praag.co.za

Leopold Scholtz, Westerse toleransie en die Fortuyn-opstand

Written by

in

Om die waarheid te sê maak Leopold Scholtz homself skuldig aan dieselfde gedrag wat hy probeer bestry. So skryf hy in sy rubriek: “Lesers wat my skryfsels gereeld volg, sal weet dat ek dikwels skerp kritiek op die Weste – en veral Amerika – se beleid teenoor die Midde-Ooste uitspreek, iets waarvoor ek vanuit die ander kant verontwaardig verwyt word.” Hiermee wil hy ons as Westers-gesinde mense dwing om die hand in eie boesem te steek. Die res van sy rubriek maak dit duidelik.

Net gou tussenin: Amerika word gereeld beskou as die bron van oorlog en ellende in die wêreld. ‘n Mens vergeet gerieflik dat Amerika die afgelope 60 jaar 24 uur per dag in oorlog verkeer het en die land het sedert die Tweede Wêreldoorlog geen dag vrede gehad nie. As supermoontheid doen kleiner lande en groepe voortdurend ‘n beroep op Amerika se spierkrag, waardeur Uncle Sam dikwels teen wil en dank in streekskonflikte betrokke moet raak. Selfs die ekstreem-linkse denkers Antonio Negri en Michael Hardt het betoog dat Amerika se ingrepe nie bloot daarom gaan om hul handelsbelange te beskerm nie, maar ook ‘n morele plig verteenwoordig. Hoekom sou hulle anders in lande soos Somalië betrokke geraak het?

Scholtz wei uit in die rubriek deur te beweer dat die skuld vir die polarisering van Islam jeens die Weste by die Weste gesoek moet word. Ons moet leer dat nie alle Moslems radikaal is nie. Hy meen dat ondanks die Deense spotprentbetogings slegs ‘n klein persentasie Deense Moslems gereelde moskeebesoekers is. Dis nogal vreemd dat Scholtz geen melding maak dat nie naastenby alle Westerlinge aanhangers van George Bush se beleid is nie, en volgens Al-Kaïda is ons almal ongelowige honde en varke, iets waaroor Scholtz eweneens geen kommentaar lewer nie. Ook noem hy niks oor die feit dat Moslems in Amerika hulself eers as Amerikaners en tweedens as Moslems beskou nie. Die bekende bokser Mohammad Ali het onlangs in ‘n onderhoud gestel dat hy Bush se oorlog teen terreur steun. As Bush in sy toesprake hom tot God wend, voel Ali ook as Moslem hierdeur aangespreek.

Waar Scholtz die Weste verwyt, neem die vermaarde Islamkenner Bernard Lewis die teenoorgestelde standpunt in. In sy boek What went wrong, probeer Lewis om ‘n antwoord te vind waarom die eens florerende Islamitiese Ryke ten onder gegaan het en die Weste – wat destyds agterlik was – vooruitgang gemaak het. Lewis erken dat hierdie ‘n baie moeilike vraag is om te beantwoord. Daar is te veel faktore wat ‘n invloed gehad het om tot ‘n enkelvoudige antwoord te kom.

Wat Lewis wel sterk benadruk, en ek is geneig om saam te stem, is dat die Islamitiese wêreld die skuld vir hul ondergang in hulself moet soek. Om voortdurend die Jode of Westerse imperialiste vir hul ellende te verwyt, is die maklike uitweg en dit mis juis die punt. Vooruitgang berus per definisie nie op maklike uitweë nie. Die skeiding tussen kerk en staat en die wetenskaplike vooruitgang tydens die Verligting het nie oornag gebeur nie, en ook nie omdat ons voorvaders die Moslems die skuld vir hul agterlikheid gegee het nie. Hulle het juis die kennis wat hulle opgedoen het van die Arabiere en Perse gebruik om hulself vooruit te kry. Westerlinge het juis hul kennis uitgebrei, nie hul wapenarsenale nie.

Oor die afgelope aantal jare het die olieprys ‘n nuwe rekord behaal en Iran het baie geld hieraan verdien, maar Ahmedinejad gebruik hierdie kosbare hulpmiddel om propaganda en terreur teen Amerika en Israel te saai pleks van sy mense se lewenstandaard te verbeter. Dit is hier waar die Middeleeuse kerkvader Thomas van Aquino se waarskuwing ons almal moet aanspreek: “Pasop vir die man van een boek”. Volke wat hierdie woorde as hoeksteen aanvaar, het die eerste steen gelê op die pad na vooruitgang. Elke volk moet self leer ontwikkel (“’n Volk red homself”). Ons kan dit nie namens hulle doen nie, hooguit net die weg wys wat hulle self moet bewandel.

‘n Interessante vraagstuk wat Scholtz te berde bring is die posisie van die Moslem wat in Europese stede gebore en getoë is. Hulle is juis diegene wat geneig is om te radikaliseer, en as rede hiervoor voer Scholtz aan dat hulle nie deur die autochtone as gelykes aanvaar word nie. Daar moet meer integrasie plaasvind. Gegewe die geskiedenis van die Jode in Europa, wat deur die geskiedenis voorbeeldig geïntegreerd was maar ondanks alles voortdurend aan pogroms en holocausts blootgestel was, twyfel ek of integrasie werklik die oplossing is. Identiteit is moontlik ‘n belangriker bepaler as integrasie om hierdie probleem aan te spreek. Marokkaanse Nederlanders het ‘n elf keer groter kans om skisofrenie te ontwikkel as blanke Nederlanders. Ek kan nie sien hoe integrasie hier iets aan kan verander nie. Ek durf byna voorstel dat segregasie belangriker is, juis omdat interne konflikte vanweë botsings tussen twee kulture ‘n oorsaak van hierdie siekte kan wees. Segregasie, oftewel homogeniteit, is belangriker om ‘n gesonde identiteit en selfbeeld te ontwikkel onder soortgenote as integrasie. Met integrasie kan ‘n mens juis die kans verhoog dat tweedegenerasie-Moslemkinders in Europa hulself benede hul blanke klasgenote gaan stel, omdat blanke Europeërs gesien word as mense wie se taal en kultuur beter inskakel by die dominante kultuur. Indien klasse op skool homogeen sou wees, verwyder ‘n mens daardie vernederende verwysingsraamwerk uit die leerlinge se direkte beleweniswêreld.

Scholtz kon dit ook nie weerhou om Pim Fortuyn as ‘n verkrampte regse voor te stel nie, en hier maak hy ernstige oordeelsfoute. Fortuyn het byvoorbeeld gesê dat Islam ‘n agterlike kultuur is, en nie ‘n agterlike godsdiens is soos Scholtz beweer nie. In De Volkskrant van 9 Februarie staan:“Op de vraag of hij een islamhater is, zegt de lijsttrekker van Leefbaar Nederland (Fortuyn): "Ik haat de islam niet. Ik vind het een achterlijke cultuur. Ik heb veel gereisd in de wereld. En overal waar de islam de baas is, is het gewoon verschrikkelijk”

Wat so verskriklik was, het Fortuyn onder andere verwys na die minderwaardige posisie van vroue in daardie kultuur, en nie na sy homoseksualiteit nie. Hierop sê Fortuyn: “Binnen het islamitisch cultuurgebied zijn vrouwen ondergeschikt aan mannen. Dan zeggen ze wel dat die vrouwen zich uit vrije wil helemaal met een hoofddoek bedekken. Ammehoela! Ik wil een massieve emancipatiepolitiek voor achterstandsbuurten waar deze vrouwen wonen. Die vrouwen op de universiteit met een hoofddoekje, prima. Ik maak me veel meer zorgen over die woonwijken waar islamitische vrouwen beperkt zijn tot het huishouden en wat winkelen. Dat vind ik een grof schandaal." (Bron: Algemeen Dagblad, de opkomst, moord en nasleep).

Ek wonder egter of Scholtz Fortuyn se boeke gelees het, want Fortuyn het duidelik gestel dat hy voornaamlik teen kultuurrelativisme gekant was.Westerlinge breek hul eie kultuur af om vreemdelinge te omarm, en sommige linkses is af en toe bloot vyandig teen hul eie kultuur, soos Jan Pronk wat trots voor in ‘n protesmars loop terwyl Moslems in die agterhoede Nederlandse vroue wat aan die kant staan as “vuile kankerhoer” uitskel. Fortuyn het juis gepleit vir ‘n herwaardering van die Nederlandse kultuur.    

Dat Pim Fortuyn dit nie kon regkry om die individu agter die groep raak te sien nie, soos Scholtz beweer, is onsin. Hy het immers met gay-Moslems geslaap. Hy was by uitstek gedrewe deur individualisme. Hoekom anders sou hy gesê het: “Weg met het subsidiesocialisme. Het heeft ertoe geleid dat miljoenen mensen aan de kant staan en niet meer weten hoe plezierig het is om iets te ondernemen. Weg bij dat loket, want daar krijg je wel je geld, maar moet je ook je ziel inleveren”. Fortuyn het goed geweet dat ondernemingsgees belangriker is vir multikulturalisme as blote integrasie. Jy kan beter werk skep as werk soek, soos die Amerikaanse droom vir ons voorhou.

Sien, die nare Amerika kan ons inderdaad iets leer oor politiek en etnisiteit.

Met sulke verkramptes, wie het verligtes nodig, doktor Scholtz?

{mos_mb_discuss:13}

lego киевФільчаков прокурор

Comments

Leave a Reply