. Hoewel “mademoiselle” die Franse woord vir “mejuffrou” is, gebruik die Franse die Engelse term “Miss” (wat as “mies” uitgespreek word) vir meisies wat aan ‘n skoonheidskompetisie deelneem. Vandaar dan ook die term “Miss France” vir “Mejuffrou Frankryk”.
Hiermee was die vet egter in die vuur en voorstanders van ‘n tradisionele, blanke Frankryk soos Henry de Lesquen het dit as ‘n “kosmopolitiese bedrogspul” beskryf en bygevoeg: “1. Guyana is nie Frankryk nie. 2. Dis vanpas dat die mejuffrou wat Frankryk verteenwoordig van Kaukasiese ras moet wees.”
Imposture cosmopolite. 1. La Guyane n’est pas la France. 2. Il convient que la demoiselle qui représente la France soit de race caucasoïde. https://t.co/ebH9GOggRC
— Henry de Lesquen (@hlesquen) December 17, 2016
Nog ‘n Fransman, ene Frédéric, het die verkiesing van ‘n jong vrou “van ‘n ander kontinent” (Guyana is wel ‘n oorsese gebied en departement wat aan Frankryk behoort) as ‘n “nasionale vernedering, nogmaals” beskryf en bygevoeg: “Hulle sleep ons identiteit deur die modder.”
Dog aan die teenoorgestelde — linkse — kant van die spektrum het die vreugdevure hoog gebrand. Terwyl behoudende Franse bekommerd is dat hulle deur immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste vervang gaan word in ‘n “groot vervanging”, het ‘n swart joernalis van die linkse webblad Buzzfeed, Jennifer Padjemi, getwiet dat die groot vervanging nou in volle swang is: “Die groot vervanging, dis nou. Mej. Frankryk.”
Le grand remplacement, c’est maintenant #MissFrance
— Jennifer Padjemi (@jenniferpadjemi) December 17, 2016
Die blanke sokkerjoernalis Gilles Verdez het verlede jaar toe ‘n blanke meisie as mej. Frankryk aangewys is, getwiet dat dit by implikasie “rassisties” sou wees deur te sê: “Om as mej. Frankryk 2016 verkies te word is dit daarom verkieslik om eerder blank as mooi te wees? #MejMartinique.”
Die blanke meisie wat Verdez verlede jaar “lelik en blank” gevind het, was Iris Mittenaere (foto hier onder).

Die mej. Martinique wat in 2016 Verdez gunsteling was, heet Morgane Edvige en het onder andere weens haar eksplisiete seksuele twiets ‘n skandaal veroorsaak:

Dié keer is Gilles Verdez egter nie teleurgestel nie en kon hy oor die gekleurde mej. Frankryk twiet:
“#MissFrance Mej Guyana, simbool van Frankryk in haar manjifieke diversiteit, van ‘n Frankryk met soveel emosie, van ‘n versoende Frankryk.”
‘n Toenemende aantal Franse beskou egter nie gekleurdes as “egte Franse” nie en meen dat Frankryk ‘n “blanke, Christelike land” moet wees. Vandaar die huidige polemiek rondom die ras van Mej. Frankryk, wat die verdeeldheid van die land rondom ras, kultuur en godsdiens weerspieël.
Tydens ‘n onderhoud met die sentrumregse koerant, Le Figaro, is die volgende vraag aan die nuwe mej. Frankryk gevra:
“U is ‘n kleurling, is dit vir u ‘n simbool?
Antwoord: “Daar is nie veel swart of kleurlingskoonheidskoninginne nie, dit stel my in staat om te toon dat Frankryk oor ‘n groot mate van diversiteit beskik.”

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.