Rwandese en Kongolese soldate het Sondag dieper in die sones ingedring wat deur Rwandese Hoetoe-milisie beheer word in 'n gesamentlike militêre operasie wat ten doel het om die gewapende groep wat sentraal-Afrika wil destabiliseer te verbrysel.
Nege Rwandese milisielede is dood en een Kongolese soldaat is gewond in aanvalle vroeër die dag op posisies van die milisie in vyf dorpies in die Lubero-distrik, het 'n woordvoerder vir die Kongolese weermag, kaptein Oliver Hamuli, gesê.
'n VN-vredesmagwoordvoerder, lt.kol. Jean-Paul Dietrich, het dieselfde dodetal gegee, maar gesê sy inligting het ook van 'n Kongolese weermagbron gekom en dat die VN dit nie kon bevestig nie.
Die 17 000-sterk vredesmag is nie deel van die operasie nie, maar VN-soldate beplan om patrollies uit te voer in gebiede wat oorheers word deur die milisie "om 'n idee te kry van wat daar aangaan" het Dietrich gesê.
Rwanda en Kongo was vir jare lank vyande, maar die twee bure het hulle taktiek verander en verlede week begin saamwerk in die hoop om die groepe wat elke nasie as plaasvervangers vir hul onderskeie weermagte sien te ontwapen.
Die ooste van die land is ontwrig sedert Rwanda se 1994-volksmoord oor die grens na die Kongo gespoel het. Hoetoe-milisie wat aan die volksmoord deel gehad het, het in die Kongo skuiling gesoek.
Rwanda het die Kongo twee keer in die 1990s binnegeval om die milisie voor stok te kry, maar is daarvan beskuldig dat hulle eerder die Kongo se groot minerale rykdomme geplunder het. Die milisie se teenwoordigheid in die Kongo het ook veroorsaak dat 'n Toetsierebellie ontstaan het, onder leiding van Laurent Nkunda, wat Rwanda as bondgenoot het.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.