praag.co.za

Mandela, die swart god

Written by

in

Trouens, die dagblad Beeld het letterlik op 19 Julie in ‘n hoofartikel geskryf dat “ons daarom (kan) glo dat God deur sy genade rolmodelle soos Nelson Mandela voorsien”. Volgens dié koerant is Nelson Mandela “die gewildste model van menswees vandag”.

Die Katolieke kerk met sy redelik konserwatiewe Duitse pous, sou seker huiwer om die man van Qunu as heilige te verklaar, maar kennelik sal dit nie veel neem om ‘n huidige geslag polities korrekte Afrikaners te oortuig om die Nuwe Testament vir Long Walk to Freedom te versaak en Madiba onbeskaamd te begin aanbid nie.

In die meeste dagblaaie het daar op 18 Julie bylaes verskyn waarin Sy Majesteit Nelson I opgehemel word. Ook op RSG het Van Zyl Slabbert, Koos van der Merwe en ene mnr. Owen Dean, ‘n prokureur van Pretoria, ons vergas op die vername rol wat die Grote Nelson in die geskiedenis gespeel het. Volgens mnr. Dean is die handelsmerk “Nelson Mandela” ewe veel werd as dié van Coca Cola, McDonalds of Sony.

Op ‘n manier kruis wins, publisiteit en politieke korrektheid mekaar om die handelsmerk Nelson Mandela te skep. Enkele jare gelede het ek in ‘n meer filosofiese oomblik gepraat van ‘n soort heidense en goddelike entoesiasme waarmee handelsmerke vandag deurdrenk is. Dit geld ook die politieke handelsmerk van Mandela, die Cocacola-man van die internasionale swart politiek.

In Sandton is daar vir hom ‘n kolossus van brons in die sosiaal-realistiese Sowjetstyl op ‘n plek wat Nelson Mandela Square heet, opgerig. In die pers en op TV word daar na hom verwys as Madiba, ‘n term wat aan sy sibbe ontleen is. Mandela is naamlik ‘n lid van die Madiba-sibbe wat terug te voer is na ‘n Tembu-hoofman van die agtiende eeu met daardie naam wat die Transkei in die agtiende eeu geregeer het.

In weerwil daarvan dat die Transkei en die Ooskaap sedert die 1950s meer hulp en regeringsubsidies as enige ander provinsie ontvang het, bly dit die armste gebied in Suid-Afrika.

Vanwaar dus dié vergoddeliking van iemand wat ons as ‘n doodgewone Xhosa uit die haglike Transkei ervaar? Boonop iemand wat hom maar moeisaam in cliché-Engels uitdruk en wie se grootste twee onderskeidings sy 27 jaar in die tronk en sy leen van ‘n rugbytrui in 1995 is.

Ek kan my goed voorstel dat die gewone Afrikaner daarbuite kwalik dié uitbarsting van gewyde aandag aan die kolossus Mandela begryp. In die tagtigerjare was baie min mense in Suid-Afrika van sy bestaan bewus en indien buitelandse besoekers nie af en toe die pelgrimstog na sy sel op Robbeneiland aangepak het nie, sou die wêreld haas van hom vergeet het.

Hoe het die kolossus Mandela dan, as’t ware uit die niet, ontstaan?

Dis amper asof Hy – en ek is seker Beeld en ander Afrikaanse koerante sou Hom graag verder met hoofletters wou aanbid of vereer – vanuit ‘n wolk op ons neergedaal het. Hy is die swart Moses, die vader van die nasie, die wêreldpresident wat moontlik selfs uit die Verenigde Nasies se gebou in New York kon regeer het. Nie so lank gelede nie, het ‘n internasionale meningsopname trouens bevind dat indien die wêreld se bevolking aan ‘n presidentsverkiesing sou deelneem, Mandela die gewildste keuse sou wees.

Dis asof Mandela – of ‘n duistere mag waarvan hy die Mohammed of die Christus is – die wêreld getoor het. Oënskynlik beskik die swartmense van Afrika oor toorkrag, hoewel ons jare lank daarvoor gelag het. Hoe anders het dié nederige gevangene wat so lank in sy apartheidstronk gely het, ‘n statuur bereik waarna geen leier van ‘n groot moondheid, ‘n George W. Bush, ‘n Angela Merkel, ‘n Sarkozy, ‘n Gordon Brown, ‘n Wladimir Poetin, sou kon aspireer nie?

Eintlik is die proses glad nie so geheimsinnig as wat dit vir sommige mag voorkom nie. Mandela het eenkeer gesê dat sommige terroriste staatshoofde word. Hy en Fidel Castro het heelwat in gemeen, behalwe dat Castro ‘n man van aksie was. Mandela, daarenteen, is meesal passief. Hy is ‘n politieke monnik wat jare lank in sy tronksel gesit het nadat hy op aandrang van ‘n paar wit kommuniste soos Bram Fischer die destydse Suid-Afrikaanse regering van Verwoerd omver probeer werp het.

Verwoerd het tydens Mandela en die ander Rivonia-aangeklaagdes se quijotiese sabotasiekomplot geregeer. Hy het ons land as ‘n Westerse moondheid in Afrika gesien, wat in sy tyd doeltreffend gefunksioneer het, anders as die vervalle en so te sê mislukte derdewêreldstaat wat Suid-Afrika ná Mandela se oorname geword het. Die gedagte dat Mandela en ‘n paar Xhosa-grootpraters en grootdoeners dus in 1962 die staat met sy goed opgeleide polisie- en weermag onder blanke beheer omver sou kon werp sonder die hulp van die destydse Warskouverdraglande byvoorbeeld, was op sy minste komies, indien nie geheel en al absurd nie.

Enkele jare gelede het Sam Nujoma van Namibië gedreig om die herenigde Duitsland militêr te gaan verower en meer onlangs het Robert Mugabe Brittanje as ‘n “klein spikkel” op die wêreldkaart beskryf. Afrikaleiers, weet ons, skroom nie om ydele dreigemente te maak, om katedrale in die oerwoud te bou of om hulself as ‘n nuwe Napoleon, Caesar of Alexander die Grote te kroon nie.

In dié opsig is Mandela, die man van Qunu – ‘n gehuggie in die Transkei waar hy as kind beeste opgepas het – geen uitsondering nie. Hy was die eerste swart prokureur in Johannesburg in die vyftigerjare en het homself daarom as ‘n belangrike man gesien wat verdien het om die magtigste staat in Afrika te regeer. Mandela is afkomstig uit die Transkeise adel, ‘n familie van hoofmanne. Ek kan my voorstel dat daar hordes ander mindere hoofmanne oral in Afrika is wat al in hul grootheidswaan soortgelyke drome gekoester het.

Mandela het my nog altyd herinner aan die held van die Pools-Amerikaanse skrywer Jerzy Kosinski se novelle Being There. Die boek is destyds ook verfilm met Peter Sellars in die hoofrol. Dit gaan om ‘n tuinier wat verstandelik vertraag is, nie kan lees of skryf nie, maar op ‘n dag die tuin waar hy gewerskaf het, moet verlaat. Deur ‘n sameloop van omstandighede word hierdie eenvoudige, ongeletterde man een van die magtigste mense in die VSA en word hy selfs vir die pos van president oorweeg.

Dis presies wat met Mandela gebeur het. Jare lank was dit slegs enkele linkse Westerlinge wat hulle ontferm het oor die grootdoenerige megalomaan wat 27 jaar lank magteloos in sy tronksel gesit het. Mandela het nog nooit oor enige strategiese of intellektuele denke beskik wat hom in staat sou gestel het om sonder Britse of Amerikaanse hulp die mag in die land oor te neem nie.

Hy was bloot die blaar in die wind, die eenvoudige tuinier wat oor die verhoog van die geskiedenis gestrompel en die lotto gewen het. Feit is dat daar na die burgerregtebeweging in die VSA tydens die sestigerjare en veral na die sluipmoord op Martin Luther King ‘n vakuum onstaan het vir een of ander swart leiersfiguur wat deur die liberale Westerse media tot ‘n soort opperhoof van alle Afrikane of alle swartes gekroon kon word. Indien so ‘n persoon boonop ‘n gevangene en ‘n martelaar vir vryheid kon wees, soveel te beter.

Die lottowiel het gedraai en eensklaps was daar Nelson op Robbeneiland. Van die oomblik dat die Britse rocksterre die saak van sy vrylating aangeneem het – wat terloops alles op die aandrang van een man, die Anglikaanse priester Trevor Huddleston, geskied het – het Mandela ‘n metamorfose van vergeetlike Xhosa-megalomaan tot internasionale superster ondergaan.

Die enigste verskil tussen Nelson Mandela en Brad Pitt, afgesiend daarvan dat Pitt ‘n blanke is, is dat Mandela nog nooit ‘n fiktiewe karakter in ‘n film vertolk het nie. Nietemin is hy as liefling van die Westerse liberale media – en dan veral die BBC en die res van die Britse media wat absoluut gaande oor hom is – ewe seer ‘n glanspersoonlikheid as enige groot naam uit Hollywood of die internasionale popmusiekbedryf. Mandela sing nie, hy vertolk nie rolle in films nie, hy skryf nie, hy sê nooit meer as enkele sinne nie, maar hy is verseker van ‘n internasionale gehoor. Hy is sy eie reality show. Duisende joernaliste gaan elke onsinnige sinsnede of gebaar van hom tot vervelens toe analiseer vir die verborge juweel van versoening of verdraagsaamheid wat daarin mag skuil.

Terwyl Mandela gevangenis toe gestuur is omdat hy geweld op ‘n skaal wou pleeg waartoe hy en sy makkers nie in staat was nie, word hy vandag vereer as ‘n man van vrede, wat swart en wit in die land met mekaar wou “versoen”. Die enigste blywende erfenis wat hy ons gelaat het, is die misdaadpandemie wat aan Suid-Afrika die hoogste verkragtingsyfer ter wêreld en die derde hoogste moordsyfer (na Swaziland en Colombia) besorg het. Een van die eerste dinge wat hy as president gedoen het, was om 9 000 geharde misdadigers uit die tronke vry te laat as deel van ‘n presidensiële amnestie.  Hierdie vloedgolf misdadigers het onmiddellik begin om die prekêre stelsel van wet en orde in Suid-Afrika te destabiliseer.

Mandela het al herhaalde kere die mees onredelike aanvalle op die Weste geloods. Hy is ‘n bewonderaar van die  afgetrede Fidel Castro en kolonel Moeammar Kadaffi. Nietemin is alle Europeërs en Noord-Amerikaners gaande oor hom. Vandag oor die radio het een of ander privaatmaatskappy dit goed gedink om ‘n koor van kinderstemme op te neem wat vir hom “Veels geluk, liewe Madiba” in Afrikaans sing en oor RSG as deel van ‘n advertensie uitgesaai is. Blykbaar was daar klagtes van die Afrikaanse luisters van RSG, maar die omroeper het vanmore gesê dat almal vandag vir Mandela ophemel en daarom gaan “ons nie daarvan wegkom nie”.

Mandela kan ook as ‘n soort “kokosneut” in die Suid-Afrikaanse sin gesien word. Swartes noem ander swartes wat te veel soos blankes optree of blanke waardes aanneem kokosneute, as sou hulle “swart van buite maar wit van binne” wees. In ‘n sekere sin is Mandela ‘n uitvloeisel van die blanke verbeelding, veral die blanke liberale verbeelding.

Nuus uit Afrika is gewoonlik sleg. Daar is oorloë, hongersnood, korrupsie, vigs, armoede en droogtes in die Sahel. Die meeste presidente en diktators van Afrikalande leef in weelde terwyl hul volgelinge krepeer. Die Westerling word gekonfronteer met die Afrikawerklikheid wat hy nie kan of wil verstaan nie. Sy gewete smeek om een of ander uitsondering, een of ander bewys dat die teendeel ook waar kan wees, dat daar ten minste een goeie leier in Afrika kan wees.

Dit mag wreed klink, maar die tronk het Mandela op meer as een manier beskerm. Nie net het dit hom teen die Bisantynse magstryde binne ‘n organisasie soos die ANC, deels terroristegroep, deels regering-in-ballingskap wat jare lank deur veral Swede gefinansier is, beskerm nie, maar dit het hom ook teen homself gevrywaar. Daar is nie ‘n enkele ANC-leier wat nie op een of ander manier korrup is nie; dis eenvoudig deel van die kultuur. In die gevangenis kon Mandela nie soos sy mede-ANC-leiers die veelbesproke Sweedse fondse vir homself toeëien of soos Allan Boesak Deense kerkgeld verduister nie.

Soos die hoofkarakter Chance in Kosinski se novelle, word hy deur sy onskuld in ‘n verdorwe wêreld gekenmerk. Hy het die tronk na 27 jaar as ‘n onskuldige man verlaat. ‘n Onskuldige swartman wat boonop teen daardie tyd wêreldberoemd was. Kon die wêreld so ‘n godgegewe geskenk miskyk? Natuurlik nie. Ook Mandela se ouderdom het in sy guns getel. Hy kon net een termyn as president dien en toe is hy deur Thabo Mbeki opgevolg wat deesdae omtrent so gewild in die plaaslike en internasionale media soos Robert Mugabe is.

Hoe sou Mandela die Zimbabwe-krisis gehanteer het? Sekerlik nie anders as Thabo Mbeki nie, wat eenvoudig al agt jaar lank besluiteloos met “stille diplomasie” voortploeter. Maar Mandela was nie lank genoeg president om enigiets te gedoen het nie, of selfs lank genoeg vir mense om agter te kom dat hy so te sê niks gedoen het nie. Ironies het Koos van der Merwe, Suid-Afrika se langs dienende parlementslid, in sy hulde aan Mandela vermeld dat “hy hom nie veel met staatsake bemoei het nie; hy was eerder ‘n soort vaderfiguur, die groor versoener”.

Indien Mandela jonger was, sou hy ‘n tweede termyn as staatspresident kon gedien het en uiteindelik soos die gediskrediteerde, ongewilde en toenemend geïsoleerde Thabo Mbeki geëindig het.

Behalwe natuurlik om 9 000 moordenaars, verkragters en rowers op ons los te laat. Ook hierin het hy ‘n bladsy uit Fidel Castro se boek geneem. Toe Fidel deur die VSA gekritiseer is oor menseregte in Kuba, het hy eenvoudig al die gemeneregmisdadigers uit sy tronke vrygelaat en Miami toe gestuur. Nie net het hy van ongewenstes ontslae geraak nie, maar hy het ook vir sy grootste vyand ‘n enorme probleem op sy grondgebied geskep. Die misdadigers wat Mandela kwytgeskeld het, het waarskynlik meer as ‘n miljoen blankes uit vrees vir misdaad die land laat verlaat.

Dog op ‘n sekere vlak is Mandela reeds bokant alle kritiek verhewe. Mens kan feitlik enigeen kritiseer: politici, natuurlik, bekendes en gewone mense, selfs die Pous wat God se verteenwoordiger op aarde is. Die Deense spotprenttekenaars het met Mohammed die draak gesteek en ‘n internasionale herrie ontketen. Maar om Mandela by te kom, is werklik heiligskennis. Ek is waarskynlik die enigste rubriekskrywer in Suid-Afrika en in die wêreld wat op die Groot Man se negentigste verjaardag geen klakkelose hagiografie skryf nie.

Daar bestaan aanhoudende gerugte oor Mandela se stigtings wat nie behoorlik geoudit word nie. Hoe kan iemand wat net vyf jaar president van Suid-Afrika was en op daardie stadium minder as ‘n miljoen rand per jaar verdien het, sedertdien die lewenstyl van Tom Cruise of Tiger Woods handhaaf? Hy besit verskeie wonings in die duurste buurte in Johannesburg en onderhou kinders en kleinkinders, ‘n uitgebreide familie van 28. Waar kom sy ooglopende rykdom vandaan? Net om dié vraag te vra, oortree die ongeskrewe reël dat niemand veronderstel is om Mandela se integriteit te bevraagteken nie.

Die Mandela-kultus is egter ‘n ongeluk van die wêreldgeskiedenis en het niks met die eienskappe van die man self te make nie. Soos wat die ou Sowjetunie aan ons die heropvoedingskamp en proletariese wetenskap gegee het, het die VSA aan ons regstellende aksie en die ideologie van swart lyding oorgedra. Daar was ook Jimmy Carter wat vir Andrew Young in 1977 as Amerikaanse ambassadeur by die VN aangestel het. Young het ‘n groot rol gespeel om Robert Mugabe president van Zimbabwe te laat word. Hy het ook gesê dat Kubaanse troepe in Angola stabiliteit aan daardie land verleen.

Binne hierdie internasionale konteks het Mandela ‘n mite geword, die selflose swart leier wat bereid was om tot die dood toe vir sy mense se vryheid te stry. Die opkoms van swart mag vanaf die laat vyftigerjare in die VSA was iets nuuts in die wêreld. So ook die onafhanklikwording van die Afrikastate. Toe Zambië deur die Britte onafhanklik verklaar is, het die land iets soos sewentien gegradueerdes gehad. Afrika-onafhanklikheid was ‘n staatkundige eksperiment en is dit miskien nog steeds. Hoe meer die postkoloniale Afrikastate misluk het, hoe groter was die versugtiging na ‘n swart leier met net ‘n greintjie geloofwaardigheid.

Obama se gewildheid in Amerika kan aan dieselfde logika toegeskryf word. Ons het voorbeelde van swart sukses en integriteit nodig omdat ons elke dag swart mislukking en oneerlikheid, veral in Afrika, moet ervaar. Obama en Mandela is die antiteses van Robert Mugabe, Charles Taylor en die ander berugte voorbeelde van swart leierskap wat van Afrika “die hopelose kontinent” gemaak het, soos die Britse Economist eens daarna verwys het.

Daar is egter ook ‘n ander manier om die vergoddeliking van Madiba, oftewel Mandela, te begryp. Die Westerse kultuur oorheers eenvoudig nie meer in die wêreld nie. Tydens hul kommunistiese fase het Oos-Europese lande dikwels ook ‘n sogenaamde “persoonlikheidskultus” rondom hul leier gevoer. Dog gelykheid is so ‘n basiese norm in die Weste dat blankes nie in staat is om aan een van hulle politieke helde goddelike status toe te ken nie.

Sowel ou Griekeland as republikeinse Rome het ‘n vorm van demokrasie beoefen. Enige burger van Athene kon ‘n politieke amp beklee. Na die Romeinse konsul van republikeinse Rome is verwys as “die eerste tussen gelykes”. Ten tye van Darius en Xerxes se invalle in Griekeland in die vierde eeu voor Christus, het beide Persiese leiers goddelike status gehad. Sedertdien staan die buitensporige verering en goddelike status wat aan keisers in die Midde-Ooste en Verre Ooste verleen word in die Weste bekend as “oriëntalisme”.

Een van die beste voorbeelde in die moderne tyd van die kontras tussen Westerse en Afrikaleierskap is aan my vertel deur ‘n voormalige werknemer van die Suid-Afrikaanse ambassade in Den Haag. In die vroeë negentigerjare het die destydse eerste minister, Ruud Lubbers, vir ‘n visum aansoek gedoen om Suid-Afrika te besoek. Tot die verbasing van die ambassadepersoneel het Lubbers op sy fiets aangery gekom en saam met die gewone mense in die tou gestaan. Nadat hy sy paspoort afgehaal het, het Lubbers weer doodluiters op sy fiets geklim en weggery.

Geen Afrikaleier sal ooit gesien word dat hy met ‘n fiets ry nie. As Robert Mugabe se vloot swart Mercedesse met sy lyfwagte en handlangers iewers met loeiende sirenes heen ry, moet die res van die padgebruikers aftrek om die Groot Man verby te laat. Ook in Suid-Afrika kan mens gereeld op die snelweg tussen Pretoria en Johannesburg swart politici sien jaag in ‘n ry swart Mercedesse of BMW’s terwyl die gewone man vir hulle moet padgee.

Afrika mag verhonger en militêr swak wees, maar deur figure soos Mandela en moontlik Obama is die kontinent besig om die Westerse siening van leierskap radikaal te beïnvloed. Mandela is die grootste opperhoof van alle tye wat die indaba onder ‘n boom of om die kampvuur via die televisie – daardie kampvuurtjie in elke sitkamer soos die Franse filosoof Jean Baudrillard dit in sy boek oor Amerika beskryf het – globaal uitgebrei het. Die Oosterse vergoddeliking van keisers het via die dekadente Westerse media oorgegaan in die gedweep met die swart hoofman. As erfgenaam van die Madiba-sibbe, is Mandela draer van die hoofmankultus in Afrika en beklee hy sy posisie te danke aan die voorvaders wat oor hom waak.

Die galapartytjie en rockkonsert wat in Londen se Hydepark gehou is en wat deur die Clintons, Naomi Campbell, Will Smith, Tony en Cherie Blair, asook ‘n horde Britse en Amerikaanse groepe en sangers bygewoon is, verteenwoordig die Afrikafees wat in sy hedonistiese heerlikheid oplaas die hart van die eertydse Britse Ryk verower het.

Daardie juigende jongmense by die 46664-konsert ter ere van Mandela in Londen het vir ons net een boodskap gehad: ons hang ons goddelike hoofman aan.

поворотные линейные светодиодные светильникиФильчаков прокурор

Comments

Leave a Reply