Te midde van voortslepende konflik en intimidasie op die kampus van die Universiteit van Pretoria waarin ten minste een student gister beseer is, het die universiteit hom gister tot hof gewend om ‘n dringende aansoek teen verskeie studenteverenigings te verkry. Dit lyk asof die universiteit sowel die EFF as Afriforumjeug oor dieselfde kam skeer.
Die senior mediaskakelpraktisyn van die universiteit, Anna-Retha Bouwer het per epos aan PRAAG gesê: “Die interdik is verkry teen die EFFSC, AfriForum, AfriForum Jeug, en met ander betogers wat nie tot een van die groepe verbind is nie as vierde respondent.”
Verbod op vuurwapens, messe en skerp voorwerpe
Punt 8 van die dringende hofbevel wat deur Tuks verkry is, bepaal dat “die respondente en waar van toepasssing hul ondersteuners verbied word om vuurwapens, messe, skerp voorwerpe, stokke of gevaarlike wapens te dra soos dit deur die Wet op gevaarlike wapens nr. 15 van 2013 omskryf word, by of naby die ingang van die Universiteit van Pretoria se perseel of op die kampus van die Universiteit van Pretoria.”
Die studenteverenigings word verder deur die hofbevel daarvan weerhou om enige onwettige betogings te hou, klasse te ontwrig of hulle aan haatspraak of aanhitsing tot geweld op die kampus skuldig te maak.
Intussen bly die universiteit vir die dag gesluit, met sommige studente en dosente wat in die geheim in restaurante en kafees in Pretoria vergader om hul werksaamhede en gesprekke rondom take en projekte voort te sit.
“Die besluit om die Hatfield- en Groenkloofkampusse vandag te sluit, is geneem om die veiligheid van personeel en studente te verseker nadat dreigemente van die ontwrigting van akademiese aktiwiteite ontvang is,” sê Anna-Retha Bouwer.
“Dit is ‘n anti-Afrikaanse ding,” meen ‘n student waarmee PRAAG gesels het. “Die EFF wil hê dat Afrikaans afgeskaf word, daarom dreig hulle die universiteit.”
Eksemplare van die hofbevel is by al die hoofkampus se ingange opgeplak.
Hier is ‘n PDF van die volledige hofbevel in Engels:

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.