Cosatu in die Wes-Kaap sê die swak prestasie van die nasionale rugbyspan die afgelope naweek, is omdat daar nie genoeg swart spelers in die span was nie.
Die vakbondfederasie sê daar is ‘n praktyk van “omgekeerde regstellende aksie” in rugby. Vyf swart Springbok-spelers het die vakverbond glo genader om die saak van onregverdige diskriminasie te bekyk.
Suid-Afrika het hul laaste vier internasionale wedstryde verloor en het nou gesak na nommer vyf in die wêreld, van die tweede plek af.
Cosatu se woordvoerder in die Wes-Kaap, Motlatsi Tsubane, sê ‘n meer verteenwoordigende span sal gekies moet word as die Springbokke wil wen.
Tsubane sê twee wit Springbokke het ook hul steun aan die swart spelers toegesê.
Die Springbokke wat ‘n vernederende nederlaag gely teen Argentinië met 37-25 in die Vier Nasies-toernooi Saterdag in Durban, sukkel ook met beserings.
Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie ontken intussen bewerings van ‘n dreigende skeuring in die Springbok-kamp oor rassekwessies.
Die swart spelers meen dat hulle oor die hoof gesien word vir wedstryde.
SARU is besig om ‘n strategiese transformasieplan in te stel, ingevolge waarvan vyftig persent van nasionale spanne teen 2019 uit swart spelers moet bestaan.
Die beginspan van die Springbokke teen die Poemas het die afgelope naweek slegs twee swart spelers bevat.
Dit is nie duidelik waarom Cosatu hulself met rugby bemoei nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.